In Sy Voetspore

23 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie In Sy Voetspore

1 Petrus 2:18-25

VIDEO * OUDIO

Dis vieruur in die middag, en die skadu’s word lank agter die hoë koppies wat ons plaas omring. Elandskrans gloei roesrooi in die laatmiddagson, die beroemde Elandskrans van Waterval Boven. Dick, my Kolliehond raak onrustig: dit het tyd geword! Van die stoep af sien ek vir Blommetjie, my Jerseykoei in diep bepeinsing onder by die gronddam wei. Nog verder, amper by die rivier staan nog ‘n paar koeie in die sappige gras, getrou gevolg deur ‘n vyftal “melkkannetjies” (wit veereiers). ‘n Rustige prentjie. Maar dit begin laat word en die beeste moet in die kraal kom vir die nag.

Skielik spring Dick op en hardloop deur die veld tot dáár onder by die rivier. In die verte hoor ek hoe hy vir die beeste blaf en hulle grensloos irriteer. ‘n Koei vererg haar bloediglik vir hierdie lastige brak en begin hom jaag terwyl hy al blaffende in die huis se rigting hardloop en die hele tyd omkyk na die koei. Een-vir-een begin al die koeie om hom te jaag totdat die hele trop beeste agter hom aanhardloop. Jy sien net melkkannetjies uitmekaar spat! Blommetjie, wreed versteur in haar diep bepeinsing by die dam, besluit dat hierdie maar net vet pret kan wees, en sy piekel al bulkend agterna. Al blaffende hardloop Dick uitgelate wye draaie soos ‘n wafferse fluitspeler, met die beeste op ‘n streep in sy voetspore agter hom aan, reguit na die beeskraal toe. Daar staan die plaaswerkers alreeds geduldig en wag vir Dick en die beeste. Eers as hy in die kraal is, en al die beeste veilig binne, glip hy by die hek uit en draf uitasem terug huistoe, tevrede dat sy dagtaak afgehandel is!

Het jy al ooit in iemand se voetspore geloop? Ek onthou dit nog soos gister: ek was klein, en my pa groot en baie lank. Ons het kaalvoet deur die veld gestap, en daar was dorings. Pa het voel-voel voorgeloop en ek moes trap in sy voetspore, want enige dorings wat dáár was het hy reeds gekry. Nee, dit was nie maklik nie, want sy treë was gróót, en my ou beentjies bitter kórt. Maar ek het gerek, en elke keer in sy spore getrap, al moes ek soms spring om by te kom!

Petrus sê dat ons ook só in Jesus se voetspore moet volg. Dis beslis nie die maklikste ding op aarde nie, want dikwels is die voetspore wat Jesus getrap het besaai met dorings. Petrus noem byvoorbeeld jou verhouding met jou werkgewer. Gister het ons gesien hoe jy moet optree teenoor die owerhede en dat dit dikwels moeilik is om steeds respek en eer te gee aan mense wat só ooglopend verkeerd is. Maar ‘n werkgewer kan dikwels óók maar so skuins dwars wees! Jy onthou seker dat die eerste lesers van Petrus se brief, uitlanders sonder regte was, dikwels uitgelewer aan uiters onredelike werkgewers wat hulle behandel het soos die skuim van die aarde. Gewoonlik het hierdie werkgewer ook aan hulle blyplek verskaf, dus kon hulle nie maar net hulle goedjies vat en loop nie, want dan was dit ook koebaai vir hulle blyplek. My dogter het destyds in haar prille jeug sélf ook so ‘n ondervinding gehad, toe sy vir ‘n jaar of drie in Israel gaan werk het. Die Jode het haar soos vuilgoed behandel, en sy moes dit maar opvreet, want sy was die een wat verleë was.

Hoe tree jy op teenoor so ‘n onredelike baas?

Petrus sê: “Wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes.” (1 Pet. 2:18). Om jou beste te gee vir ‘n goeie baas, is maklik. As hy ‘n buffel is, dan begin dit half moeilik raak! Dit gaan dwars teen jou natuurlike aard in. As jy onskuldig uitgeskel word, is jou eerste reaksie om op jou agtervoete te staan en hom te laat verstaan dat jy nie met jou laat mors nie. Iemand wat egter ten spyte van sulke aanslae steeds vriendelik bly en steeds jou beste lewer, doen iets baie verdienstelik voor God.

Jesus word as voorbeeld genoem, want as jy in Sy voetspore volg, kan jy nie verkeerd loop nie. Die eerste voetspoor wat Petrus noem is dat Christus nooit iemand probeer bedrieg het nie (vers 22). ‘n Leuen mag dalk jou werkgewer tevrede stel, maar hoe leef jy daarmee saam?

Petrus se tweede voetspoor is dat Jesus nie teruggeskel het toe mense Hom beledig het nie (vers 23a). Hy het nie na hulle vlak afgedaal nie, maar bloot stilgebly. Deur slegs ‘n belediging te ignoreer kan jy dikwels ‘n plofbare situasie ontlont.

Die derde voetspoor is dat Hy nie sy vyande gedreig het nie, al was Hy in staat daartoe om hulle te verswelg met een enkele woord. Om jou baas te dreig met die hof, mag dalk werk, maar is dit werklik reg?

Die vierde voetspoor is dat Hy aan God die oordeel oorgelaat het. ‘n Mens soek gewoonlik vergelding, maar laat dit liewer aan God oor.

Moet ons nou maar toelaat dat ‘n baas net op jou trap? Nee, ek dink nie dit is wat God se bedoeling ooit was nie, want as werker word jy beskerm deur die wet. Die vraag wat jy egter vir jouself moet afvra is, wat Jesus in hierdie situasie sou gedoen het?

Gebed:

Here, ek wil so graag in U voetspore loop. Gee my asseblief die krag daartoe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026