“Dit gaan goed met die mens wat….” So begin die eerste Psalm. Wanneer gaan dit werklik goed met jou? Meeste mense dink dat dit baie goed gaan wanneer jou finansies klopdisselboom is en jy meer geld het as wat jy nodig het. Of dalk as jou gesondheid perfek is, of as jy sonder probleme is.
Die psalmdigter sien die saak in ‘n totaal ander lig. Hy beweer dat dit rêrig goed gaan wanneer jy jou vreugde in die Woord van die Here vind. Dan is jy soos ‘n boom langs ‘n waterstroom!
Psalm 1 skilder die verskil tussen twee groepe mense, die gelowiges en die goddeloses, oftewel ongelowiges. En terloops, daar is nie ‘n goue middeweg nie. Dit is gans onmoontlik om neutraal te wees. Óf jy glo, óf jy glo nie!
Hy begin met die verskil in lewenswyse tussen die twee groepe. Aan die een kant verbind die gelowige hom volledig aan die Woord van God. Dááruit kry hy sy inspirasie. Die groot geheim is dat hy nie sy ore moet uitleen aan die ligsinnige praatjies van die ongelowiges nie.
Die sosiale media is ‘n wonderlike werktuig in die hande van ‘n gelowige om die Evangelie te versprei. Kyk maar net byvoorbeeld hoe dit hierdie dagstukkies die wye wêreld instuur! Maar dit kan soms ook maar ‘n groot euwel wees in die hande van ongelowiges. ‘n Voorbeeld is hoe mense dit gebruik, of eerder misbruik om vals nuus die wêreld in te stuur. Of berigte wat uiters negatief is. En ál te dikwels gryp gelowiges hierdie einste berigte aan, en help die bose deur dit verder te versprei, sonder om hulleself eers te vergewis van die waarheid.
Ek wil vandag ‘n pleidooi rig: maak eers dóódseker of die berig wat jy so mildelik aanstuur, die waarheid is of nie, al lyk hy soms so eg. Oom Google sal jou baie gou vertel of dit waar is of nie! En as jy werklik nie weet nie, bied ek aan om vir jou te kyk of dit eg is. Psalm 1 pleit óók by jou om nie die raad van goddeloses te volg nie (vers 1).
Vergeet van die “raad van sondaars” en ligsinnige praatjies, en wees ‘n boom wat baie vrugte dra!
Psalm 1 verduidelik tweedens ook in ‘n verskil van lewensmoontlikhede.
Wanneer jy deur die Vrystaat ry, is dit so opvalled dat dit dikwels maar vaal en kaal is, maar dan kronkel daar iewers ‘n waterstroompie. En oral op die walle van die watertjie groei die weligste groen wilgerbome met hulle lang, slap takke wat oor die oppervlak van die stroompie vee.
In die omgewing van die Oranjerivier is die kontras nog veel groter. Deur die middel van die dorre, onherbergsame woestyn, sny hierdie lewegewende watermassa. Sy oewers is omsoom met diepgroen, welige plantegroei waar voëls en ander diere floreer. En dáár plant die boere vrugtebome wat die “land van melk en heuning” na ‘n dor woestyn laat lyk! Bome wat kreun onder die vragte stroopsoet vrugte.
Op die plaas waar ek grootgeraak het by Waterval Boven, het daar ‘n stroompie helder, soet fonteinwater gevloei. Langs die stroompie het Oupa ‘n vrugteboord aangelê met ‘n groot verskeidenheid vrugte, stroopsoet vye, watertand geelperskes, appels, pere, witperskes, katowadruiwe, appelkose, pruime en nog baie ander. Ek en my skoolmaats het ons trommeldik gëeet aan hierdie lekkerte, en dan het daar nog oorgenoeg oorgebly vir die grootmense én selfs die muisvoëls!
Dit is hoe gelowiges vrugte behoort te dra! Jy is veranker in jou Lewensbron, die “Lewende Waterstroom” waarvan Jesus die vrou by die put vertel het.
Ongelowiges is egter “soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word” (vers 4). Natuurlik is kaf ook plantmateriaal, nés bome, maar die verskil is dat ‘n boom ‘n lewende organisme is, en kaf is dood, morsdood! Dit is bloot die afval wat oorbly nadat koring gedors is.
Daar is egter ook ‘n derde verskil tussen die gelowige en ongelowige, die verskil in lewenseinde.
Waarheen lei die paadjie van die ongelowige? Ag, so dikwels beny die gelowige die ouens wat sonder God lewe, maar op die oog af floreer. Hulle bly in die spoggerigste huise en ry die blinkste karre. En ons? Dikwels moet ons sukkel om kop bo water te hou!
Daar kom ‘n oordeelsdag! Dié dag wanneer ons almal voor die Groot Regter sal staan. Dit is die dag wanneer die ware lewe eers begin. En dit duur ‘n volle ewigheid. Dan sal die gelowiges lag oor die ou bietjie swaarkry wat ons moes deurgaan tydens ons kort lewetjie op aarde, want die res van ons lewens lê voor in die hemel saam met God.
En die ongelowiges? “Die pad van die goddeloses lei tot ondergang,” skryf die Psalmdigter. Ons kan maar net raai hoe daardie “ondergang” gaan lyk. Maar één ding is seker, dáár wil ek nie wees nie!
Gebed:
Dankie dat U my geloof gegee het, Here. Ek wil soos ‘n goeie boom langs ‘n waterstroom wees wat sappige vrugte dra. Help my asseblief daartoe.