Efesiërs 3:17-19
Is dit dan werklik nodig om dinge weer en weer te herhaal?
As jy ‘n ouer is met jong kinders, sal jy sékerlik weet dat jy elke aand met badtyd dieselfde rympie moet herhaal: “Was agter jou ore; onthou jou hare; moenie die héle badkamer natmors nie……!” As jy dit nie weer en weer herhaal nie, gaan dit net eenvoudig nie gebeur nie. “Maar ek is mos nie ‘n kind nie!” sou jy dalk wou protesteer. Almiskie! Maar daar is sommige dinge in die lewe wat jy oor en oor móét hoor, anders vergeet jy baie gou en jou geloof verswak.
Paulus is inderdaad in hierdie opsig ook geen uitsondering nie en op alle moontlike maniere herhaal hy die feit oor en oor dat gelowiges hulle redding alleen aan God te danke het. Op géén ander manier is daar redding, behalwe deur Jesus Christus nie! As God die gelowige nie gered het en sy kind gemaak het nie, sou hy beslis verlore gewees het. Kan dit ooit genoeg gesê word? O, uit eie ondervinding weet ek dat as ek dit nie dikwels hoor nie, begin ek naderhand daarvan vergeet en dink ek dat ek my eie heil kan uitwerk. Ek begin glo dat dit my eie prestasies en goeie hoedanighede is wat vir my redding bring!
Paulus doen in hierdie Skrifgedeelte voorbidding vir die lesers. Dalk het Paulus dit só nodig gehad op daardie stadium in die tronk, om ‘n slag aan homself te dink en dalk vir God te vra om hom te verlos uit sy ellende. Tóg is daar nie eers sprake van nie. Sy gebede gaan nie oor sy eie ellendige lot nie, maar oor diegene wat sy brief lees.
Let egter mooi op waaroor sy gebed gaan. Dis beslis nie oor materiële dinge nie! Nie dat hulle groot rykdom sal hê, of dat dit liggaamlik met hulle goed sal gaan nie. Nee, sy gebed gaan oor die belangrikste van alle dinge - dít wat wérklik saakmaak! Hy bid dat elkeen wat die brief lees (en natuurlik sluit dit ook vir jou en my vandag in), innerlik, oftewel geestelik sterk sal word! Dat God deur die Heilige Gees vir ons daardie krag sal gee uit die rykdom van Sy heerlikheid. Daardie wonderlike “Kragbron” is tot ons elkeen se beskikking. Dit is ‘n absoluut-onuitputlike Bron, gevoed uit die onmeetlike rykdom van God. Waarom sal ons dit dan nie gebruik nie?
Hy bid ook dat Jesus Christus deur geloof in ons harte sal woon. Die feit is dat Jesus nie gesmeek hoef te word om in ons harte te woon nie. Hy staan alrééds in afwagting gereed vir ons om oop te maak. Dit is eintlik óns wat gesmeek word om Hóm toe te laat!
Verder bid Paulus dat ons in liefde gewortel en gegrondves sal wees. Jesus het alreeds álles gedoen! Hy het ons vrygekoop, saligheid en lewe gegee en boonop óók vir ons die Heilige Gees gegee. Hy het selfs vir ons ‘n voorbeeld kom stel hoe om liefde prakties uit te leef. Nou smeek Hy by ons om ook daardie liefde in óns lewens te implementeer op álle lewensterreine. Nee, nie sommer net hier en daar ‘n blykie van liefde nie, maar dit moet ‘n integrale deel word van ons daaglikse bestaan.
Paulus skryf in verse 18 en 19: “…. sodat julle volledig in staat mag wees om tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan....”
Ek dink nie ons kan ooit begryp hoe ver Jesus se liefde strek nie. Deur egter liefde te leef, begin jy so ‘n ietsie ervaar van die onmeetlike omvang van Sy liefde. Paulus se gebed is dan ook dat ons intensief bewus sal word van daardie liefde wat alle verstand te bowe gaan. Hy wil hê dat ons totaal en al vervul sal word met die liefde en daarmee saam die volheid van God.
Jy sê dalk dat hierdie hoë gedagtes alles slegs wensdenkery is? Nee, beslis nie! Dit is binne die bereik van elke gelowige. Maak net jou hart, lewe en verstand oop daarvoor en die Heilige Gees sal die res doen.
Wanneer dit dan die dag met jou gebeur dat jy meegevoer word tot ‘n geestelike hoogtepunt, durf jy nóóit geestelik hoogmoedig raak nie. Dan moet jy besef waar jou krag en spiritualiteit hulle oorsprong het. Dit is God alleen wat jou daardie dinge onverdiend kan gee, en nog oneindig baie meer as wat ons menslike verstand kan verwerk. Ja, aan Hom alleen kom al die eer, lof, dank en aanbidding toe! Ons durf nooit óóit die eer vir onsself toeëien nie, want in Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge, in die hemel en op die aarde. En dan besef ons net weereens: God is wáárlik Liefde!
Gebed:
Here, God-Almagtig, ek val vanoggend in aanbidding voor U neer, want sonder U is ek niks. U is die Een wat my lewe en krag gee. Dankie Here, dankie vir U wonderbare liefde!