Hoe vier ons Nagmaal?

20 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe vier ons Nagmaal?

1 Korintiërs 11:17-26

VIDEO | LUISTER

Vanoggend s’n is ‘n baie eenvoudige onderwerp - altans op die oog af. Ons ken almal die gebruike rondom die Nagmaal, en die betekenis daarvan. Wel, dis wat ons dink, maar dis gladnie so eenvoudig as wat dit wil voorkom nie. Waarom vier ons die Nagmaal soos ons dit vandag doen, en waar kom die gebruike vandaan?

Daar is die bekende storietjie van die dogtertjie wat staan en kyk het hoe haar ma ‘n hoender gaarmaak. “Ma, waarom breek mammie die vlerkies af?” wou sy weet.

“Omdat my mamma my so geleer het!”

Later wil sy van Ouma weet waarom ‘n mens die hoender se vlerkies moet afbreek as jy hom gaarmaak, en weereens kom die antwoord dat sy dit van háár ma geleer het.

Toe die kind uiteindelik die geleentheid kry om met Ouma Grootjie te gesels, is sy baie nuuskierig oor hoekom Oumagrootjie dan vir Ouma en Mamma so geleer het. “Nee, my kind”, kom die bewerige ou stemmetjie, “Daardie jare was my kastrol te klein, en ek moes eers die vlerkies afbreek om die hoender te kon inpas.”

Ek het nou ook maar altyd aangeneem dat die Nagmaal vandag so gevier word omdat die vroegste kerk dit so gedoen het. Ek was verkeerd!

Ons weet natuurlik dat die Nagmaal sy oorsprong het by die aand voor Jesus se kruisiging, toe Hy en Sy twaalf dissipels saam die Paasmaal geëet het. Etlike jare later lei ons af uit Paulus se brief aan die Korintiërs dat die gelowiges gereeld ‘n gemeenskaplike maaltyd gehou het. Gemeentelede het hulle kos en wyn saamgebring na die erediens om dit saam te geniet, en só ook die Nagmaal te vier. Dit was nie maar ‘n simboliese maaltyd met ‘n flentertjie brood en ‘n paar druppels wyn nie, maar ‘n behóórlike maaltyd!

Meer as ‘n duisend jaar het verloop voordat daar weer behóórlik na die gebruik rondom die Nagmaal gekyk is. Intussen het die Roomse kerk die mis gehad waar ‘n vorm van daaglikse Nagmaalviering betrokke was. Toe Martin Luther in 1517 sy 95 stellinge van hervorming teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het, het dinge begin verander, maar die Nagmaal het baie dieselfde gebly. Zwingly (nog ’n groot Hervormer) het ’n paar jaar later eers voorgestel dat dinge moes verander. Uiteindelik was dit Calvyn wat ‘n behoorlike uiteensetting van die Nagmaalsgebruike ingestel het. Volgens hom moes dit elke week gevier word, want Woordverkondiging móét gepaard gaan met Nagmaalsviering. Om praktiese redes het die weeklikse viering later maandeliks en later kwartaalliks geword. Verder het die hele karakter van Nagmaalviering ook deur die jare verander. Wat oorspronklik ‘n vreugdesmaal was, het stelselmatig verander in een van rou en droefheid.

Selfs in ons eie Afrikaanse geskiedenis het die gebruike rondom Nagmaal oor die afgelope 100 jaar drasties verander. Destyds het ‘n Nagmaal maklik twee weke geduur. Boere het van heinde en verre gekom en op die dorpsplein uitgekamp. Daar is gekatkiseer, getrou, kerkgehou en Nagmaal gevier. Selfs toe ek nog kind was, was Nagmaal steeds ‘n baie groot geleentheid, wat ‘n hele naweek geduur het. Vrydagaand was dit die voorbereidingdiens. Sondagoggend Nagmaal, die middag nabetragting en Sondagaand danksegging. Vandag het dit totaal afgewater, en ek dink ons maak gáns te min daarvan! Die wonderlike simboliek van Nagmaal gaan soms by ons verby, omdat dit dikwels slegs ‘n noodsaaklike ritueel en ‘n stukkie onverstaanbare tradisie geword het wat in ‘n vlietende oomblik tydens ‘n doodgewone erediens verbyvlieg.

Hoe ons Nagmaal moet vier, word ongelukkig nêrens in die Bybel vir ons uiteengesit nie. Paulus het juis in Korinte ‘n groot probleem gehad, omdat hulle Nagmaalsviering heeltemal handuit geruk het. Sommige mense het hulleself totaal te buite gegaan met kos en wyn, terwyl ander moes honger ly. Dit het die hele gees van Nagmaalviering totaal doodgemaak. Paulus se eenvoudige riglyn vir wat moet gebeur, beskryf hy in 1 Kor 11:23-26, waar hy bloot verduidelik dat die Here op die laaste nag die brood saam met Sy dissipels gebreek het en vir hulle gesê het dat dit Sy liggaam is wat gebreek is vir hulle, en dat hulle dit moes gebruik tot Sy gedagtenis. Toe het Hy die beker met wyn omgestuur en verduidelik dat dit die nuwe verbond is wat deur Sy bloed beseël is, en dat hulle dit tot Sy gedagtenis moes gebruik.

Wat maak ek en jy met hierdie gedagtenismaaltyd? Is dit nog vir ons ‘n besonderse vreugdemaal ter ere van Hom? Of is dit dalk maar net ‘n stukkie onverstaanbare tradisie? En Ds./Pastoor, wat maak jy om vir jou gemeente die Nagmaal ‘n besonderse belewenis te maak? Het dit vir jou ook maar net ‘n formaliteit geword wat afgehandel moet word? Of is dit iets wat jou laat bewe van opwinding, en doen jy spesiale moeite om dit vir jou gemeente ‘n wonderlike belewenis te maak?

Gebed:

Here, so dikwels het Nagmaal al by my verbygevlieg. Help my om dit weereens te beleef as iets baie spesiaal!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026