Het jy My lief?

16 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het jy My lief?

Johannes 21:15-25

Jesus en sy dissipels sit op die strand en eet ‘n ontbyt. Op die spyskaart is brood en vis, vars uit die see. Petrus en sy manne het vroeër die oggend die asemrowende wonderwerk beleef toe hulle na 'n lang nag se vrugtelose hengel, op Jesus se bevel die nette aan die ander kant van die boot uitgegooi het. Hulle het sopas die swaar nette, wat tot oorlopens toe vol gelaai was met 153 groot visse, uitgesleep.

Ek sien hierdie prentjie in my geestesoog, rustig, met die klein brandertjies wat saggies teen die strand aanklots. ‘n Groot rustigheid het ook toegesak op die vissermanne na hierdie groot vangs waarmee hulle moes stoei.

Dan vra Jesus vir Petrus hierdie indringende vraag: "..... het jy My baie lief...?” Wat sou jou antwoord wees as Jesus jou vandag daardie vraag moes vra? Natuurlik sal jy net soos Petrus antwoord: “Maar natúúrlik Here, U weet mos dat ek U liefhet!” Natúúrlik het ek en jy vir Jesus lief. Ons sê dit dikwels vir Hom wanneer ons met Hom praat. Ons sê dit selfs vir ander mense.

Toe Jesus ‘n tweede keer vir Petrus hierdie vraag vra, begin hy half kriewelrig raak: "Hoekom sou die Meester die vraag vir my tweekeer vra? Weet Hy dalk iets van my af wat ek baie goed wegsteek?” Daar sak ‘n ongemaklike stilte toe oor hierdie groepie manne. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. "Pas My skape op,” sê Jesus vir Petrus.

Dit is ‘n baie groot opdrag wat Petrus hier kry. Jesus het ‘n groot "kudde" bymekaargemaak oor die drie jaar van Sy openbare optrede, ‘n reuse skare van mense wat Hom gevolg het en dag-vir-dag aan Sy lippe gehang het oor die wonderlike dinge wat Hy gesê het. Dit is nou Petrus se plig om hierdie kudde te gaan versorg. Petrus herkou nog aan hierdie groot opdrag, toe bars die bom. ‘n Derde keer wil Jesus weet of Petrus hom liefhet. Petrus bars in trane uit: Waarom sou die Here hom driemaal vra of hy Hom liefhet? Die Here weet alles, ÁLLES! Natúúrlik weet Hy van al sy mislukkings! Natúúrlik weet Hy van al die kere toe Petrus so liederlik gefaal het!

Natúúrlik weet die Here van daardie verskriklike nag toe Petrus Hom in Sy uur van nood verloën het. Hy weet van elke dingetjie wat in Petrus se gedagtes aangaan, selfs elke ding wat niemand anders van weet nie. Petrus is maar net ‘n sondige mens, maar ten spyte van al sy swakhede en gebreke kry hy steeds die opdrag van Jesus om Sy kudde op te pas. Hoe kan Jesus hom só vertrou ten spyte van sy liefdeloosheid en al sy ander swakhede?

Vanoggend praat Jesus net so duidelik met my en met jou, liewe vriend en vriendin. Ek gesels nou al geruime tyd elke dag met jou deur die dagstukkies. Enkele van die lesers ken ek persoonlik, maar vir jou ken ek waarskynlik gladnie eers nie, nog nooit gesien nie. Ek wens so dat dit anders kon wees en dat ek elke leser kon ontmoet en dat ons saam oor 'n koppie koffie kon gesels oor hierdie dinge, maar dit is natuurlik totaal onmoontlik. En veral nou soveel meer so, terwyl ons ingekluister sit in ons huise met die inperkings. En ons kan slegs deur die media kommunikeer.

Maar Jesus ken my en jou deur en deur. Die Here weet alles, ÁLLES! Soos Petrus kan ons ook maar net vanoggend in trane voor Hom kom staan en ons harte uitstort, want ons liefde vir Hom skiet so verskriklik ver tekort. Dag-vir-dag bedroef ons Hom met ons liefdelose optrede en ons talle sondes. Maar ten spyte van dit alles het Hy ons steeds so onbeskryflik baie lief. Hy het elke sonde van my en jou reeds vergewe en vergeet.

Sy opdrag aan ons is dan ook vanoggend om te gaan skape oppas. Hoe jy daardie opdrag gaan uitvoer is ‘n saak tussen jou en Jesus. Party van ons het baie skape gekry om na om te sien, en party net een skapie, maar die Here gee vir elkeen na sy eie vermoë. Hy vra net dat ons daardie skape wat Hy aan ons toevertrou het goed moet versorg, met liefde.

Die beeld wat Jesus gebruik van skape oppas, is nie 'n nuwe een nie. Hy het dit by verskeie geleenthede gebruik in Sy bediening. Hy het onder meer gesê dat Hy die Goeie Herder is wat sorg vir Sy skape. En dat Hy agter een enkele verlore skaap sal aanloop.

Nou wentel Jesus hierdie Herderskap af na Petrus. En ook na elke gelowige! Hy het reeds die voorbeeld gestel hoe die skape opgepas moet word. Nou vra Hy dat ons dieselfde gaan doen, en skape oppas na Sy voorbeeld. Beslis nie 'n maklike taak nie! Maar dit is beslis haalbaar.

More doen ons DV die laaste dagstukkie in hierdie reeks oor Jesus se bediening.

Gebed:

Here Jesus, nadat ek hierdie vier Evangelies gelees het, kan ek nie anders nie as om in aanbidding voor U, die Skepper van die hemel en die aarde neer te val. U is die wonderbare Lig wat helder skyn. Dankie dat ek kan weet dat U liefde vir my oneindig groot is. Leer my om U ook waarlik lief te hê, en om U opdragte uit te voer, ook die opdrag om skape op te pas.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026