Die Boek Matteus
Wat moet ek doen om gered te word, om in die hemel te kom? Eenvoudig: Glo in Jesus! God gaan egter verder: die Heilige Gees gee selfs vir my die nodige geloof! So, eintlik doen ek absoluut niks! Ons sing immers: “Genade, onbeskryflik groot, het U aan my bewys.” Géén mens kan sy eie redding verdien nie.
Ons moet egter baie deeglik bewus wees daarvan dat hierdie genade van God beslis nie goedkoop is nie. Jesus het bitter duur daarvoor betaal! Ons mag dit nóóit ligtelik opneem nie! Jesus waarsku egter in Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.”
Matteus het dus vir my en jou ‘n boodskap wat ons uitdaag om die wil van God te doen. Die vraag is: hoe doen ek die wil van God? Kan ek maar net terugsit en sê “God se genade is genoeg?” ‘n Voorbeeld van God se wil vind ons in Matteus 28 waar Hy die opdrag gee om die Evangelie na al die nasies toe uit te dra. Dit beteken fisies hard werk in Sy Koninkryk. Sy opdrag om mekaar lief te hê het verskeie implikasies. Dit is nie maar net ‘n passiewe “Ek het jou lief” nie, maar dit beteken dat dit oorgaan tot die daad, soos die voorbeeld van die barmhartige Samaritaan waarvan ons in Lukas lees.
Matteus se boodskap is dat drie dinge noodsaaklik is, naamlik om in Jesus te glo, Sy Naam te bely, en ‘n lewenswyse te handhaaf wat wys dat ek wél daardie genade van God ontvang het. Dit moet ‘n lewenswyse wees van doen wat God van my vra. Deur só te leef, bewys ek dat my geloof nie slegs lippetaal is nie, maar dat dit eg is!
Wat was Matteus se doel met hierdie Evangelie, en wanneer is dit geskryf? Matteus het nie die eerste Evangelie die lig laat sien nie, en nog minder is dit die eerste Nuwe Testamentiese boek wat geskryf is. Al Paulus se briewe was reeds geskryf voor Matteus. Markus was waarskynlik die eerste volledige Evangelie. Matteus en Lukas het Markus as ‘n bron saam met nog ‘n verdere onbekende geskrif wat verlore geraak het gebruik. Hy het dus gesteun op ander geskrifte en toe, ongeveer in 80 n.C. sy verhaal geskryf. Dit was egter baie meer as slegs ‘n duplisering van ‘n verhaal.
As ons kyk na die sterk Joodse karakter van die boek, dan kom jy tot die gevolgtrekking dat dit moontlik in Antiogië geskryf is vir die groot aantal Joodse Christene in daardie stad. Hierdie gelowiges het steeds die wet noukeurig nagekom, anders as byvoorbeeld die Griekse gelowiges, en daarom plaas Matteus ‘n sterk klem op die uitleef van die wet. Hy verwys dikwels na die wet, maar dat Jesus die wet nuut geïnterpreteer het – nie as weg tot redding nie, maar as uitvloeisel van ons geloof in God. Hy is die evangelieskrywer wat die meeste uit die Ou Testament aanhaal.
Daar word nie ‘n direkte antwoord gegee waarom Matteus hierdie boek geskryf het nie, maar ons kom gou agter dat hierdie nie maar net ‘n boek is oor die geskiedenis van Jesus nie. Dit is iets véél groter. In die eerste plek sien ons hoe Matteus met die term “kerk” en “gemeente” omgaan. Hy sien alreeds die ontstaan van die kerk in sy babaskoene tydens Jesus se bediening. Kerk of gemeente is egter nie ‘n sterk tema in Matteus nie, maar eerder die Koninkryk van God. Hy begin dan ook in 1:1 deur te wys dat Jesus die Seun van Dawid is, en dan impliseer hy dat die Dawidskoninkryk weer tot stand kom in Jesus! Daar word nie minder nie as 15 maal verwys na Dawid in die boek.
Dit is nodig dat ons sal weet dat Matteus Jesus se verhaal skryf uit die agtergrond van die gemeente waar hy as skrywer gewoon en gewerk het. Dit was dus nie net ‘n historiese verhaal nie, maar dit was aktueel vir sy gemeente se eie situasie en behoeftes. Die klem het sterk geval op sy gemeente se omstandighede. Hulle moes dus uit die verhaal van Jesus en Sy dissipels antwoorde ontdek vir hulle eie probleme en omstandighede.
Vandag moet ons hierdie boek in presies dieselfde lig lees as wat die mense van 80 n.C. dit gelees het, en antwoorde ontdek vir ons eietydse probleme en omstandighede uit hierdie verhaal.
Maar dit is alles uit ‘n menslike oogpunt gesien. As ons deur dit alles onthou dat Matteus hierdie boek geskryf het onder die inspirasie van die Heilige Gees, kan ons nie anders nie as om te besef dat dit eintlik God is wat Sélf hierdie boek geskryf het, net soos al die ander boeke in die Bybel. Hy gebruik gewone mense en inspireer hulle om te skryf sodat daardie geskrifte absoluut tydloos is, net soos wat God tydloos is. Dit laat ‘n mens in verwondering staan wanneer jy ‘n verhaal lees wat 2000 jaar gelede geskryf is in ‘n tyd toe tegnologie nog nie eers ‘n woord was nie. En vandag in ons tye van tegnologiese ontploffing is hierdie boek steeds vars en nuut. Moontlik sien ons vandag nie die probleme van Matteus en sy gemeente raak nie, maar ons lees ons eie probleme en omstandighede hierin.
Ek wil jou dus uitnooi om saam met my deur hierdie boek te stap en met ‘n oop gemoed en nuwe oë daarna te kyk. Kom ons maak ons harte oop vir dit wat die Heilige Gees vir ons in 2023 wil sê deur hierdie inspirerende boek uit die jaar 80!
Gebed:
Here, dankie vir Matteus wat gehoorsaam was aan U stem en geskryf het toe U hom daardie opdrag gegee het. Maak my vandag ook gehoorsaam aan U opdragte vir my!