Titus 2:1-15 (deel 1)
In ons vorige dagstukkie het ons gesien dat Paulus vir Timoteus sê dat slegs geloof in Jesus genoeg is, en dat hy die wettestelsel van die Jode verwerp. Nou kom Paulus in hierdie gedeelte en hy stel ‘n lys van reëls saam wat nodig is om reg te kan lewe. Dis mos teenstrydig! Nee, Paulus se motief vir hierdie voorskrifte is nie ‘n voorvereiste vir verlossing nie, maar hy wil hierdeur verseker dat die Woord van God nie in diskrediet gebring word nie. Dit gaan dus nie oor jou gedrag sodat jy verlossing kan kry nie, maar eerder jou gedrag as gevolg van jou verlossing.
Paulus se strategie in hierdie korrupte wêreld is dat die gelowiges sal uitstaan in die samelewing. Die dinge wat vir die publiek eerbaar is, is die dinge waarin die gelowiges moet uitmunt. Hulle moet met ander woorde vir die samelewing ‘n aanwins wees sodat God hierdeur verheerlik kan word, en die Evangelie geloofwaardig kan wees. Deur so ‘n uitstaande lewe te lei, sal ongelowiges wat tot geloof kom, hulle as voorbeeld sien van hoe ‘n gelowige behoort te leef. Op hulle beurt sal hulle weer ‘n bydrae kan lewer tot ‘n beter samelewing. ‘n Hele kettingreaksie!
Paulus praat met letterlik elke vlak van die samelewing, van volksleiers tot slawe, want geloof is nie beperk tot slegs sekere vlakke nie, maar vir elkeen.
Paulus begin by die ouer mans, en hy beklemtoon die belangrikheid van hulle voorbeeld vir die samelewing. Dikwels vind jy dat ouer mense dink dat hulle rol in die samelewing uitgedien is, maar die teendeel is waar. Deur hulle gedrag het hulle ‘n geweldige groot invloed op kinders en kleinkinders.
Drankmisbruik is gewoonlik ‘n integrale deel van die spiraal van agteruitgang van ‘n siek samelewing. Hoe dikwels gebeur dit nie dat iemand probeer om sy hopelose omstandighede te versuip. Op Kreta was dit ‘n geweldige probleem, selfs in die kerk! Daarom dat Paulus dit héél eerste noem. Maar dit is nie net in Kreta nie, in Suid Afrika is alkoholmisbruik ‘n reuse probleem, veral in armer dele van die samelewing. Dit het ‘n vernietigende effek. Waar drankmisbruik voorkom kan daar geen geestelike groei wees nie. Lees maar gerus Efes. 5:18.
‘n Ouer gelowige moet presies die teenoorgestelde gedrag openbaar as ‘n dronkaard:
Dronk mense gedra hulle skandalig - gelowiges tree eerbaar op.
Dronk mense doen dwase dinge - gelowiges moet verstandig wees.
Dronk mense is siek en onvas op hulle voete - gelowiges moet geestelik gesond wees en standvastig.
Maar nie alleen moet daar ‘n sterk kontras wees tussen die lewe van ‘n gelowige en dié van ‘n dronkaard nie. Hulle moet ook ‘n teenvoeter bied teen dronkenskap. Wanneer jy vas in die geloof staan, ander mense se belange op die hart dra en deur die krag van die Heilige Gees leef, sal jy aanhou doen wat God van jou vra (volharding), en dan sal drankmisbruik geen vatkans op jou lewe hê nie.
Nou gaan Paulus na die ouer vroue en hy lê ‘n paar baie belangrike gedagtes in hulle midde. Drankmisbruik was ook by húlle ‘n groot probleem, maar die ander pynlike saak was kwaadpraat. Gaan lees maar in Jakobus 3:1-12 watter geweldige skade skinder en kwaadpraat kan aanrig! ‘n Lekker sappige skindersessie kan reuse skade veroorsaak. Dit is so maklik (en lekker) om te vertel van iemand anders se verleentheid, maar dit kan iemand dalk bitter seer maak.
As jy liefde uitleef, sal jy nie deelneem aan sulke gesprekke nie, want hierdeur openbaar jy die uiterste vorm van liefdeloosheid. Dit is veral onder die ouer vroue wat hierdie onding kan uitbroei, en Paulus wil hulle leer om die tong eerder in te span as ‘n wapen vir die goeie as om dit te gebruik as ‘n wapen van massaverwoesting. Ouer vroue sit gewoonlik met ‘n ryk skat van geloofs- en lewenservaring, en veral jongmense kan baie by hulle leer. ‘n Goeie voorbeeld is die oggend-bybelstudie geleentheid in ons gemeente in Ballito wat grootliks deur ouer vroue hanteer word. Elkeen wat dit bywoon word geestelik gevoed, en groei in hulle geloofslewe.
Dit help egter niks as jy al die kennis het, dit selfs oordra nie, maar jou lewe is nie ‘n voorbeeld van wat jy verkondig nie, want dan is jy skynheilig. Nee, met ‘n heilige lewe probeer jy jou nie voordoen as iemand wat beter is as ander mense nie. Jy voer eerder God se opdrag uit om Sy beeld te vertoon.
Die spreekwoord is baie waar: Woorde wek, maar voorbeelde trek.
Gebed:
Heilige Gees, maak asseblief my lewe ‘n voorbeeld vir ander mense, sodat hulle U in die spieël van my lewe kan sien.