Herstel

28 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Herstel

Jesaja 11:11-12:6

Oor die afgelope weke het ons gehoor van God se oordeel oor Israel en Juda. Inderdaad sou hulle vernietig word, en hulle sou oor die aarde verstrooi word in ballingskap. Gister het ons gelees van die dooie stomp wat weer lewe kry en uitspruit om ‘n nuwe boom te word. Dit gebeur met die vestiging van die Messiasryk.

In vers 11 lees ons nou die blye woorde: “In dié tyd sal die Here 'n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die kuslande rondom die Middellandse See.” Die ballingskap vir albei volke sal verbygaan en hulle sal van regoor die wêreld terugkeer na hulle land.

Terloops, waar hier gepraat word van Efraem, verwys Jesaja na die tien-stammeryk van Israel. Jy sal onthou dat die volk ná Salomo se dood geskeur het en twee aparte nasies gevorm het, Juda en Benjamin die Suidryk en die ander tien stamme die Noordryk, oftewel Israel. Aanvanklik is slegs Israel weggevoer in ballingskap en eers baie jare later is Juda ook weggevoer in ‘n tweede ballingskap.

Nou gee Jesaja die blye nuus dat die Here wél die twee volke sal laat terugkeer van alle uithoeke van die aarde af. En dan sal die volgende wonderwerk gebeur, die groot vyandskap tussen die twee volke sal verdwyn en hulle sal weer een word, nét soos hulle was in die groot Koning Dawid se tyd. Efraem (Israel) sal nie meer jaloers wees op Juda nie.

Hierdie terugkeer na Palestina is in werklikheid ‘n tweede uittog, nés die groot uittog uit Egipte destyds, waar die Here hulle gered het uit die hand van die Egiptenare. En soos Hy daardie tyd vir hulle die pad voorberei het, gaan Hy nou weer vir hulle ‘n pad voorberei na hulle vaderland.

Wat het gebeur met hierdie volk dat hulle hele gesindheid so verander het? Ons wil vandag graag hierdie hele ballingskap sage as ‘n baie droewige en slegte tyd in die lewe van die volk sien. Maar delf ons ‘n bietjie dieper, dan staan ons verstom oor die uitwerking wat die ballingskap op hulle gehad het.

Hier in die vreemde het die mense weer begin dink en vrae vra. Hulle het eintlik al lankal vergeet van die verhale oor hulle herkoms. Nou hoor hulle by die vreemde volke dinge soos skeppingsverhale, en hulle vra uit oor wat die volk van God se weergawe is van daardie verhale. Waar kom hulle eintlik vandaan?

Dan begin die profete om al hierdie oorvertellings wat al oor duisende jare saam met die volk gaan, neer te skryf. Waar daar tot dusver slegs enkele boeke of fragmente op skrif was, begin hulle die verhale saamvoeg, en etlike Bybelboeke sien die lig. Een van die laastes om saamgestel te word, is die boek oor die ontstaan van alles, en oor hulle voorvaders, Genesis.

Mense begin weer om van God te leer. Omdat daar nie ‘n tempel, die plek van aanbidding is nie, begin hulle om oral klein plekkies van aanbidding te stig waar mense bymekaar kan kom om te aanbid en te leer van die Here. So ontstaan die sinagoges, waar Paulus honderde jare later dikwels sy prediking gedoen het. ‘n Splinternuwe spiritualiteit ontwikkel by die volk.

Ons het dikwels eers groot swaarkry in ons lewens nodig voordat ons weer die Here waarlik waardeer en ons lewens aan Hom wy.

Dit is ‘n blye dag wanneer die volk terugkeer met ‘n lied in die hart en ‘n nuwe waardering vir God. Om daardie rede sal daar op daardie dag ‘n loflied opstyg uit die nuwe volk van God: “Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee. 2God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” (Jesaja 12:1-3).

Die oorblyfsel keer terug. Hulle besef maar ál te deeglik dat slegs God die lot van die volk kan verander. Hierdie is ‘n geloofsles wat hulle op die harde manier geleer het daar in die vreemde, ver van hulle vaderland af. Daarom kan hulle dit maar net jubelend sing: “Ek loof U, Here!

God is die “Fontein van redding” vir Sy kinders. Hy is die een wat verkwikking, blydskap, lewenskrag en verlossing gee. En elkeen wat dit ervaar moet saam met die volk van destyds ‘n loflied sing vir die Here. Ons doen dit deur Sy wonderlike Naam bekend te maak onder almal wat oor ons pad kom.

Jesaja sluit hierdie lied af met: “Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!” Hy is stééds by ons!

Gebed:

Here, ek loof U grote Naam, want U, die Almagtige God is steeds met my, en U ontferm U oor my!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026