Hy Leef!

30 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy Leef!

Johannes 20:1-18

VIDEO * OUDIO

Het jy al ooit ‘n nagmerrie-nag beleef en elke pikdonker oomblik omgewens? Dat die oggend asseblieftog net moet aanbreek! Ja, ek het al verskeie sulkes beleef. Maar daar was een in besonder wat my nou nog ‘n knop op die maag gee as ek daaraan terugdink!

Ek het daardie nag met ‘n paar jong Voortrekkertjies in die bos in Marloth Park gaan uitslaap, sommer so onder die sterre. Dit was ‘n wonderlike idee - altans só het ek gedink. Maar toe die leeus die nag sommer hier baie naby begin brul en die hiënas hééltemal te naby na my sin aan ons rondgiggel en “Hoeeeep”, toe begin ek half ongemaklik raak. Soos wat die nag gevorder het, het hierdie gevaarlike geluide al nader en nader aan ons beweeg. Hier sit ek met die kinders onder my sorg en ek stel hulle bloot aan sulke soort gevaar! Daardie nag het harmansdrup-stadig omgeskuifel. Toe die eerste strale van die son die horison begin verkleur, kon ek vir die eerste keer my oë toemaak en vir ‘n paar minute slaap, voordat die uitbundige kinders die ganse bos wakker gemaak het.

Ek dink dat daardie Sabbat sekerlik die langste een was in die totale lewens van Jesus se volgelinge. Hulle het elke oomblik daarvan omgewens! Die Sondagoggend was dit nog pikdonker, toe was Maria Magdalena al haastig op pad na Jesus se graf. Wat sy so vroeg daar wou gaan doen, sou nét sy weet! Dalk wou sy maar net naby haar Meester wees, al was Hy dan ook dood. Die nag was gans te lank en sy het troos nodig gehad. Ek sien in my geestesoog die huilende vrou wat in die donker aansukkel, bedroef omdat sy haar geliefde Meester nie eers kon bystaan in Sy donkerste uur nie!

Toe kom die verskriklike skok toe sy by die graf aankom en sien dat die klip weggerol was. Met ‘n hart wat in haar keel klop, het sy teruggehardloop na Petrus toe om hom die skokkende nuus te gaan vertel dat iemand Jesus se lyk gesteel het! Skok en afgryse was op arme Petrus se gesig te lees toe hy skreeu: “Hoe kón hulle!”

Hy en Johannes het opgespring en so vinnig hulle kon gehardloop om te gaan kyk wat aangaan. Met hygende asem was Johannes eerste by die graf. Toe hy inkyk, sien hy iets baie vreemd, dat die graf inderdaad leeg was maar dat die doeke wat om Jesus se lyk gedraai was, steeds daar gelê het! Hy kon dit nie verstaan nie! Petrus het al hygende daar aangekom en summier in die graf ingekruip. Wat hy daar gevind het, het ‘n reuse vraagteken op sy gesig geplaas. Hy kon dit óók nie verstaan nie! Géén dief sou ‘n liggaam steel en eers die doodsdoeke afhaal nie! Selfs die doek wat om Jesus se kop gedraai was, het daar eenkant gelê, netjies opgevou. Iets was baie, baie vreemd hier! Dit het net eenvoudig nie sin gemaak nie!

Ek sou wát wou gee om die gesprek te kon hoor tussen die twee bekommerde manne toe hulle kop onderstebo huistoe stap.

Intussen het Maria weer by die graf aangekom, al huilende. Nou was haar Meester nie alleen dood nie, maar Sy lyk was boonop gesteel ook! Wat ‘n droewige situasie! Vol verwagting het sy by die graf ingeloer. Het sy dalk ‘n wonderwerk verwag? Sou Jesus dalk nog daar lê? Dan kry sy ‘n tweede gróót skok as sy twee baie vreemde manne met spierwit klere in die graf sien sit. Dit was eers baie later wat sy besef het dat hulle engele was. Die hemel het waarlik oopgegaan met Jesus se opstanding, net soos wat Jesus voorspel het in Johannes 1:51. Toe sy omdraai, het sy iemand agter haar sien staan. Deur haar trane het sy Hom eers gladnie herken nie. Hy was die héél laaste Persoon wat sy daar sou verwag. Maar toe Jesus haar vol deernis op haar naam aanspreek, was dit asof die skille van haar oë afgeval het en sy het besef dat Hy leef! Sy wou Hom vasgryp en nooit óóit weer los nie! Maria Magdalena was oorstelp van vreugde - dan het alles tóg gebeur soos wat Hy voorspel het!

Toe gee Jesus haar ‘n opdrag. Sy moes nie hier aan Hom vasklou nie, maar eers vir die ander gaan vertel wat sy gesien het. Sy moes ‘n getuie wees van die opgestane Jesus. Later sou Jesus Sélf hierdie getuienis van haar kom bekragtig. Maar nou moes sy eers die ongelooflike nuus gaan oordra.

Maria het nie gras onder haar voete laat groei nie. “Ek het die Here gesien!”, het sy opgewonde gebabbel toe sy by die ander aankom “Ek het die Here gesien!” Toe sy tot bedaring kom, vertel sy: “Hy het gesê dat Hy na Sy Vader toe gaan opvaar en dat Sy Vader óns Vader is en Sy God óns God!” Maria kon net eenvoudig nie oor hierdie wonderlike gebeurtenis stilbly nie. Die Here het wáárlik opgestaan!

Dis tog só ironies dat ‘n eenvoudige vrou wat niks beteken in die samelewing nie, die eerste kragtige getuie word vir die opgestane Jesus! Dan dink ons onwillekeurig terug aan die Samaritaanse vrou by die put - sy het ‘n hele dorp in beroering gehad met haar getuienis oor Jesus. Dan het ek en jy absoluut géén verskoning om ook ‘n getuie te wees nie. Kom ons maak werk daarvan en wees getuies van dié Jesus wat opgestaan het en wat vandag lewe en regeer!

Gebed:

Here, maak my asseblief ‘n kragtige getuie vir U. Gee my asseblief die vrymoedigheid om vir U te getuig teenoor almal wat ek teëkom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026