Efesiërs 6:10-17
In Januarie 1966 klim ek op die trein in Durban saam met ‘n klomp ander jong manne. Ons gaan “Aa’mie” toe! Ons arme outjies word verskree, vervloek, verjaag en verskrik. Stelselmatig het die kwaai manne met die strepies op hulle arms dit wonder-bo-wonder reggekry om ons fiks, gedissiplineerd en paraat te maak om volwaardige soldate te wees. Op daardie stadium was die vyand nog maar net iets fiktief - iets wat in die offisiere se verbeelding leef. ‘n Paar jaar later het dit egter ‘n werklikheid geword, met ‘n Kommunistiese weermag wat opgebou het op ons noordelike grense. Uiteindelik het dit uitgeloop op ’n volwaardige bosoorlog. Ek was nooit opgeroep om in hierdie oorlog te gaan veg nie. Dit het in elkgeval vir my so sinneloos gelyk en ek het my soldaatskap maar baie ligtelik opgeneem. Terselfdertyd was ek bang, want ek het berigte gehoor van hoe die manne doodgeskiet word en vermink word deur landmyne. Toe die oorlog uiteindelik in my rigting kom, het ek my daaruit gebid! My weermag ontslag het gekom nét voor ek grens toe moes gaan......
Ja, inderdaad is ek en jy ook soldate! Ons is soldate in God se weermag. Dit is tog só tragies dat ons dieselfde met ons geestelike soldaatskap doen. Dikwels is dit nie noodwendig omdat ons onwillig is nie, maar uit onkunde, of omdat ons bang is dat ons nie goed genoeg daarvoor toegerus is nie. As dit jou probleem is, het Paulus vanoggend wonderlike nuus: hy beskryf die wapenrusting wat God jou gee om vreesloos in Sy leër te kan veg.
Die feit is dat ons wél in ‘n oorlog gewikkel is en daarby kan ons nie verbykom nie! Hierdie oorlog sal bly woed tot die dag dat Christus weer kom en die finale veldslag gelewer word. Alle gelowiges is burgers van God se Koninkryk en as burger is jy outomaties deel van daardie weermag. Jy mag nie neutraal bly nie! Dit help ook nie om maar net in die loopgrawe te gaan lê en te hoop dat daar nie ‘n bom op jou kop val nie. Ons moet die vyand vierkant in die oë kyk! Dit mag ook nie net by kyk bly nie, want só kan g’n oorlog gewen word nie. Jy moet die regte wapen hê en jy moet jou wapen gebruik!
Hierdie vyand is ook nie maar sommer so ‘n ou kleintjie nie. In 1 Pet. 5:8 word hy beskryf as ‘n brullende leeu wat soek om iemand te verslind. Dit is ‘n uiters gedugte, gevaarlike en geslepe vyand! Dit is egter nie teen mense wat ons te staan kom nie, maar onsigbare bose magte. Daardie weermag is saamgestel uit die gevalle engele wat onder Satan se beheer is. Hulle vorm ‘n reuse en gedugte leër wat daarop uit is om die kerk van Christus te vermorsel en om die mag by God oor te neem. Jesus het egter gesê dat die magte van die doderyk, oftewel Satan se leër, nie die kerk sal oorweldig nie (Mat. 16:18).
Om egter staande te kan bly in hierdie verskriklike oorlog, het jy krag nodig, krag wat God deur Sy Gees vir ons gee met die wapenrusting wat Hy voorsien. God se wapenrusting is onfeilbaar, anders as die wapenrusting wat die aardse weermag gebruik. Luister net ‘n bietjie hoe mooi Paulus die wapenrusting beskryf. Hy doen dit uit beelde van ‘n soldaat se toerusting. Paulus het natuurlik elke dag met soldate te doene gehad waar hy in die tronk was. Hy kon dus goed nadink oor die doel van elke item aan ‘n soldaat se mondering en toe pas hy dit geestelik toe.
Meeste van die goed in daardie mondering, was om die soldaat te beskerm sodat hy nie sommer maklik deur die vyand oorrompel kon word nie. Boonop moes dit hom beskerm teen die elemente. Stel jou die situasie voor: jy durf die destydse bosoorlog aan geklee in ‘n T-hempie, drafbroekie en ‘n paar plakkies! Om jou nek hang jou “getroue” kêttie om die “gevaarlike” voëltjies te verjaag! Dis mos belaglik! Jy sal nie vir vyf minute oorleef in daardie gevaarlike omstandighede nie! Sonder die regte beskermende klere en toerusting is jy verlore!
Op geestelike terrein staan ons klaar midde in die geestelike oorlog wat rondom ons woed. Ek kan nie soos ‘n volstruis my kop in die grond druk en maak asof ek dit nie sien nie. Dit is ‘n werklikheid wat rondom my gebeur en wat my persoonlik raak. As ek nou met ‘n T-hempie en plakkies myself probeer handhaaf, gaan ek dit nie oorleef nie. Boonop gaan ek van géén nut wees in die geveg nie. Ek moet die regte toerusting aantrek. Paulus weet presies wat nodig is vir my om staande te kan bly en boonop nuttig te kan wees in die Koninkryk.
Ek het nodig: die gordel van waarheid, die borsplaat van geregtigheid en skoene van bereidheid om te kan loop om die evangelie uit te dra. Boonop is die skild van die geloof en die helm van verlossing absoluut noodsaaklik. En natuurlik moet jy kan veg en daarvoor het jy die swaard van die Gees – die woord van God broodnodig.
In die volgende paar dagstukkies gaan ons kyk hoe Paulus die soldaat se toerusting beskryf, asook dít wat ek nodig het om ‘n volwaardige soldaat te kan wees in God se weermag.
Gebed:
Dankie vir die wonderlike wapentuig wat U my gegee het, Here. Maak my gewillig om U wapens op te neem en in U weermag te veg met selfvertroue.