Het jy My lief?

20 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het jy My lief?

Johannes 21:15-25

VIDEO * OUDIO

Ons het aan die einde gekom van hierdie wonderlike boek wat Johannes geskryf het. Vir die afgelope vier maande was dit vir my ‘n wonderlike voorreg om met jou hierdie boodskap van God se wonderbare Lig wat in die duister skyn te deel. Elke dag was vir myself ‘n verrassing, want dikwels het ek self nie eers geweet wat die boodskap van die oordenking sou wees totdat ek die laaste reëls geskryf het nie. Die reeks oordenkinge is nou saamgevat in ‘n e-boek met die titel: “Ontmoet Jesus!” Die boek is uniek in dat jy die keuse het om dit te lees, na die oordenkinge te luister óf om na video opnames daarvan te kyk. Dit is gratis! Kyk gerus op ons webblad.

Jesus en sy dissipels sit op die strand en eet ontbyt. Op die spyskaart is brood en vis, vars uit die see, nadat Petrus en sy manne die swaar nette wat tot oorlopens toe vol gelaai was uitgesleep het. Dis ‘n rustige toneeltjie, met die klein brandertjies wat saggies teen die strand aanklots. ‘n Groot rustigheid het ook toegesak op die vissermanne na hierdie groot vangs waarmee hulle moes stoei. En dan, uit die bloute vra Jesus vir Petrus hierdie indringende vraag: "..... het jy My baie lief...?”

Wat sou jou antwoord wees as Jesus jou vandag daardie vraag moes vra? Natuurlik sal jy nés Petrus antwoord: “Maar natúúrlik Here, U weet mos dat ek U liefhet!” Natúúrlik het ek en jy vir Jesus lief. Ons sê dit dikwels vir Hom wanneer ons met Hom praat. Ons sê dit selfs vir ander mense.

Wanneer Jesus ‘n tweede keer vir Petrus hierdie vraag vra, begin daar ontstellende gedagtes deur Petrus se kop gaan: "Hoekom sou die Meester die vraag vir my twee keer vra? Weet Hy dalk iets van my af wat ek baie goed wegsteek?” Daar sak ‘n ongemaklike stilte toe oor hierdie groepie manne. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. "Pas My skape op,” sê Jesus vir Petrus.

Dit is ‘n baie groot opdrag wat Petrus hier kry. Jesus het ‘n groot "kudde" bymekaargemaak oor die drie jaar van Sy openbare optrede, ‘n reuse skare mense wat Hom gevolg het en dag-vir-dag aan Sy lippe gehang het oor die wonderlike dinge wat Hy gesê het. Dit is nou Petrus se plig om hierdie kudde te gaan versorg. Petrus herkou nog aan hierdie groot opdrag, dan bars die bom, want ‘n derde keer vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet.

Petrus bars in trane uit: Waarom sou die Here hom driemaal vra of hy Hom liefhet? Die Here weet alles- ÁLLES! Natúúrlik weet Hy van al sy mislukkings! Natúúrlik weet Hy van al die kere wat hy so liederlik gefaal het! Natúúrlik weet die Here van daardie verskriklike nag toe hy Hom in Sy uur van nood verloën het. Hy weet van elke dingetjie wat in Petrus se gedagtes aangaan - selfs elke ding waarvan niemand anders weet nie! Petrus is maar net ‘n sondige mens, maar ten spyte van al sy swakhede en gebreke kry hy stééds die opdrag van Jesus om Sy kudde op te pas. Hoe kán Jesus hom só vertrou ten spyte van sy liefdeloosheid en al sy ander swakhede?

Vanoggend praat Jesus net so duidelik met my en met jou, liewe vriend, vriendin. Hy gesels nou al geruime tyd elke dag met jou deur die oordenkinge. Enkele van die lesers ken ek persoonlik, maar vir jou ken ek waarskynlik gladnie eers nie - nog nooit gesien nie! Ek wens so dat dit anders kon wees, en dat ek elke leser kon ontmoet en dat ons saam oor 'n koppie koffie kon gesels oor hierdie dinge, maar dit is natuurlik totaal onmoontlik!

Maar Jesus ken my en jou deur en deur. Die Here weet alles - ÁLLES! Soos Petrus kan ons ook maar net vanoggend in trane voor Hom kom staan en ons harte uitstort, want ons liefde vir Hom skiet so verskriklik ver tekort. Dag-vir-dag bedroef ons Hom met ons liefdelose optrede en ons talle sondes. Maar ten spyte van dit alles het Hy ons steeds so onmeetlik baie lief. Hy het elke sonde van my en jou reeds vergewe en vergeet.

Sy opdrag aan ons is dan ook vanoggend om te gaan skape oppas. Hoe jy daardie opdrag gaan uitvoer is ‘n saak tussen jou en Jesus. Party van ons het baie skape gekry om na om te sien en party dalk net een skapie, maar die Here gee vir elkeen na sy eie vermoë. Hy vra net dat ons daardie skape wat Hy ons gegee het goed moet versorg, met liefde.

Ek wil hierdie reeks oordenkinge oor Johannes se Evangelie afsluit met ‘n opsomming. God het Sy wonderbare lig gestuur na hierdie donker wêreld. Dit het Hom duur gekos, want in die proses moes sy Seun, Jesus, verneder word en met Sy lewe daarvoor betaal. Dit het bewys hoe ongelooflik groot God se liefde vir jou en my is. Ek en jy is die spieëls wat hierdie Lig moet weerkaats sodat elkeen met wie ons in aanraking kom Jesus kan sien. Op hierdie manier betoon ons ook ons dankbaarheid en sê ons dat ons ook vir Jesus lief is.

Gebed:

Here Jesus, nadat ek hierdie Evangelie gelees het, kan ek nie anders nie as om in aanbidding voor U, die Skepper van die hemel en die aarde neer te val. U is die wonderbare Lig wat helder skyn. Dankie dat ek kan weet dat U liefde vir my oneindig groot is. Leer my om U ook waarlik lief te hê, en om U opdragte uit te voer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026