Hoe vertel ek iemand van Jesus?

29 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe vertel ek iemand van Jesus?

Matteus 28:16-20

Kyk die Video

Jesus het vir oulaas voor Sy hemelvaart ‘n laaste aankondiging vir die elftal. Dit bestaan uit ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag asook ‘n belofte. Jesus het volmag, álle mag behoort aan Hom! Dit is dus met outoriteit dat Hy hulle die opdrag gee. Sy opdrag is vierledig: gaan, maak dissipels, doop en leer. In kort, die sendingopdrag. Die opdrag is dus om die wye wêreld in te gaan en wêreldwyd die Evangelie van Jesus Christus te vestig, die sakrament van die doop te bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, asook vir God met oorgawe dien. Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Jesus te lei nie. Dit is egter baie belangrik dat hierdie bekeerlinge opgelei moet word sodat hulle ware dissipels sal word, wat op hulle beurt weer uitgaan om dissipels, oftewel werkers vir die Koninkryk te werf en op te lei.

Toe Jesus met daardie manne gepraat het, het Hy eintlik ook met jou en my gepraat. Meeste Christen-gelowiges het vandag egter “lui” of bang geword vir die opdrag, en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer al die mooi dinge wat na hulle kant toe kom. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke Christen. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf manne daar op die berg, om die Evangelie uit te dra na die wêreld en dissipels te maak. Omstandighede het natuurlik geweldig verander, maar vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, whatsapp, radio en nog baie ander. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels in plekke smokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.

Die vraag is, hoe kan ek betrokke raak? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?

Vir die meeste gelowiges is hierdie opdrag ‘n reuse berg. Hoe vertel ek? Waar begin ek? Wat moet ek sê? En die gevolg is dat min mense ooit by die uitvoering van die opdrag uitkom.

Daar is oor die jare verskeie kursusse saamgestel oor hoe om die Evangelie effektief uit te dra. Seker die bekendste hiervan is EEIII en Getroue Getuies. Die vraag is of ek eers ‘n kursus moet loop voordat ek die Evangelie aan iemand anders kan oordra?

Ons kan die waarde van hierdie kursusse nooit genoeg beklemtoon nie. Hulle is van groot waarde. Maar enige gelowige het die vermoë om die blye nuus van Jesus se Verlossing te kan oorvertel, al het jy nog nooit so ‘n kursus gedoen nie.

In die volgende paar dagstukkies gaan ons kyk na ‘n paar baie belangrike gedagtes. Hierdie is nie ‘n kits-kursus in evangelisasie nie, maar slegs ‘n paar riglyne. Die vraag is: hoe lei ek iemand na Jesus?

Die eerste stap om iemand na Jesus te lei is om uit te vind of die persoon wel gered is of nie. ‘n Paar eenvoudige vrae kan jou baie gou die antwoord gee.

As jy vandag te sterwe sou kom - waar dink jy sal jy heen gaan?

Iemand wat ongelowig is sal antwoord dat hy nie weet nie, of dat hy hoop om dalk in die hemel te kom. Of dalk sal hy reguit sê dat hy beslis nie die hemel sal haal nie. Ons moet egter versigtig wees met ons afleiding, want daar is ook gelowiges wat onseker is of hulle wel gered is.

As iemand egter sê dat hy hemel toe gaan, dan is dit nog nie ‘n uitgemaakte saak dat hy wél gelowig is nie. Volgens sommige mense is daar baie verskillende paaie hemel toe. Dus help die tweede vraag jou om uit te vind waar die persoon se geloof lê.

Wanneer jy by die hemelpoorte kom, en die Here sou jou vra op grond waarvan Hy jou in Sy Hemel moet toelaat - wat sou jy Hom antwoord?

Party mense sal sê dat hulle gereeld kerk toe gaan of Bybel lees of bid of goed doen aan ander mense. Al hierdie dinge is pragtig, maar niks hiervan kry jou in die hemel nie. Jesus is die enigste Weg na Saligheid.

Nou kan jy vir die persoon die goeie nuus vertel, dat God hom baie liefhet, en dat Hy ‘n wonderlike plan vir die persoon se lewe het. In Johannes 3:16 staan: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die Ewige Lewe sal hê.” God wil graag hê dat alle mense gered sal word. In Johannes 10:10 sê Jesus: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Handelinge 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.” 1 Joh 5:13 - “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

More gaan ons DV verder met hierdie vraag.

Gebed:

Here, ek wil so graag ook in U wingerd werk en vir U dissipels maak. Leer my hoe om dit te doen, en gee my asseblief die ywer daarvoor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024