Hoe Moet Ek Dan Bid?

25 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe Moet Ek Dan Bid?

Matteus 6:5-15

VIDEO | OUDIO

Simon skud sy kop meewarig: “Meester, kyk net na daardie kêrel – hy staan sowaar en bid op die straathoek! Dis nou wat ek noem dweep met sy Godsdiens. Dink hy miskien hy kan iemand beïndruk daarmee? Dis pateties!”

Jesus draai na die ander volgelinge toe: “Wat dink julle? Is dit nie dalk reg om so diep Godsdienstig te wees soos daardie man nie? Hy wys dan vir die wêreld dat hy onwrikbaar in sy geloof staan. Is dit nie dalk reg nie?”

Johannes, die jongste van die klomp skud sy kop: “Ek weet darem nie so mooi nie. Maar daardie man wat gister in die Sinagoge so lank aanmekaar gebid het – ek wens so dat ek so kon bid, hy het so mooi gespeel met sy woorde.”

“Meester, ek sukkel om te bid, ons arme vissermanne is mos nou nie juis aangelê om sulke mooi lang gebede te doen nie.” Simon lyk half verleë oor sy belydenis.

“Nou goed, kom ons sit hier, dan verduidelik Ek. Die kêrel op die straathoek en die man in die sinagoge met sy hoogdrawende, uitgerekte gebed bid net sodat mense hulle kan bewonder. Dis skynheiligheid! Vergeet maar daarvan om sulke aanskoulike gebede in die openbaar te wil doen. Gebed is 'n persoonlike gesprek tussen jou en God. Gaan liewer in jou kamer in en maak die deur agter jou toe, dan kan jy met God gesels oor die dinge wat in jou hart is.”

“Rabbi, ek het nou die dag iemand hoor bid, maar dit het geklink soos 'n waterval!” lag Jakobus. “Dit was net een aaneenlopende stroom woorde sonder ophou.”

“Ja Jakobus, dit is soos die heidene bid. Hoe meer dinge hulle kan sê in 'n kort tydjie, en hoe harder hulle praat, hoe sterker glo hulle dat hulle god hulle sal hoor.”

Jesus sug: hierdie manne het só baie om te leer, en die tyd is só min! Sy gereelde dissipels het nou al mooi aangegroei in getalle - dis nou nie net meer die paar vissermanne nie. Daar is nou ook etlike ander en selfs 'n paar vroue wat Hom elke dag volg.

“Weet julle wat? Julle Vader weet alreeds wat julle nodig het nog voordat julle Hom iets vra!”

“Meester, leer ons asseblieftog hoe om reg te bid.” Simon se stem het iets van 'n smeking daarin. Hy wil só graag leer van sy Meester.

“So moet julle bid:” sê Jesus, “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.”

Simon sit 'n rukkie en herkou aan hierdie kort, kragtige gebed. Maar iets pla hom: “Meester, ek weet darem nie so mooi nie.”

“Simon, wat pla?”

“Meester, dis daardie vergewe-ding. Ek sukkel daarmee! Ek het Johannes vergewe omdat hy my geslaan het toe ek met hom 'n grappie wou maak. En ek het Andreas vergewe oor hy van my by my pa geskinder het. Maar daardie Romein wat my nou die dag geklap het – ek sal hom nooit in der ewigheid vergewe nie!”

“Simon, Simon, as jy nie iemand anders se oortredinge teenoor jou vergewe nie, hoe kan jy dan verwag dat die Vader jou moet vergewe?”

“Maar Meester......” wil Simon protesteer.

“Onderhou jy elke dag die wet ten volle? Het jy nog nooit teen God gesondig nie?”

Simon raak rooi in die gesig. Hy weet nie waar om te kyk nie, want hy besef maar al te goed dat hy g'n engeltjie is nie. Sy sondes lê hemelhoog opgestapel.

“Simon, as jy ander mense wat teen jou oortree vergewe, sal jou hemelse Vader ál jou sondes vergewe.”

Simon is nou doodstil, en hy voel bitter skuldig. Sal die Here hom óóit al sy sondes kan vergewe? Hy probeer só hard, maar as hy hom weer kan kry dan doen hy maar weer die verkeerde ding. Hy praat voor hy dink en hy het al soveel mense daarmee seergemaak. “Ek sal my bes probeer om daardie Romein te vergewe – dit sal bitter moeilik gaan! Here, vergewe my!” huil hy in sy hart.

Vandag is gebed steeds vir baie gelowiges 'n teer sakie. Die héél belangrikste om te onthou, is dat dit 'n gesprek met God is. En dit geld veral vir openbare gebed, waar ek dikwels hoor hoe die persoon wat bid eintlik met die mense praat – vir hulle preek of 'n gedagte by hulle probeer tuisbring terwyl die gesprek eintlik met God gaan.

Gebed is beslis ook nie 'n wenslysie waar ek net vra en vra en vra nie. In die eerste plek bring ek in die gebed my eer en lof en dank aan God omdat Hy so wonderlik is en omdat Hy alreeds so baie vir my gedoen het en steeds doen. Ek wil so graag hê dat baie meer mense dieselfde sal doen, daarom spreek ek my versugting uit oor die uitbreiding van God se koninkryk.

Maar ek mag ook maar vir myself dinge van God vra, want Hy is immers my hemelse Vader en waarom sal Hy dan nie vir my sorg en ook in my behoeftes voorsien nie?

Gebed:

Here, dankie dat U my Vader is, en dat U my alreeds vergewe het. Dankie dat ek met U kan gesels!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026