Lukas 13:22-30
Daar is ‘n vurige debat by die braaivleisvuur. Dis die manne met die lang biere teen die hardehouters in ‘n warm gesprek oor godsdiens-sake. “Ek sê julle nou, dis nie regverdig nie! Hoekom is die Here so onregverdig? Die dominee preek annerdag en hy wys die vinger hier tussen ons in. Toe wil hy vertel dat daar net ‘n paar uitgesoekte mense verby ou Petrus gaan kom in die hemelpoorte in!”
“Nee wat, daai dominee weet beslis nie waarvan hy praat nie! Ek glo dat ALLE gelowiges in die hemel gaan kom. Jy moet net glo! Of dit nou Buddah of Rama of wátter god ookal, solank jy net in ‘n god glo!”
Is God onregverdig? Of kom alle gelowiges in die hemel, maak nie saak hoe hulle glo nie?
Op Jesus se reis na Jerusalem het Hy by elke dorpie aangegaan om mense te leer. Onthou, Sy teregstelling was net om die draai en Hy het presies geweet wat op Hom gewag het. As dit ek was, het ek iewers op ‘n hopie gaan sit en huil, maar Jesus het elke oomblik van die tyd gebruik om die Evangelie te verkondig sodat soveel mense as moontlik die boodskap van verlossing sou kon beleef.
Die blye boodskap is nie iets wat eksklusief is vir ‘n paar mense in die kerk nie, dit is bedoel vir die ganse wêreld. Elke gelowige moet ook, net soos Jesus destyds, ‘n dringendheid in sy lewe hê om tydig en ontydig hierdie boodskap te verkondig en uit te leef. Dit moet amper by jou ‘n obsessie wees!
Iemand vra vir Jesus of daar maar min mense is wat gered sal word. Dalk het die man gehoop dat Jesus sou sê dat as jy ‘n Jood is, dan het jy outomaties jou kaartjie hemel toe. “Nie so maklik nie!” sê Jesus. Hy verduidelik dat baie mense baie hard sal probeer om die saligheid te kry, maar dat hulle dit net eenvoudig nie gaan regkry nie.
“Maar dis mos onregverdig! Is dit nie?”
Nee, dis beslis nie onregverdig nie! God het sekere voorwaardes gestel vir toegang tot die saligheid, en as jy nie daardie voorwaardes nakom nie, is jy beslis uitgesluit. Sy voorwaardes is uiters eenvoudig en maklik. Waarom is dit dan vir so baie mense so verskriklik moeilik om dit na te kom?
Ek het ‘n ellelange lys van briefies van mense wat my gevra het hoe ‘n mens ‘n Christen kan word. Ek het al tot vervelens toe die eenvoudige weg na Jesus aan mense verduidelik. Meeste van hulle het nooit eers terug geantwoord nie. Slegs ‘n klein handjievol het vir my geskryf en opgewonde vertel dat hulle nou kinders van die Here is!
Maar ek sal aanhou en aanhou en aanhou om die boodskap van verlossing te stuur solank as wat dit binne my mag is! Jesus wil nie hê dat een enkele siel verlore gaan nie, en ek ook nie!
Op die vraag wat die man vir Jesus gevra het, het Hy geantwoord dat baie mense aan die deur gaan klop, maar dat hulle weggewys gaan word. Die groot probleem is dat mense op hulle eie voorwaardes en hulle eie metodes die saligheid wil verwerf. ‘n Mens se beste pogings is net eenvoudig nie goed genoeg vir God se standaarde wat Hy stel nie. Sy standaard vir iemand om in die hemel te kom is dat jy sondeloos moet wees. Wys my die mens wat absoluut sondeloos is! Selfs die grootste van die pilare in die geloof, kom soms tot ‘n struikeling, en val partymaal sommer báie hard! Sommige mense gaan sommer baie ver om hulle paadjie hemel toe oop te veg. Sommige pynig hulleself deur hulle met swepe te laat slaan of selfs te laat kruisig. Party seil kilometers ver op ‘n rougeskaafde, bebloede maag na die een of ander tempel om só hulle toewyding te wys. Alles is verniet! Dit bring jou nêrens! Die poorte van die hemel sal steeds toe wees.
“Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande,” sê Jesus wanneer Hy vertel hoedat talle mense weggejaag sal word.
Is God dan onregverdig?
Net in die volgende sinnetjie sê Jesus: “Mense sal uit die ooste en die weste, die noorde en die suide kom aanleun om te eet in die koninkryk van God.” Wie is hulle? Uitgesoektes? Bevoorregtes? Voorgetrektes? In Joh. 3:16 sê Jesus dat God die ewige lewe gee aan elkeen wat in Sy Seun, Jesus glo. Punt! Twee versies verder beklemtoon Hy dit: “Wie in Hom glo word nie veroordeel nie.”
Kom ek verduidelik: God se voorwaarde van absolute sondeloosheid vir toegang tot die hemel kan alleen tot reg kom in Jesus wat alrééds die volle prys betaal het en die skuld van ons sondes álles op Hóm geneem het! Geloof in Jesus is dus uiteindelik die enigste voorwaarde om toegang tot die hemel te kry. Natuurlik beteken hierdie geloof nie net dat jy glo aan Sy bestaan nie. Die duiwel glo dit ook! Geloof in hierdie sin beteken egter ‘n lewende verhouding met Jesus. Dit beteken dat jy jou volle vertroue onvoorwaardelik op Hom alleen plaas. In enige verhouding is daar respek, liefde, dankbaarheid en diens en dit behoort ‘n integrale deel van jou verhouding met Jesus ook te wees. As dit nie is nie, dan betwyfel ek jou geloof ten sterkste! Net soos in ‘n liefdesverhouding waar jy jou maat bo alles stel en vir hom of haar enigiets sal doen, so behoort my verhouding met Jesus te wees. Alleen dán kan ek praat van ware geloof!
Gebed:
O Heer, my verhouding met U laat soveel te wense oor. Help my om my liefdesverhouding met U ten volle uit te leef!