Intimidasie

30 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Intimidasie

Johannes 9:13-34

VIDEO * OUDIO

Die sage van die blinde man wat Jesus genees het, het nie geëindig met sy genesing nie, dit was maar net die begin. ‘n Feit wat nie voorheen aan ons vermeld was nie, is dat hierdie hele episode op ‘n Sabbatdag plaasgevind het. Die Jode het soos ‘n spul aasvoëls sit en wag vir Jesus om die een of ander van Moses se wette te oortree, maar dit het net eenvoudig nie gebeur nie. En hier val die “oortreding” as’t ware in hulle skote!

Die Fariseërs het geweldig baie gemaak van die Sabbat. Hierdie wet was as’t ware uitgelig bo al die ander. Hulle was so bang dat iemand dalk per ongeluk die Sabbatswet sou oortree, dat hulle ‘n hele klomp bywette gemaak het om te beskryf wat alles nie op ‘n Sabbat gedoen mag word nie. Sommige van hierdie wette is werklik komies en ‘n bespotting van die Fariseërs se intelligensie. In kort het die wet vir hulle baie swaarder begin weeg as God, die Een wat die wet ingestel het! Hulle het ook nie tred gehou met die ware betekenis van die wet nie.

Toe die Fariseërs dus verneem het dat Jesus hierdie man op ‘n Sabbat genees het, het hulle op die arme man toegesak, want nou was hy hulle getuie nommer een! Hy was oor en oor ondervra totdat hy naderhand moedeloos geraak het met hierdie spul wat maar net nie kon verstaan wat met hom gebeur het nie. Dat die man wonderbaarlik genees was, het nie vir hulle saakgemaak nie. Dat hy nou vir die eerste keer in sy lewe kon sien, het vir hulle gladnie getel nie. Al wat vir hulle saakgemaak het, was die wet, en hoe om Jesus vas te trek. Oor en oor het hulle hom geïntimideer. Hulle kan net eenvoudig nie aanvaar dat hierdie ‘n wonderwerk kon wees nie. “Wat sê jy van Hom?” het hulle hom in ‘n hoek probeer druk. Hulle wou weet Wie presies Jesus vir hierdie man was? Dalk weerklink dieselfde vraag vanoggend in jóú ore: Wie is Jesus vir jóú?

In skrille kontras hiermee, sien ons die man se getuienis oor Jesus: Vir hom was Jesus ‘n Profeet, ‘n Boodskapper, ‘n Bemiddelaar van God. Hy het oorgeloop van lof teenoor Jesus: “Hoe kan iemand wat ‘n sondaar is sulke wondertekens doen?” het hy moedeloos die vraag voor die geleerde manne gegooi (vers 17). Hierdie vraag het hulle kaarte totaal deurmekaargekrap en tussen die lyne deur lees ons dat hulle onder mekaar gestry het hieroor.

Toe hulle niks van waarde uit die man gewurg kon kry nie, het hulle na sy ouers gedraai. Hulle was egter te bang om enigiets te sê, buiten dat hulle seun blind was van geboorte af en dat hy nou kon sien. As hulle sou sê wat in hulle harte was, dat Jesus die Christus was, dan sou dit klaarpraat wees met hulle. Hulle het baie goed geweet dat hulle uit die sinagoge geban sou word. Dit sou beteken dat alle sosiale bande met die gemeenskap geknip sou word. Hulle sou vreemdelinge word in hulle eie dorp. Hulle durf dus niks sê nie, daarom is hulle kommentaar: “Vra hom self - hy is oud genoeg.”

‘n Tweede keer word die man nader getrek en gepeper met vrae, totdat hy naderhand vir hulle sê: “Ek het mos al vertel, en julle het nie geluister nie. Wil julle dalk ook Sy dissipels word?” Dit het hulle briesend gemaak, toe haal hulle die groot kanon uit: Moses! Hulle was dissipels van Moses, en Moses het immers met God gepraat.

Hoe ironies, in ‘n vorige dagstukkie het ons gesien dat dit Jesus Sélf was wat aan Moses verskyn het in Eksodus 3. Dit was Hý wat vir Moses die opdrag gegee het om die volk uit te lei. Ons kan ook met sekerheid aanneem dat dit Jesus was wat met Moses gepraat het op die berg Sinai en die Wet vir hom gegee het (Eks 19 en 20). Dit was ook Jesus wat gereeld by talle geleenthede met Moses gepraat het in die tent van samekoms. Moses het in diepe nederigheid selfs sy skoene uitgetrek toe hy die eerste keer vir Jesus ontmoet het. Hy het in aanbidding en groot respek met Jesus gepraat. Vir Moses was Jesus absoluut alles in die lewe, en het hy Hom as God herken en erken.

In teenstelling hiermee was Moses en die wet vir die Fariseërs alles en het hulle die God van Moses om die lewe probeer bring. Hulle wou Hom net eenvoudig nie herken of erken nie.

Aan die ander kant sien ons hoedat die man wat blind was ontluik het van iemand wat te bang is om te praat tot iemand wat uitgeproke was en Jesus verdedig het. Die Fariseërs het hom eintlik ‘n groot guns gedoen, want voor ons oë het hy ontpop en vreesloos het hy Jesus erken as ‘n Man wat van God af is. Vreesloos, want vir hom sou daar ‘n verskriklike straf wag, om uit die sinagoge en dus uit die totale samelewing geban te word oor sy standpunt. Ja, hy het nog nie mooi verstaan waaroor dit gegaan het nie, maar hy het besef dat Jesus baie spesiaal was en dat hy daarom aan hom moes vasklou. Die ergste hét gebeur en hy wórd uitgeban! Maar ook die feit dat hy nie verstaan het nie, sou verander as Jesus later aan hom sou verduidelik Wie Hy werklik was.

Die vraag is vanoggend: Hoeveel beteken Jesus vir my? Soveel so dat ek alles oorboord sou gooi om Hom te volg? Soveel so dat ek selfs bereid is om my status en vriende prys te gee?

Gebed:

Here Jesus, U is alles in my lewe. Ek aanbid U want U is die Koning van konings. Hou my asseblief staande as ek gekonfronteer word.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026