Het God Verander?

19 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het God Verander?

Maleagi 3:6,7

VIDEO * OUDIO

Die vraag kom op: “Waarom gaan dinge sleg met ons? Lê die oorsaak nie dalk by God nie? Het Hy nie dalk verander nie? Dalk is ons haglike omstandighede, die ekonomie, misdaad, petrolprys, korrupsie ens. juis te danke aan die feit dat God nie meer dieselfde is nie!”

Die Here antwoord onomwonde in vers 6: “Ek, die Here, het immers nie verander nie.” Hy besweer hierdie vraag wat op baie mense se gemoed lê, nie alleen vandag nie, maar ook in Maleagi se tyd.

En dan verduidelik die Here in vers 7 dat hulle al baie lank al nie meer leef soos wat Hy dit van hulle verwag nie: “Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie.”

As ons maar net ‘n slag deur die geskiedenisboeke van Israel gaan blaai, sien ons dat hulle skaars uit Egipte was, toe die gekerm en gekla alreeds deur die woestyn weergalm het. Enkele weke na die uittog begin het, bou hulle al 'n afgodsbeeld, en dit terwyl Moses besig was om die wet van God te ontvang!

Só klein was hulle vertroue in hierdie Almagtige God, wat hulle daagliks kos uit die hemel gegee het, en talle wonderwerke gedoen het, dat hulle uiteindelik geweier het om die beloofde land binne te gaan! Hulle het God nie genoeg vertrou nie! Die gevolg was dat God verplig was om hulle vir 40 jaar in die woestyn te laat rondswerf totdat hulle uiteindelik gereed was om Hom te vertrou.

Dan was daar groot vreugde toe hulle uiteindelik die land kon betree wat God aan hulle beloof het. Maar skaars het hulle ingeburger, of hulle het al klaar weer vergeet van God! Hulle aanbid afgode, en doen alles wat God hulle gevra het om NIE te doen nie. Lees gerus maar die boek Rigters, en jy sal die refrein in feitlik elke perikoop sien: “Die Israeliete het WEER gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here!” Oor en oor lees ons dit. Dan het die Here maar wéér ingegryp, en hulle kom tot bekering, om maar net wéér in sonde te verval!

Die koningstydperk het aangebreek, en daar het 'n Dawid gekom wat die volk op die regte pad probeer lei het. Maar die verval het weer gekom, en die volk het maar net wéér begin om al die verkeerde dinge te doen. Afgodery was die grootste euwel. Wanneer daar 'n koning op die troon was wat God gedien het, het hy die volk op die regte pad gelei, maar dit was keer op keer slegs van korte duur, en dan was hulle alwéér ver weg van God af!

Die onverstaanbare is dat God hulle telkemale maar net weer vergewe en opgerig het. God se oneindige genade oor hierdie weerbarstige volk was onmeetbaar groot!

Só groot is Sy genade dat Hy uiteindelik hierdie selfde weerbarstige volk uitkies om die plek te wees waar Sy Seun gebore sou word om Sy groot verlossingswerk te kom doen.

En uit hierdie einste volk tree die eerste getuies na vore wat die Evangelieboodskap oor die ganse wêreld heen moes gaan versprei.

Kan daar groter liefde wees? Kan daar groter genade wees?

Wanneer Maleagi met die volk praat, is hulle alwéér in die moeilikheid soos gewoonlik. En dan kerm hulle.

God se eenvoudige antwoord aan hulle in vers 7 is: “Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer.”

Die verstommende is dat God steeds nooit opgegee het met die volk nie. Na die hóéveelste oproep tot bekering, kom die Here net weereens en soebat hulle om terug te kom na Hom toe. Hy wou hulle so graag as Sy eie volk hê. Sy onveranderlike trou is hier duidelik sigbaar.

“Hoe moet ons terugkeer?” het die volk verbaas gevra. “Waarom moet ons dan nou tot bekering kom?”

So verstommend soos God se groot genade en geduld, so verstommend en onverstaanbaar was die volk se reaksie op God se oproep.

Is dit nie dikwels vandag ook maar die manier waarop ons reageer nie? Vra ons nie dikwels ook maar dieselfde vraag nie? Oral waar ons gaan word ons gekondisioneer om sonder God klaar te kom. Ons werk, en aan die einde van die maand is daar 'n salaris wat betaal vir alles wat ons nodig het. Sonder God se hulp? Ons onthaal vriende, en God is nie vir een oomblik deel van ons gesprek of ons joligheid nie. Ons gaan hou vakansie, en los vir God by die huis!

Ons het onsensitief geraak vir 'n hegte, persoonlike verhouding met die Here. Die gedragskodes van die gemeenskap skryf vir ons 'n etiese kode voor wat ons heeltemal respektabele burgers van die samelewing maak. Almal trek tog só aan. Almal praat só. Hierdie vloekwoorde het só die norm van die lewe geword, en almal gebruik dit tog, waarom moet ek dan anders wees?

Is dit dan nog énigsins nodig dat ons ons moet bekeer? Ek gló mos in Jesus, is dit dan nie genoeg nie? Die Bybel leer mos dat as ek in Jesus glo, dan is ek op die regte pad. Dan kan ek mos maar maak soos ek wil, solank ek darem nou nie doodslaan en steel nie, want dit is darem té erg!

Om in Jesus te glo, beteken om in 'n lewende verhouding met Hom te staan. Wanneer daar só 'n verhouding is, sál daar 'n daaglikse bekering wees! Nie om elke keer weer vergifnis te ontvang nie, maar omdat ek alrééds vergewe is. Dan sal ek doen wat Hy van my vra, nie om straf vry te spring of 'n beloning te kry nie, maar omdat Hy my liefhet, en ek my dankbaarheid in liefde teenoor Hom wil uitleef.

Gebed:

Here ek het U baie lief. Dankie vir U groot genade.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026