Hy het Waarlik Opgestaan!

20 September, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy het Waarlik Opgestaan!

Matteus 28:1-15

VIDEO | OUDIO

Ons het gekom by die laaste hoofstuk van Matteus. Dit is moontlik die laaste hoofstuk in sy verhaal, maar beslis nie die einde nie! Terselfdertyd is dit ook die eerste hoofstuk van ‘n splinternuwe verhaal. Hierdie is ‘n verhaal van uitbundige blydskap, lewe en ‘n toekoms sonder perke!

Dit is vroeg die Sondagmôre. Die bitter lang Sabbat is verby en die twee Maria’s is op pad na die graf om daar dinge te gaan afhandel. Jesus is só haastig begrawe die Vrydagmiddag voordat die Sabbat sou begin, dat daar nie eers tyd was om behoorlik afskeid te neem nie. Hulle wil nou na die graf gaan kyk, moontlik om totsiens te sê?

Skielik word hulle tot stilstand geruk as die aarde onder hulle voete skud. Hulle is doodsbenoud – wat sou dit beteken? Dit is die tweede aardbewing wat hulle voel in drie dae. Die vorige een het gebeur toe hulle Meester, Jesus gesterf het. Daardie was beslis ‘n Godsverskyning! Sou hierdie tweede skudding dalk ook een wees? Verskrik en met wild-kloppende harte stap hulle haastig verder na die graf toe wanneer die rammeling ophou. Het iets verskrikliks dalk daar gebeur?

Wanneer die twee vroue by die graf kom, skrik hulle hulle vir die tweede keer die oggend yskoud. Wat hulle daar aantref, vul hulle met skok en afgryse. Die klip voor die opening van die graf is weggerol. Wie sou tog so ‘n verskriklike ding wou doen? Dit is egter nie die oop graf wat hulle die meeste ontstel nie. Dit is die “man” wat op die grafklip sit! Hierdie is nie ‘n mens nie! Sy gesig blink so skerp dat ‘n mens hom nie in die oë kan kyk nie. Sy hele gestalte is soos weerligstrale, en sy klere skitterwit. Sowat het hulle nog nóóit gesien nie! Die arme twee vroue bewe van angs en hulle knieë word jellie. Maar dan kom ‘n gerusstellende stem van die “man”: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde.” Hy begin dan in ‘n gerusstellende stem vir hulle vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het, net soos wat Hy al by verskeie geleenthede vir hulle gesê het. Stadig begin dit by die twee vroue deurskemer dat hierdie gladnie ‘n man is nie, maar inderdaad ‘n engel! Hy nooi hulle om te kom kyk na die plek waar Jesus gelê het. Die graf is leeg!

Die vroue kan nie glo wat hulle sien nie: “Dan was alles tóg waar!” Die engel sê dat hulle gou moet maak en vir die ander gaan vertel dat Jesus opgestaan het. Die twee vrouens bewe van pure angs, maar terselfdertyd ook van blydskap. “Jesus leef! Jesus leef!” Hulle borrel behóórlik oor van blydskap! Hulle hardloop so vinnig as wat hulle voete hulle kan dra en wat hulle fladderende rokke dit toelaat om hierdie wonderlike nuus aan die moedelose dissipels te gaan uitbasuin. “Jesus leef! Ons Here leef!”

Voordat hulle egter by die dissipels kan uitkom, word hulle in hulle spore gestuit. Skielik, asof uit nêrens, staan Jesus voor hulle. Vir die derde keer die oggend skrik hulle hulle asvaal. As hulle oor die skok kom, hardloop hulle nader en gryp Hom aan die voete terwyl hulle voor Hom kniel en Hom aanbid. “O watter vreugde! O watter blydskap!” Hulle is nou totaal verward. Hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie. Alles lyk so onwerklik! “Moenie bang wees nie.” Jesus kalmeer hulle. “Gaan sê vir My broers dat hulle na Galilea toe moet gaan - daar sal hulle My sien.

Huppelend van vreugde hardloop die twee daar weg. Ek kan myself net die prentjie voorstel toe hulle by die ander kom. Hoedat hulle gebabbel het om die nuus oor te dra, en al die vrae en die opgewondenheid!

Maar daar is ook ‘n ander sy van die verhaal, een van donker en onheilspellende dinge. Toe die engel vroeg daardie oggend opdaag by die graf, het die soldate wat daar wagdiens doen nog rustig op hulle pos gestaan. Toe skud die aarde! Terwyl hulle nog vol angs wonder oor hierdie vreesaanjaende “natuurverskynsel”, verskyn die engel hier vlakvoor hulle - skitterblink en skrikwekkend. So groot was hulle skok dat hulle “soos dooies geword het!” Later, toe hulle bykom en die skade sien, het hulle uitasem na die Joodse leiers toe gehardloop en vertel wat gebeur het. Die manne was bitter ontsteld! Hulle kon beslis nie verklaar wat presies hier nou eintlik gebeur het nie! Uit desperaatheid het hulle die wagte betaal om die storie te versprei dat die dissipels Jesus se lyk gesteel het!

Niemand het Jesus sien opstaan nie, nie die wagte nie, want hulle het mos soos dooies neergeval. Ook nie die vroue nie want hulle was nog op pad. Al “bewys” was die leë graf en natuurlik die Jesus-verskyning. Hy verskyn egter slegs aan die gelowiges. Geen ongelowige sien Hom ooit nie! Het Jesus werklik opgestaan? Is dit nie dalk net ‘n versinsel nie? Inderdaad is dit ‘n fisiese werklikheid, net soos die leë graf en die vroue wat Sy voete gegryp het. Hierdie is egter nie bewyse van Sy opstanding nie, maar tekens wat in geloof aangegryp moet word. Uiteindelik het die Jode die teken gekry waarvoor hulle gevra het, maar dit het hulle nie tot geloof beweeg nie. Die vraag is of dit jóú al tot geloof gelei het……..?

Gebed:

Ek jubel en juig vanoggend, Here, want U leef! U hét waarlik opgestaan! U is my Koning en my Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026