Hy Stel Belang in My

5 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy Stel Belang in My

Rut 2:5-13

Boas staan ingedagte en kyk hoe die jong Moabitiese meisie ywerig buk om are op te tel. Hy brand om met haar ‘n gesprek aan te knoop, maar hy is half skrikkerig oor wat sy manne gaan dink. Sy is immers ‘n Moabiet, ‘n heiden, en hy is ‘n gesiene en natuurlik ordentlike Joodse man!

Dan besluit Boas dat die meisie se welstand belangriker is as sy reputasie. Juis op daardie tydstip besluit Rut om ‘n blaaskansie te neem. Dit is vir Boas die teken, en daarmee stap hy oor na Rut, waar sy haar onder ‘n boompie neervly om te rus. Hy wil beslis gaan kennis maak met hierdie brawe meisie. Hy wil uitvind wat haar hierdie radikale besluit laat neem het om alles in haar land op te offer om saam met haar skoonma na Judea te kom.

Boas besef maar al te goed dat hy nie te veel aandag aan haar durf gee nie, want dit is nie betaamlik vir ‘n Joodse man, veral nie ‘n gesiene grondeienaar soos hy, om gesprekke te voer met ‘n heidense meisie nie. Hy beter hierdie eerste ontmoeting maar baie saaklik hou en so min as moontlik praat.

Ek verstaan jy is Naomi se skoondogter, ek is Boas.”

Rut kan nie glo dat so ‘n vername Jood soos Boas in haar sou belangstel nie. Waarom doen hy al die moeite om met haar te kom gesels? Vinnig spring sy op en sy buig haar kop nederig soos sy geleer is om te doen vir vername mense.

Luister Rut, die lewe hier rond is hard! Jy het seker al agtergekom dat die Jode jou nie maklik aanvaar nie. Ek wil jou goeie raad gee: moenie na ander se landerye gaan nie, want daar gaan jy moeilikheid kry. Bly net hier in my landery. Ek ken vir Naomi baie goed, so jy is baie welkom om elke dag hier graan op te tel vir julle.”

Rut is baie dankbaar, want nou is dit nie net die voorman wat toestemming gee nie, maar die eienaar wat persoonlik sy toestemming gee dat sy hier kan gars optel. “Baie dankie!” prewel sy nederig, sonder om haar oë te lig.

Boas wil omdraai en wegstap, maar dan tref ‘n ander gedagte hom, en hy draai weer terug na haar. “En as jy dors het - drink gerus van die water wat die snyers saamgebring het. En moenie bekommerd wees oor die manne nie, my werksmense sal jou nie lastig val nie. Ek het vir hulle gesê om jou met rus te laat.” Boas glimlag gerusstellend vir Rut om haar op haar gemak te stel, want hy kan sien hoe senuweeagtig sy is. Daarmee draai hy om en stap weg.

Rut se hart bokspring van pure blydskap. “Waarom is almal so goed vir my?” wonder sy. “Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek is maar net ‘n Moabitiese meisie in ‘n vreemde land, en die mense aanvaar my nie alleen nie, maar hulle gee om vir my, hulle is goed vir my!”

Sy staan Boas peinsend en agternakyk terwyl hy flink wegstap na sy werkers toe. “Wat ‘n wonderlike man! Sjoe, as ek en hy darem…….Sy bloos bloedrooi by die blote gedagte dat Boas enigsins in haar as vrou sou belangstel. “Nee, dit kan mos nie!” betig sy haarself. Waarom sou iemand van sy statuur nou in ‘n eenvoudige heidense meisie belangstel? Sy is beslis nie goed genoeg vir hom nie! Boonop weet sy dat die Jode so streng is oor hulle Godsdiens, en alhoewel sy hierdie geloof aanvaar het, weet sy so bitter min daarvan. Sy het nog só baie om te leer! Sy het nou maar pas begin!

n Wonderlike verhaal, dié van Rut. Maar dit is ook my verhaal en dalk joune ook. Nes Rut, het ek so dikwels gewonder waarom die Here dan so goed is vir my? Ek verdien dit beslis nie! As ek terugdink oor my lewe, dan sien ek strepe lelike dinge wat deel was van my lewe. My sondes is etlike boekdele dik opgeskryf. Maar natúúrlik weet ek mos dat dit alles reeds vergewe is. Die Here het my mos verseker in die talle beloftes in Sy Woord dat Hy my vergewe het vir alles wat ek gedoen het.

Maar wat van my huidige lewe? Is my lewe werklik goed genoeg om Hom te behaag? Kyk ek na sommige ander mense wat ‘n lewe het wat so wonderlik naby aan God is, dan kry ek skaam. En my kennis van Hom en Sy Woord is so bitter karig! Sal Hy ooit in my, nietige mens belangstel? Soms wil ek wegkrimp in die aarde in!

Maar dan hoor ek hoe Jesus se hart lyk. Hy gesels intiem en met groot geduld en deernis met ‘n vrou daar by die put, iemand wat gehaat is deur die Jode en geminag deur haar eie mense. Hy hou ‘n feesmaal saam met die skuim van die aarde, en Hy stel intens belang in hierdie gure manne. Hy gee die ewige lewe aan ‘n moordenaar wat besig is om te sterf aan ‘n kruis.

Natúúrlik is ek dan óók vir Hom belangrik. Hy gee ook nét so om vir my. Ek is immers Sy kind, en Hy is baie lief vir my!

Gebed:

Here, ek kan elke dag maar net sê: “Dankie, dankie, dankie!” U genade vir my is onverstaanbaar. Ek het niks gedoen wat dit ooit kon verdien nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026