Inleiding
Hoe seker is jy dat jou saak met God reg is? As jy vandag voor die hemelpoorte te staan sou kom, is jy doodseker dat jy binnegelaat sal word? Kan ‘n mens óóit seker wees dat jy in die hemel kan kom? Is dit nie alleen God se besluit of jy die hemel sal haal of nie? Dalk, as ek my deeltjie baie goed doen, sal die Here my daar toelaat - as ek só lewe dat die Here tevrede is met my!
Hierdie mag dalk vir jou na ‘n simpel vraag klink, maar vir baie mense is dit ‘n reuse kwelvraag. Dikwels is dit selfs vir gelowiges ‘n vraag waarmee hulle vir jare lank worstel.
As jy vanoggend enigeen van hierdie gedagtes of vrae in jou hart ronddra, dan het ek vir jou wónderlike nuus: Galasiërs het die antwoord op elkeen van hierdie vrae! Paulus skryf in hierdie pragtige brief dat dit nie nodig is dat ek eers my kant moet bring voordat God na my kyk nie. Dit is nie nodig dat ek éérs ‘n klomp reëls volg en my verhouding met God regkry voordat Hy my gunstig oorweeg vir ‘n plekkie in Sy Koninkryk nie. Jy hoef nie jou verlossing te verdien nie. Niémand kan dit verdien nie! God gee dit gratis, vry en verniet omdat Hy dit wíl gee. Uit genade! Jesus het reeds alles betaal - die volle prys - en God vra slegs dat ek in Jesus glo om dit alles te kry.
Maar sou dit dan nou beteken dat ‘n mens maar kan doen net wat jy wil, solank jy maar net glo? Iemand was eenmaal hewig ontsteld toe ek skryf dat dit jou niks help om die wet te onderhou nie. “Maar dis lekker!” het die persoon ontsteld gevra, “want dan kan ek mos maar moor en steel en doen wat ek wil?” Nee, dit is beslis nie wat Paulus bedoel nie. Al wat hy sê is dat ons nie nodig het om krampagtig God se guns te probeer wen vir ons saligheid nie, God géé dit vir ons!
Wanneer ons dit egter gekry het, gebeur daar ‘n wonderlike ding: God gee nie alleen vir ons die saligheid nie, maar Hy gee ook die Heilige Gees wat in elke gelowige se hart kom leef. Die Heilige Gees lei jou dan om ‘n lewe te leef wat pas by dié van ‘n verloste Koninkryksburger. Ek het natuurlik ‘n keuse of ek gaan luister na wat die Heilige Gees vir my sê, en dié besluit is steeds myne of ek ‘n sukses gaan maak van my nuwe lewe, of ‘n gemors. Die boodskap van die Galasiërsbrief kan ‘n reuse verskil aan jou lewe maak. Kom geniet dit saam met my!
Hierdie brief is natuurlik, soos jy seker reeds agtergekom het, deur niemand anders as die groot sendeling, Paulus geskryf, en hy rig dit oorspronklik aan die Christelike gemeentes in Galasië. Hierdie gemeentes het tot stand gekom as gevolg van Paulus se eie sendingwerk, en terwyl hy elders alweer besig was om die Evangelie te verkondig, kry hy die ontstellende nuus dat daar mense was wat besig was om dwaalleringe te verkondig in Galasië. Hulle was besig om al sy harde werk daar tot niet te maak met hulle skewe leerstellings.
Ons kan aanneem dat hierdie mense Joodse Christene was wat uit Jerusalem gekom het, en steeds vasgeklou het aan die ou Joodse wette, en dat hulle vir die mense in Galasië probeer wysmaak het dat Jesus alleen nie genoeg is vir jou saligheid nie. Nee, jy moet eers hierdie wette en daardie rituele nakom, en sus en só doen voordat jy kan deel wees van God se volk. Die arme mense moes hulle eers laat besny en hulle moes die Joodse almanak met al sy feesdae en fieterjasies stiptelik nakom om enigsins in aanmerking te kom vir die saligheid.
Hierdie was slegte nuus vir Paulus, want hy het verneem dat die gemeente al klaar besig was om hierdie verdraaide leerstellings te aanvaar, want dit was mos nou regte, egte Jode uit die Heilige Land uit wat dié dinge vir hulle kom leer. En nou skryf hy hierdie brief om die mense te probeer oortuig dat daardie leraars besig is om snert in hulle koppe in te prop. Hy ontmasker hierdie valse leer en dan verduidelik hy baie mooi dat die dinge wat hy destyds verkondig het, die ware en suiwer Evangelie is, en dat dit van God kom.
Sedert Paulus hierdie brief 2000 jaar gelede geskryf het, was daar al baie “leraars” wat sy boodskap verdraai en verwring het. En dit gaan vandag steeds voort! Sommige professore in die hoogste gestoeltes probeer om jong, toekomstige leraars te indoktrineer met allerhande valshede. Sommige geleerdes versprei allerhande Godslasterlike gerugte, en probeer mense die afgrond in verlei. Slegs deur vas te klou aan die suiwer Woord van God soos wat Paulus en die ander skrywers van die Bybel, onder leiding van die Heilige Gees dit opgeteken het, kan ons op die regte pad bly. Moenie alles wat jy hoor vir soetkoek opeet nie. As jy my oordenking lees, vra ek ook dat jy dit gaan toets aan die Woord. Inderdaad is daar ook mense wat dit wél doen en kommentaar lewer. Ek waardeer dit, want ek wil nie ‘n valse leer verkondig nie! My gebed, elke keer as ek ‘n dagstukkie skryf, is dat die Heilige Gees vir my die woorde hiervoor sal gee, want ek is maar net ‘n feilbare mens.
Gebed:
Here, bewaar my asseblief daarvan om ooit enige dwaalleer te verkondig!