In die Woestyn

13 December, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie In die Woestyn

Matteus 4:1-11

Sy sit met haar hande in haar gekoekte hare en huil. Sy smag na ‘n heerlike, sappige hamburger en ‘n lang yskoue bier. Eintlik sal enigiets eetbaar doen, solank dit nie ‘n sprinkaan of ‘n mopaniewurm is nie! Daarvan het sy die afgelope weke genoeg gehad!

Alles het begin toe sy as weermagoffisier gevra het om saam met die manne ‘n oorlewingskursus te doen. Dit was ongehoord en die ringkoppe het geweier, maar sy was vasberade. Uiteindelik gee hulle in, maar dit was ‘n fout, ‘n baie groot fout! Sy is gestroop van alles, selfs haar tandeborsel en klere. Van ‘n rooibokvel moes sy iets maak om haar liggaam te bedek. Gister het sy ‘n bietjie water gekry waar ‘n olifant ‘n diep spoor getrap het, seker maar van ‘n bui reën die vorige week. Ongelukkig was daar ook ‘n miskoek in dieselfde spoor. Sy het dit opgetel en die besoedelde water smaaklik opgeslurp. Nou voel sy siek as sy net daaraan terugdink!

Al waarvoor sy vra, is ‘n haarborsel om hierdie gekoekte gemors op haar kop uitgestryk te kry! Sy beny die manne wat saam met haar die kursus doen, hulle het ten minste kortgeknipte hare!

Hierdie is die verhaal van ‘n vriendin wat jare gelede in die weermag was. Haar aanbeveling na hierdie traumatiese ervaring, was dat dit beslis nie vir vrouens bedoel is nie! Hierdie is beslis uitsluitlik ‘n man-ding!

Die verhaal van Jesus se versoeking in die woestyn het deur die eeue heen vir baie vrae gesorg. In die eerste plek is daar gevra hoe dit dan moontlik is dat Jesus, wat sélf God is, deur die duiwel versoek kan word? Hy het mos nie sonde nie? Het Hy ooit hierdie versoekings as eg beleef? In vandag se moderne skeptisisme kom daar weer ander vrae op soos byvoorbeeld hoe dit moontlik is dat Jesus vir veertig dae in die woestyn kon oorleef sonder om enigiets te eet. Hoe het Hy op die tempeldak gekom sonder dat iemand Hom sien? Waar was daardie berg wat so hoog was dat Hy al die koninkryke van die wêreld kon sien? Was dit nie maar alles hallusinasies omdat Hy nie geëet het nie? Hierdie is almal legitieme vrae!

Die feit is egter dat ons net eenvoudig nie antwoorde het nie, maar sulke vrae lei ons weg van die ware boodskap van hierdie perikoop. Ons wil die duiwel sien met ‘n groot rol in hierdie verhaal, maar eintlik is selfs dít ook nie waar nie! Hy het eintlik maar ‘n ondergeskikte ou rolletjie. Om die verhaal te verstaan, moet ons dit in die lig van die voorafgaande gedeelte sien, waar Jesus met die Gees gedoop is. Hierdie verhaal illustreer dan prakties hoe Jesus as Seun van God, vervul met die Heilige Gees, deur Sy totale gehoorsaamheid aan die wil van die Vader, die duiwel oorwin. Die duiwel se rol in hierdie verhaal is slegs om Jesus se gehoorsaamheid te belig. Ons sien ook dat Jesus telkens uit die Skrif antwoord, wat nie alleen bevestig dat Hy as Seun van God naby aan die wil van die Vader leef nie, maar ook vir my en jou ’n voorbeeld stel van waar ons die antwoorde moet soek wanneer versoekings ons lewens bedreig.

Met die eerste versoeking probeer die duiwel Jesus se honger uitbuit deur vir Hom te sê dat dit mos maklik is om sommer ‘n wonderwerk te laat gebeur en kos te maak van klippe. Dit sou die doel van Jesus se woestyn-ervaring totaal in die wiele ry, want Jesus wou Sy totale afhanklikheid van God bevestig. Sou Hy toegee, dan sou dit dieselfde wees as iemand wat besig is met ‘n oorlewingskursus om sy deursettingsvermoë te toets, en wanneer die hongerpyne knaag, dan pluk hy sy selfoon uit en bestel ‘n pizza en ‘n halfdosyn biere om per helikopter afgelewer te word, daar in die bos waar hy swaarkry!

Met die tweede versoeking kon Jesus op skouspelagtige wyse van die tempel se dak gespring het met engelebegeleiding, en sodoende Sy Messiasskap aan die wêreld bewys. Net so kon Hy ongeskonde van die kruis afgeklim het, maar dit was nie waarvoor Hy na die wêreld gekom het nie. Hy het gekom om ‘n verlossingsdaad te kom verrig, en Hy sou dit deurvoer tot die bitter einde.

Met die derde versoeking wink die koninkryke van die wêreld aanloklik vir Hom, maar weereens weerstaan Hy dit, want uiteindelik sal al die koninkryke tóg aan Hom behoort. Maar nou het Hy ‘n taak om te vervul, en Hy durf nie links of regs afwyk nie.

Hoe raak hierdie gebeurtenis my? Ek moet besef Wie werklik in beheer is. Dikwels wil dit vir ons voorkom asof die duiwel stewig in die saal sit en dat almal netjies na sy pype dans. Maar Jesus is steeds Here! Hy het die wêreld en die bose oorwin, en met hierdie wete kan ons moed skep vir al die versoekings wat elke dag op ons pad kom. Inderdaad het Jesus die pad van gehoorsaamheid aan die wil van God enduit gestap, en daardeur vir ons, nie alleen ‘n voorbeeld gestel nie, maar die weg gebaan sodat ons in Sy krag dit ook kan doen. Al wat ons nou moet doen is om in Sy spore te trap en Jesus te volg.

Gebed:

Dankie Here, dat ons vandag kan weet dat U die duiwel alreeds oorwin het, en dat ons kan leef in die krag van U oorwinning.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026