Hy Kom op die Wolke!

14 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy Kom op die Wolke!

Openbaring 1:7-8

‘n Groot opgewondenheid heers: ons helde is op pad terug na Suid Afrika! Ons Springbokspan het Suid-Afrika trots gemaak! Die wêreldbeker staan weereens op ons rakke! Die manne in groen-en-goud het net weereens gewys dat hierdie onbenullige klein landjie, Suid Afrika, die héél beste Rugbyspan in die wêreld het, selfs beter as Nieu Seeland! Op die lughawe word hulle met groot toejuiging deur ‘n reuse skare rugbygeesdriftiges ingewag, en die vreugdevure brand hoog!

Nou wat het rugby met Openbaring te doen? As die terugkoms van die Springbokke soveel entoesiasme en vreugde uitgelok het, hoeveel meer nog wanneer Jesus weer kom? Ons wag nou al reeds 2000 jaar vir daardie wonderlike dag, en die opgewondenheid is besig om op te bou onder Jesus se “aanhangers”. Om die waarheid te sê, het Daniël alreeds 600 jaar vroeër van hierdie wonderlike gebeurtenis geskryf in Daniël 7:13. “Daar het in die wolke Iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese.

Ons lees in die Bybel op talle plekke van Godsverskynings, en elke keer is dit ‘n geweldige dramatiese gebeurtenis. Wanneer God aan Moses verskyn in die brandende doringbos, is dit die keerpunt in Moses se lewe. Hierdie gebeurtenis omvorm hom oombliklik van ‘n hakkelende skaapwagter na die grootste volksleier van alle tye, van ’n vlugteling na iemand wat die magtige Egiptiese Farao aanvat en die wispelturige Joodse volk oortuig dat hulle die woestyn moet intrek.

Nóg ‘n dramatiese Godsverskyning vind plaas met Jesus se geboorte. Die wêreld was in rep en roer, en mense het maande lank gereis om hierdie wonderlike gebeurtenis te kon beleef. ‘n Engelekoor het spesiaal uit die hemel neergedaal om luister te verleen aan daardie wonderlike gebeure. Daar was groot opgewondenheid!

Maar daar was ook diegene wat gladnie gelukkig was oor Jesus se geboorte nie. Herodus die Grote, onverskrokke strateeg, was woedend oor hierdie “Indringer” in sy magsryk. Terselfdertyd het hy ineengekrimp van vrees, want hierdie Baba was vir hom ‘n vreesaanjaende bedreiging waarvan hy ten alle koste ontslae moes raak. Die wrede babamoord en die weeklaag van bedroefde moeders wat deur die ganse Israel weergalm het, is geskiedenis.

Dertig jaar later, is daar weer ‘n Godsverskyning wanneer die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus neerdaal en God hoorbaar uit die hemel praat.

‘n Verdere 3 jaar later, op die tyd deur God bestem, vind daar weereens ‘n Godsverskyning plaas toe Jesus aan die kruis sterf na spot, teenstand, verwerping, verloëning, verraad en wrede marteling.

Terwyl Hy aan die vloekhout sterf, gebeur hierdie dramatiese Godsverskyning. Die son verduister, ‘n magtige aardbewing breek die klippe rondom Golgota oop, die voorhangsel van die tempel skeur middeldeur, en dooies staan uit hulle grafte op. Selfs geharde Romeinse soldate is só geroer deur hierdie gebeurtenis dat hulle voor almal bely dat Jesus waarlik die Seun van God is!

Nie lank na hierdie gebeure nie, is daar wéér ’n Godsverskyning, op Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort word. Só asemrowend aangrypend was hierdie gebeure, dat drieduisend mense nét daar en dan tot bekering gekom het. Die nagevolge van daardie dag het soos ’n tsoenami uitgekring en die ganse wêreld oorspoel, sodat ’n derde van die mense op die aarde vandag die Christelike geloof aanhang, alles as gevolg van daardie Godsverskyning!

Daar was ook ander Godsverskynings opgeteken in die Bybel. God verskyn aan Gideon, Abraham, Jakob, Menoag (Simson se pa) ens. Al hierdie verskynings was egter gerig op enkelinge, of in die geval van Pinksterdag, op ‘n enkele groep mense. Die finale Godsverskyning sal egter totaal anders wees, want op daardie dag sal dit so oorweldigend groot wees, dat elke mens op aarde dit gelyktydig sal kan sien. Dit sal totaal onverwags wees. Vir baie mense sal dit die mooiste, aangrypendste, hartroerendste gebeurtenis wees in die ganse geskiedenis van die skepping. Groot jubeling en blydskap sal heers, want die groot wag is uiteindelik verby en Jesus het gekom!

In Sagaria 12:10 voorspel die profeet dat daar terselfdertyd groot droefheid sal heers. Soos Herodus van ouds, sal mense inmekaar krimp van vrees, want dan sal hulle sien dat hulle onder die oordeel van God staan. Mense sal weeklaag in selfverwyt omdat hulle Jesus verwerp het.

As jy nog nie vir Jesus gekies het, Hom as Verlosser in jou lewe aangeneem het nie, dan is jy deel van daardie skare wat sal weeklaag, want die verskriklike straf wat op sulke mense wag is afgryslik. Ek pleit by jou om na Hom te draai!

Ek sien met groot opgewondenheid en afwagting uit na daardie wonderlike dag. En jy?

Gebed:

Maranatha! Kom gou, Here Jesus, kom gou! Die wêreld smeek om U spoedige koms, want die verdrukking is groot. Ek borrel van afwagting op U wederkoms. Kom, Here Jesus!

 

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026