1 Korintiërs 1:26-31
In die “goeie ou dae” het ons ‘n boshuisie besit in Marloth Park. Met groot ywer het ek ‘n grasperk aangeplant, en hy was welig groen. Maar toe kom daar een jaar ‘n droogte, en te midde van die kosskaarste ontdek die vlakvarke hierdie stukkie oase in die vaal bos. Dit was die einde van my mooi grasperk, en al wat oorgebly het was die kaal grond!
Die volgende lente plant ek met groot ywer wéér ‘n grasperk, maar dié slag gebruik ek wilde gras wat ek oral in die veld uithaal. Dit was ‘n baie slim idee, altans so het ek gedink. Die varke het gedink dat ek dit spesiaal vir hulle daar geplant het, en ‘n paar weke later was daar nie eers ‘n teken dat daar ooit gras geplant was nie. Toe koop ek grassaad, die beste, taaiste en duurste op die mark. Sorgvuldig berei ek die grond voor, gee kompos en strooi kunsmis. Ek bedek die gras met doringtakke sodat géén vlakvark ooit daar naby kan kom nie. Boonop installeer ek ‘n besproeiingstelsel om die grassies ‘n goeie kans in die lewe te gee……...
Die varke het die sproeiers se pypies uitgegrawe om by die water te kom, die takke van die groenigheid afgegaffel en my grasperk wortel en tak uitgegrawe totdat daar net ‘n omgeploegte land oorgebly het! Al my slim planne het net mooi niks opgelewer nie!
In skrille teenstelling hiermee, het ek met verwondering toegekyk hoedat ‘n dorre veld waar slegs klippe en rooi grond ná ‘n droogte die landskap oorheers, na slegs een enkele goeie bui reën feitlik oornag omtower word in ‘n grasgroen tapyt, sonder kunsmis, sonder beskerming, sonder versorging! Waar het ek dan verkeerd gegaan?
Paulus gesels oor ‘n héél ander soort grasperk, maar tóg is daar merkwaardige ooreenkomste.
Die wêreld probeer om “godsdiens” te bedryf volgens hulle eie maatstawwe. Die slimste mense moontlik word ingespan om met hulle oorvloed wysheid dinge uit te werk, te beplan en te bedink. Invloedryke mense met hope geld in hulle sakke word aangestel om dinge te bedryf. Op die oog af lyk dit dikwels of hulle baie vermag, en dat hulle planne voor die wind verloop. Maar die eerste “droogte” of plaag wat hulle tref, verongeluk al hulle slim planne, en dit stort in duie!
God werk anders, totáál anders! Hy gebruik dikwels die doodgewone mense om as Sy werkers en gesante op te tree. Eenvoudige vissermanne en plaasboere word bemagtig, en die resultate is verstommend! Die Bybel vertel vir ons van talle sulke gevalle. Nie alleen was daar ‘n Petrus (‘n eenvoudige visserman) en ‘n Amos (‘n plaasboer) wat wondere verrig het as werkers van die Here nie, maar daar was selfs totaal ongeleerde mense soos die Samaritaanse vrou met die slegte reputasie wat Jesus by die put ontmoet het. Sy het ‘n groot aantal mense na Jesus gelei. En wat van die mal kêrel wat kaal in die begraafplaas rondgedwaal het? Nadat Jesus die duiwels uit hom gedryf het, het hy die woord verkondig in die Dekapolis en ‘n reuse taak verrig.
Uit ‘n wêreldse oogpunt, is hierdie dinge gans onmoontlik, pure gekheid! “Wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam,” skryf Paulus in 1 Kor 1:27.
Nou wat is die geheim dan? Die groot geheim is dat God betrokke is! Sonder Hom is die mens se beste pogings ‘n totale flop. Mét Hom is enigiets moontlik. En dit bring ons dan by die betekenis van hierdie gedagte vir my en jou vandag. Hy werk nog steeds op presies dieselfde wyse. Hy gebruik steeds doodgewone mense om die Evangelie uit te dra.
Die NG Kerk het ‘n ruk gelede begin om doodgewone lidmate aanlyn op te lei as predikers. Dit maak my baie opgewonde! Om die Woord te verkondig, is nie die voorreg van slegs ‘n paar hoogsgeleerde mense nie. Dit is elke gelowige se plig, en ons as gelowiges moet bereid wees om opgelei te word om dit effektief te kan doen. Daar is ‘n magdom van leermateriaal beskikbaar wat die oningeligte gelowige die vaardigheid gee om dit te kan doen.
Daar is egter een baie groot voorwaarde: Gód moet die uitgangspunt en die middelpunt wees van jou bediening. Alles moet rondom Hom alléén sentreer en jou krag hiervoor kan jy alleen van Hóm put. O ja, die Heilige Gees rus jou toe met soveel krag as wat jy kan hanteer, solank jy Hom toelaat om dit te doen. Dit is ook van uiterste belang dat jy jou laat lei deur Hom. Ons moet ook onthou dat ek en jy slegs ‘n werktuig in Sy bekwame hande is, en dat ons daarom aan die einde van die dag ál die eer slegs aan Hom mag gee. Dit is immers nie my eie slimmigheid nie, maar God wat die werk deur my doen. In 1 Kor. 1:31 skryf Paulus: “Die wat wil roem, moet in die Here roem!”
Gebed:
Here, ek is beskikbaar - U kan my gebruik waar U wil. Dankie dat ek ‘n instrument in U hand mag wees. Al die eer bring ek aan U!