In die Tollenaar se Huis

28 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie In die Tollenaar se Huis

Matteus 9:9-13 & Lukas 5:27-32

VIDEO | OUDIO

Simon is 'n baie bekommerde man. Sy maag maak 'n pynlike draai, hy het nog nooit in sy lewe by 'n tollenaar gaan eet nie. Hy was nog nie eers in een se huis nie, want van kleins af het Pa hom geleer dat dit jou onrein sou maak as jy by een van daai verraaiers sou kom. Jaaaa, hulle is Jode..... maar hulle heul hulle met die vyand! Dit maak hulle uiteraard niks anders nie as afgryslike heidene!

Al sommer van ver af hoor Simon die rumoer – iewers is iemand besig om gróót makiti te hou. Simon se oë rek - dit klink so al asof dit kom uit die rigting van die huis waar hulle gaan eet!

By Matteus se huis kry Simon amper 'n hartaanval as hy al die tollenaars en uitgewekenes van die dorp bymekaar sien – die skuim van die aarde! Hy wil omdraai en weghardloop, maar Jesus het hom behóórlik in 'n greep aan sy mou beet. Hy word begroet met 'n vrolikheid soos wat hy nog laas by die bruilof beleef het! En vir hom en sy maats en Jesus is die ereplekke gereserveer. As dit nie vir die ongemaklike situasie was nie, het Simon amper geëerd gevoel. Die enigste keer wat hy die ereplek gekry het was die dag toe hy getroud is!

Simon gaan lê by die tafel. Hy sak salig weg in luukse kussings. Hy is nie sulke luuksheid gewoond nie en dit laat hom nóg meer ongemaklik voel.

Jesus lyk egter asof Hy Sy hele lewe lank elke dag in so 'n situasie verkeer. Hy lyk dadelik totaal op Sy gemak en Hy gesels met almal rondom Hom asof hulle ou vriende is. Simon verkyk hom aan Jesus, met die gemak waarmee Hy kommunikeer.

Simon en sy vriende word soos konings behandel en die mees eksotiese disse en drinkgoed word in oorvloed na hulle aangedra. Hy is maar 'n eenvoudige mens wat hom nog nooit gesteur het aan sulke grênd kos nie. Maar algaande begin dinge vir hom al lekkerder raak. Hy moet homself knyp om hom te herinner dat hy nou tussen 'n spul heidene is en dat hy dit eintlik gladnie durf geniet nie!

Simon hoor net so terloops hoedat sy Meester in ernstige gesprek is met een van die “sondaars” oor iets uit die Skrif. Hy spits sy ore – hoe sal hierdie manne nou enigiets weet van wat in die Skrif opgeteken is? Waarvoor bemoei sy Meester Hom nog met die man? Maar dan val Simon amper van sy luukse kussing af as hy hoor dat hierdie tollenaar 'n deeglike Skrifkennis het. Die gesprek tussen hom en Jesus is baie sinvol! Simon besef dat hy hierdie tollenaar hééltemal te vlak gekyk het, hy het hom totaal misgis!

'n Entjie van Matteus af staan 'n paar somber figure – Fariseërs. Hulle lyk beslis nie gelukkig nie en hulle beduie aanmekaar vir mekaar van iemand wat hulle in die huis herken het. Meewarig skud hulle hulle koppe.

Die fees het aangehou tot laat in die nag en hier na die einde se kant toe het Simon homself sowaar geniet. Hy het selfs al lekker gesels met die spul tollenaars. Hy het baie gou agtergekom dat hierdie eintlik gladnie so 'n slegte klomp is as wat hy altyd gedink het nie. Hulle is maar doodgewone mense, Jode nét soos hy!

Die volgende oggend sit Simon skaars sy voet by die deur uit, of hy loop hom trompop vas teen 'n Fariseër. Die man lyk bitter ontsteld en gladnie vriendelik nie: “Sies, ek skaam my vir jou!” sis die Fariseër.

“Hoe nou?” Simon is totaal uit die veld geslaan – waar val hierdie man uit?

“Jy en die ander dissipels van daardie sogenaamde Profeet - besef jy wat julle gedoen het?”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie?” Nou is Simon totaal verward en sommer op sy perdjie.

“Julle het gisteraand saam met die tollenaars en sondaars gaan eet. Hoe kón julle? Besef jy nie dat julle nou onrein is nie? Julle het die reinheidswette oortree!”

Op daardie oomblik kom Jesus en die ander dissipels nét daar aan en Jesus kom tot Simon se redding: “Dié wat gesond is het mos nie 'n dokter nodig nie – dit is die siekes wat na hom toe gaan.” Jesus kyk die stomgeslane Fariseër aan en skud Sy kop: “Vriend, gaan leer 'n slag by die profeet Hosea wat dit beteken wanneer God sê: 'Ek verwag barmhartigheid en liefde eerder as julle offers'. Ek is nie hier vir goeie mense nie maar vir sondaars.”

Simon is verbaas om te sien dat hierdie Matteus-kêrel hom ook nou by die dissipelkring aangesluit het.

Toe Jesus 'n ruk later Sy twaalf Apostels, Sy spesiale uitgestuurdes aanwys, was hierdie einste Matteus-tollenaar een van hulle!

Gister het ons vir mekaar gesê dat dit 'n groot skok kan wees om oor kultuurgrense heen die evangelie uit te dra. Maar nes Simon het ek baie gou agtergekom dat jy letterlik op die hande gedra word wanneer jy die dag daardie kultuurstap neem. En nét so moes ek uitvind dat dit heerlik is om so te werk en dikwels is daar baie meer vrug op jou arbeid as onder jou eie mense.

Gebed:

Here, dankie dat ek in U wingerd kan werk, en vir die seën wat U vir my gee op my arbeid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026