Hooghartigheid

23 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hooghartigheid

Amos 6:8-14

Video - Oudio

3600 Jaar gelede was daar ‘n hoogsontwikkelde beskawing op die Griekse eiland Kreta. Opgrawings het die mooiste kunswerke denkbaar blootgelê. Hierdie mense het in absolute luuksheid geleef en ‘n lewensstandaard gehad wat al hulle bure baie ver vooruit was. En toe, een afgryslike dag verdwyn hulle van die gesig van die aarde af. Al hulle mooi paleise is verwoes, en skielik het die ganse beskawing net ophou bestaan. Wat het gebeur? Argeoloë het kop gekrap oor hierdie eienaardige geval. Deur jarelange speurwerk en met die hulp van deskundiges oor ‘n wye spektrum, het hulle uiteindelik ‘n prentjie begin vorm van wat daar gebeur het.

Sowat 120 km noord van Kreta is daar ‘n klein eilandjie met die naam Santorini. 3600 Jaar gelede het ‘n verskriklike ramp hierdie eilandjie getref, toe daar ‘n vulkaniese uitbarsting was wat groter was as enige ander wat ooit in die menslike geskiedenis van die Middelandse See plaasgevind het. Die ontploffing van rots en magma het al die Griekse eilande gehul in ‘n pikswart wolk van as en rook wat honderde kilometer die hemelruim ingeslinger is. So erg was hierdie ontploffing, dat ‘n reuse gat in die aarde geruk is, en ‘n groot deel van die eiland vir ewig onder die see verdwyn het.

Die gevolge van hierdie uitbarsting het egter baie verder gestrek as net Santorini. Dit het ‘n reuse tsoenami veroorsaak wat die kus van Kreta getref het teen ‘n duiselingwekkende spoed en met verwoestende krag, wat op plekke etlike kilometers ver die binneland in, alles en almal meegesleur het. Hemelhoë skokgolwe storm aan teen die kus en verbrysel alles in sy pad. Vir die inwoners op Kreta, wat hulle stede almal langs die kus gehad het, was daar absoluut géén waarskuwing en geen wegkomkans nie. In ‘n oogwink is ‘n ganse beskawing van die gesig van die aarde af weggevee, sodat daar vandag slegs enkele muurskilderye en kunswerke oorgebly het, wat begrawe was onder die meters puin, om ons te herinner aan die weelde van weleer.

‘n Mens sidder as jy dink wat sou gebeur as so ‘n tsoenami Suid-Afrika moes tref. Die ganse stad, Durban sou verdwyn, en van ‘n mooi kusdorp soos Ballito, sou daar weinig oorbly. Dit is egter wat Amos beskryf as hy praat van die toorn van God oor die volk Israel wat so diep in sonde verval het: “Ek het ‘n weersin in sy mooi huise!”, dra Amos die boodskap van die Almagtige oor aan die volk. Later sê hy: “Wanneer die Here die bevel gee, word die huise platgeslaan, in puin gelê, groot en klein.” Dit sou egter nie ‘n tsoenami wees wat Israel sou tref nie, maar die vyand wat hulle sou verwoes.

Ons moet die vraag vra: “Wat is dit dan wat die toorn van God so laat ontvlam?” Ons het reeds uit die vorige gedeeltes verskeie dinge gesien, waarvan die volk se onderdrukking van die minder bevoorregtes seker die belangrikste is. In hierdie gedeelte kom daar egter ook ‘n paar ander na vore: die eerste is hulle hooghartigheid, waarin die Here ‘n afsku het. Dit beteken om verwaand te wees, of  ‘n groot gevoel van eie waarde te hê. 

Ek ken mense wat so hooghartig is, dat slegs één enkele mens sy lewe oorheers, hy sélf. ‘n Baie goeie voorbeeld is die oorgrote meerderheid van politici, met tóg enkele uitsonderings! Politiek maak jou uiters egosentries, en ál waaraan jy dink is om héél bo op die stellasie te kom, al trap jy op talle koppe. Jy maak die regte geluide, en gee voor dat jy die volk se belange op jou hart dra, maar intussen verryk jy jouself, ry die mees luukse motors en bly in paleise.

Ongelukkig kom hierdie hooghartigheid op alle vlakke van die samelewing voor, en dit sypel dikwels selfs die kerk binne. Die probleem is dat daardie gogga op verskeie terreine van die lewe manifesteer. Dit is nie alleen jou medemens wat daaronder lei nie, maar dit maak ook dat jy begin vergeet van jou afhanklikheid van God. “Ek is in volle beheer van my eie lewe!” is gewoonlik die lewensuitkyk van iemand wat hooghartig is. Dikwels is so ‘n persoon ‘n werkslaaf, en daar is nie tyd vir enigiets anders nie, veral nie vir God nie. Hy kry die bewondering van mense, want hy is ‘n “selfgemaakte” man wat deur harde werk homself opgewerk het van niks na die hoogste vlak. Nee, daar is niks verkeerd met harde werk nie, maar dit is die gesindheid wat tel, en aan wie die eer gaan vir jou sukses. 

Ek en jy moet egter nie probeer vinger wys na ander nie! Ons moet kyk na ons eie lewens. Kry die Here ooit die eer wat Hom toekom? Leef ek in totale afhanklikheid van Hom? Besef ek hoeveel ek aan Hom te danke het vir alles wat ek het? Maak ek genoeg tyd vir Hom? En hoe behandel ek my medemens? Kom ons begin by onsself, en laat ons lewe ‘n suurdeeg wees wat elkeen rondom ons se lewens sal beïnvloed.

Gebed:

Here, ek bely vanoggend dat daar so ‘n oormag is van hooghartigheid in ons land, en ek is sélf ook skuldig daaraan. Wees ons genadig en vergewe Heer - asseblief!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026