Is Daar Rêrag ‘n Opstanding?

25 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is Daar Rêrag ‘n Opstanding?

Matteus 22:23-33

Die briljante wetenskaplike, Steven Hawking het eenmaal gesê dat die mens soos 'n rekenaar is. As jy die kragprop uittrek, dan is hy morsdood! Daar is nie lewe na die dood nie......

Vir die kerkleiers raak die tyd bitter min, en al wat ‘n Skrifgeleerde is probeer om Jesus op die een of ander wyse uit te lok sodat hulle Hom kan vastrek en iets konkreet teen Hom inbring. Die een of ander tyd moes Hy tog die verkeerde ding sê. Die volksleiers was radeloos! So pas is die Fariseërs die mond gesnoer, want die antwoord wat hulle op hulle “perfekte” strikvraag gekry het, het hulle sprakeloos gelaat. Nou kom die Sadduseërs aan die beurt, en hulle glo dat hulle ‘n vraag het wat Jesus net eenvoudig nie kan antwoord nie. Hulle sit natuurlik gladnie om dieselfde vuur as die Fariseërs nie, maar hulle is bereid om hierdie slag selfs hulle verskille te vergeet vir die groot saak.

Waar die Fariseërs ‘n oordrewe waarde aan die onderhouding van die wet in hulle lewe toegepas het, was die Sadduseërs presies die teenoorgestelde. Hulle het wel die Wet van Moses aanvaar, maar die res van die Skrif was vir hulle van minder belang. Wêreldsgesinde kultuurmense was hulle, en die Griekse beskawing het swaar by hulle geweeg. Engele, geeste en die opstanding was nie eers deel van hulle woordeskat nie, en hulle het dus ‘n soort fatalisme verkondig, en daarmee saam vryheid van die menslike wil. Klink dit dalk bekend in vandag se tye?

Wanneer hierdie klomp dus vir Jesus peper met ‘n absurde vraag, doen hulle dit tong-in-die-kies, net om te probeer bewys hoe belaglik die gedagte aan die opstanding is. Dit is ‘n “waterdigte” toetssaak: as ‘n vrou sewe maal agtereenvolgens getroud is met sewe broers, wie se vrou sal sy in die hiernamaals wees? Die idee van die swaershuwelik was, dat as ‘n man sonder kinders (dis nou seuns) sou sterf, dat sy broer sy vrou moes neem sodat sy naam darem kon voortleef. Die opstandingsgedagte was nie so prominent in die Ou Testamentiese tyd nie, en baie mense het geglo dat jy deur jou nageslag voortleef. Met hierdie vraag wou die Sadduseërs eens en vir altyd bewys hoe belaglik die hele opstandingsgedagte is. As daar ‘n opstanding is, sal daardie vrou mos met sewe mans gelyk getroud wees, en volgens die Wet van Moses is dit ondenkbaar! Inderdaad het hulle die Fariseërs uitgeboul met hierdie vraag, maar met Jesus het hulle hulle Moses teëgekom!

Jesus se antwoord fokus op twee dinge: eerstens ‘n ware Skrifkennis. Nie die Sadduseërs nie, en ook nie die Fariseërs, het werklik die Skrif verstaan nie! Tweedens wys Jesus hulle op die krag van God. Jesus verduidelik vir hulle, met ‘n aanhaling uit Eksodus 3:6, dat God nie ‘n God van dooies is nie, maar lewendes. As Hy van Abraham, Isak en Jakob praat, dan is hulle nie alleen lang-afgestorwe voorvaders nie, maar lewende, opgestane burgers van God se Koninkryk. Verder moet ons nie die gebondenheid van aardse standaarde probeer toepas op die lewe anderkant die dood nie. Wanneer jy deur daardie poort gaan, word alles totaal nuutgemaak, en beleef jy ‘n lewe wat radikaal verskil van dit waaraan jy gewoond is. Daar geld ander norme as hier op aarde.

Die opstanding is alleen ‘n probleem vir diegene wat klein oor God dink. God hou Hom nie met die dood op nie! Hy is nie (met permissie gesê) ‘n “begrafnisondernemer” nie. God is in die “lewe-bedryf”! Ons kan so dodelik realisties wees (soos die Sadduseërs) dat die wonder van die lewe totaal by ons verbygaan. Die realis sê dat dit ‘n feit is dat ons almal die een of ander tyd gaan doodgaan. Die ware realiteit is egter dat die dood ‘n poort is na die ware en oorvloedige ewige lewe. As jy God regtig ken, sal jy verséker weet dat dit die toppunt van realisme is om te glo aan die opstanding uit die dood. Hoe presies die lewe daar anderkant lyk, is ‘n wonderlike verrassing. Wanneer die deur na die hemelpoorte op ‘n skrefie oopgemaak word, sien ons ‘n asemrowende lewe van vrede en reinheid en volmaaktheid.

Gaan almal hierdie nuwe lewe smaak? Ongelukkig nie! Alleen hulle wat reeds hier op aarde bereid is om Jesus se verlossingsdaad te aanvaar, sal lewe. Hoe doen jy dit? Eenvoudig: deur “JA” te sê vir die geskenk van die ewige lewe wat Jesus jou aanbied. Wanneer jy vir Jesus “JA” sê, tree jy in 'n lewende verhouding met Hom. Dan voldoen jy aan AL die vereistes wat God stel. Wat gebeur met jou as jy egter NIE aan God se vereistes voldoen nie? Ook daaroor is daar 'n groot sluier gehang, maar die poort van die dood lei vir sulke mense na 'n plek wat deur Jesus self beskryf is as afskuwelik. Dit is 'n plek van ewige pyn en ellende, 'n plek vir ewig weg van God af.

Die keuse is joune - wat sal dit wees? Jesus en Lewe, of die ewige verderf. Het jy al die regte keuse gemaak?

Gebed:

Dankie Here Jesus dat ek vandag met sekerheid kan weet dat die wonderlike, oorvloedige, asemrowende mooi ewige lewe vir my wag. Gee my asseblief die ywer om elke dag kandidate te werf om ook in daardie wonderlike vooruitsig te kan leef. Gee asseblief vir diegene wat vandag hierdie skrywe lees, en nog nie deel van U Koninkryk is nie, die begeerte en die moed om ook die regte keuse te maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026