Hoe vertel ek? (deel 2)

30 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe vertel ek? (deel 2)

Romeine 3:21-31

Kyk die Video

Die vraag is: Waarom is daar dan so baie mense wat nie die ewige lewe het nie? Wat keer mense weg van God se liefde af?

Die Skrifgedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is seker die deel wat die meeste gebruik word deur “sielesoekers” (dis nou mense wat ander na Jesus lei.) Romeine 3:23-24 is die evangelie in ‘n neutedop, en daardie enkele woordjies het al gelei tot redding van talle mense. Maar hierdie verkwikkende fonteintjie in die Bybel kom eintlik eers tot sy volle reg as jy die voorafgaande deel van Romeine deurgeworstel het.

In die vorige hoofstukke word ek en jy al meer in ‘n hoek gedryf, wanneer Paulus met fyn berekende argumente indringende vrae oor jou vra, vrae wat jou lewe tot op die been oopvlek. Die verskriklike gevolge van ‘n lewe sonder God word woord-vir-woord uitgespel, totdat jy moedeloos uitroep: “Wee my! Ek is verlore!

Dan kom Paulus met die onbegryplike, allesoorheersende nuus van God se vryspraak. Maar voordat ons dalk dink dat God sommer net al die sonde vergeef en daarvan vergeet, moet ons baie duidelik besef dat God absoluut heilig is, en dat sonde vir Hom ‘n verskriklike ding is wat nie ongestraf durf bly nie. GOD STRAF SONDE!

Die probleem is dat sonde mense weg hou van God af - dit keer dat ons die ewige lewe kan kry. In Romeine 3:23 skryf Paulus baie duidelik en op die man af: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”.

Romeine 6:23 sê wat die gevolge is: “Die loon wat die sonde gee, is die dood”.

Jesaja 53:6 sê: “Ons het almal gedwaal soos skape”.

Lukas 13:3 skryf: “as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.

In Johannes 3:3 sê Jesus vir Nikodemus: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

Jy sien dus dat die mens eintlik verlore is in sy sonde. Dit is nie ‘n mooi prentjie nie.

Die vraag is, of ek myself uit hierdie verknorsing sal kan uitwurm? Kan ek myself red? Sê nou maar ek kom al die gebooie streng na? Sê nou maar ek lees die Bybel gereeld en ek bid getrou elke dag? Wat daarvan as ek boonop getrou elke Sondag kerktoe gaan en my tiendes vir die Here gee en my lewe opoffer vir my medemens?

En die antwoord vind ons weereens in die Bybel. Jakobus 2:10 - “As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.” Romeine 3:20 lees: “geen mens word op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek nie”.

Spreuke 14:12 som dit alles baie mooi op: “Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.

Die kort en lank daarvan is dus: Ek kan myself baie beslis nie red nie! Nie eers met die mooiste, Godsdienstigste, voorbeeldigste, liefdevolste lewe nie!

Op die oog af lyk alles dus totaal verlore. Is daar dan nog énigsins hoop op redding?

Die wonderlike nuus is dat God gesien het hoe verlore ons mense eintlik is, en dat Hy vir ons voorsiening gemaak het om gered te kan word.

In Romeine 5:8 skryf Paulus: “Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Jesus het in ons plek gesterf.

2 Korintiërs 5:21 - “God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons .... deur God vrygespreek kan wees.”

Een ding moet ons egter baie goed verstaan: Jesus is die ENIGSTE Weg tot verlossing. Nie Mohammed, Buddha, Chrishna of selfs Maria nie, maar slegs Jesus is die weg na saligheid en die weg na God.

Johannes 14:6 stel dit duidelik, waar Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Daar is dus slegs een pad na die saligheid, en daardie pad loop deur Jesus. Hy het vir al ons sondes betaal toe Hy aan die kruis op Golgota gesterf het.

Maar nou is die baie belangrike vraag: Hoe kom ek by Hom uit? Wat moet ek dan doen om gered te word?

More gaan ons na daardie brandende vraag kyk!

Gebed:

Here, ek het ook my eie paadjie probeer loop om by U uit te kom, maar dit was hopeloos. Dankie dat U liefde en genade so groot was oor my, dat U ook vir my die antwoord gegee het, en my gered het uit my verlorenheid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026