Hy Leef Waarlik!

23 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy Leef Waarlik!

Lukas 24:13-49 & Johannes 20:19-31

VIDEO | OUDIO

Petrus skrik hom byna in 'n ander geloof in as iemand baie hard aan die deur hamer: “Maak oop! Maak oop!”

Die manne is almal bymekaar en saam met hulle die vroue van Galilea en nog 'n klompie ander dissipels. Dis vroeg Sondagaand en almal is hier om te gesels oor die gebeure die afgelope naweek, maar veral oor die dinge wat die oggend gebeur het. Alles is een gróót misterie, en Petrus weet steeds nie mooi wat om daarvan te maak nie. As hy maar nét die Meester met sy eie oë kon sien.........

“Maak oop asseblief, ons wéét julle is daar binne!” pleit iemand by die deur.

Iemand staan lamgeskrik op en maak die deur op 'n skrefie oop. Hulle het gerugte gehoor dat die Jode woedend is oor die leë graf en dat hulle Jesus se dissipels daarvan beskuldig dat dit húlle is wat die liggaam gesteel het. Mens kan maar nie te versigtig wees vir wie jy 'n deur oopmaak nie!

Maar die twee gesigte buite is ou bekendes onder die dissipelkring, manne wat al geruime tyd agter Jesus aanloop. “Kom binne,” word hulle ingenooi en die deur word weer sorgvuldig agter hulle gesluit.

“Julle sal nie gló wat so pas met ons gebeur het nie!” begin die twee opgewonde.

“Toe, vertel!” Nou is almal baie nuuskierig, en hulle drom om die twee manne saam.

“Ons twee was vanoggend op pad na Emmaus, net om weg te kom uit Jerusalem,” vertel hulle, “toe daar skielik iemand langs ons is, sommer so uit die niet!”

“Ja,” gaan die ander kêrel voort, “die een oomblik was daar niemand, en die volgende oomblik was hy net daar!”

“Ons het geloop en gesels oor die dinge wat die afgelope paar dae gebeur het, toe die 'Vreemdeling' skielik daar opdaag. Dit het gelyk asof Hy totaal onbewus was van al die gebeure en toe vertel ons Hom maar van die Meester se verskriklike dood.”

“Snaaks dat daar nog iemand in die omgewing is wat nie daarvan weet nie!” brom Petrus.

“Nee, maar hier begin die ding toe mos interessant raak,” verduidelik die man vir Petrus, “want al die tyd het Hy presies geweet wat gebeur het.”

“Ja, Hy wou ons net uitlok!” kry sy maat 'n woordjie in.

“Verraderlik!” brom Petrus.

“Nee, jy verstaan nie,” gaan die kêrel voort, “want toe Hy sien dat ons nie die dinge verstaan nie, toe begin Hy alles haarfyn vir ons uit die Skrif uitlê. Hy het verduidelik dat al hierdie dinge presies nét so deur die profete voorspel was. My mond het oopgehang toe alles vir my begin duidelik word!”

“En toe kom ons in Emmaus aan en ons nooi Hom uit om saam met ons te eet. En daar, terwyl ons eet, herken ons vir die eerste keer dat dit al die tyd die Meester sélf was wat saam met ons geloop het. Hy is nie dood nie, Hy leef! Ons het Hom met ons eie oë gesien!”

Petrus voel hoedat sy knieë lam word. Het hy reg gehoor? Was dit werklik die Meester wat saam met die twee manne was?

Die volgende oomblik hoor Petrus 'n baie bekende stem: “Shalom! Vrede vir julle!”

En hier vlak voor hom staan sy geliefde Meester, Jesus!

Een van die vroue gil in angs en sy val flou neer. Petrus voel die beklemming om sy hart. “Is dit 'n spook?” Daar heers algehele paniek onder almal. Die deur is dan gesluit, hoe het Hy ingekom?

“Shalom,” klink die rustige stem van Jesus weereens. “Waarom is julle so verskrik? Waarom twyfel julle nog?”

“Droom ek?” wonder Petrus.

“Kom, kyk na die merke in My hande,” nooi Jesus hulle uit, “kom voel aan My, dit is wáárlik Ek. 'n Gees het tog nie vleis en bene nie, Ek is 'n werklikheid, julle sien dit tog sélf!”

Bewend tree Petrus vorentoe en vat versigtig aan sy Meester. Dit is 'n Mens van vlees en bloed waaraan hy raak. “Jesus het wáárlik opgestaan!” jubel dit in hom, “my Meester leef! Hy leef!”

“Petrus, het julle nie vir My iets te ete nie?”

Maria Magdalena spring op en kom terug met 'n stuk gebakte vis. Voor hulle oë eet Jesus die vis en dan begin Hy vir hulle vertel waaroor al die verskriklike dinge van die afgelope paar dae gebeur het.

Vir die eerste keer in sy lewe begin Petrus nou te verstaan. Dit is asof daar 'n skil van sy vissersverstand afval en skielik maak alles sin! Helder en duidelik!

“Shalom,” groet die Meester hulle heelwat later die aand, “soos wat die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Thomas was nie daardie Sondagaand saam met die ander nie. “Dit was julle verbeelding!” het hy later hardnekkig vir Petrus bly sê, “as ek nie eers sélf my vinger in Sy wonde steek nie, sal ek nóóit glo nie!”

Gebed:

Here Jesus, dankie dat U my oë oopgemaak het sodat ek kon sien en glo. Alles, alles is suiwer genade!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026