Daniël 9:4-14
Plagiaat! Plagiaat! So wil party Bybelkritici skree oor Daniël se gebed.
Maar kom ons begin héél voor: Wanneer Daniël Jeremia se profesieë lees, dan kom hy baie diep onder die besef dat sy volk gesondig het. Ja. hulle is in ballingskap weggevoer uit hulle geliefde land. Die vraag is of hulle nie dalk elke oomblik van hierdie verskriklike tyd verdien het nie? Wat doen Daniël? Kerm en weeklaag hy oor sy lot? Reël hy ‘n protesoptog om die Jode te laat gaan? Stuur hy ‘n petisie na tien miljoen mense per WhatsApp? Nee, Daniël doen wat hy deur die jare geleer het om te doen - hy bid. Diep bewus van die feit dat daar slegs EEN is wat na hom sal luister, gaan hy na God en stort sy hart en siel voor Hom uit.
Wanneer jy ernstige probleme in jou lewe ondervind, dan ontlont dit jou opgekropte angs/woede/frustrasie onmiddellik as jy jou hart kan uitpraat teenoor iemand wat bereid is om te luister. Die persoon hoef nie eers raad te gee of selfs te troos nie! Die blote gedagte dat iemand bereid is om jou aan te hoor, is klaar genoeg. Talle mense het al vir my geskryf en vir meeste het ek absoluut geen raad nie. Dikwels skryf die persoon dat hy/sy nie ‘n antwoord vra nie, maar net wil hê dat ek luister. Natuurlik is dit baie gerieflik, want ek is ‘n totale buitestaander en ek ken die skrywers gladnie. Juis daarom is dit vir hulle soveel makliker om hulle hart leeg te praat teenoor my. Elkeen van hierdie briewe ruk my diep in die hart, en ek huil dikwels saam met die skrywers…...
Wanneer Daniël sy hart uitpraat teenoor God, dan merk ons iets wat vaagweg bekend klink. Hierdie gebed van hom is nie “oorspronklik” nie - ons lees presies dieselfde woorde elders in die Bybel. Het Daniël dan plagiaat gepleeg en iemand anders se gebed gebruik? Daniël het eenvoudig gedoen wat baie predikers vandag ook doen, naamlik om uit die Skrif te bid. Kan jy ‘n beter manier gebruik om jou woorde te vorm? Ek het al baie hoogdrawende gebede in my lewe gehoor - gebede wat kunstig aanmekaargesit is om die hoorders daarvan diep te beïndruk. Jesus het ons egter geleer dat ‘n gelowige gebed die een is wat deur die Woord gedra word en dat die hoogmoedige gebed wat deurspek is met mooi woorde die een is wat teen die plafon vasslaan. In Jesus se gelykenis is die gebed van die sondaar: “Wees my, arme sondaar genadig!” van onskatbare waarde, juis oor die eenvoud, eerlikheid en Skrifgebondenheid daarvan.
Daniël se aangrypende gebed bestaan uit drie dele. Die eerste gaan oor die verbond wat God met hulle gesluit het. Die tweede handel oor die wet, seën en straf, en die derde fokus op Jerusalem en die tempel. Die hele gebed is egter ‘n lang en aangrypende skuldbelydenis. Die grootste deel van die gebed kan saamgevat word in die woorde van Psalm 79:8: “Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte op ons laat neerkom nie”
In die laaste paar jare het ons diep onder die indruk van hierdie woorde gestaan in Suid-Afrika, waar ons dikwels herinner word aan die sondes van ons voorgeslagte. As ons maar net gaan kyk na die skrikwekkende wreedhede wat gepleeg is deur ons voorvaders - waar die inheemse volke van ons land dikwels gesien is as “probleem-diere” wat gejag moes word. So is die Boesmans uitgeroei en die woestyn ingedryf - nie alleen deur die Blanke nedersetters nie, maar dikwels ook deur ander inheemse groepe. Gaan lees gerus maar die reeks verhale van Roger Webster - “At The Fireside”, en jou hare staan regop oor sommige gruwelverhale uit ons geskiedenis. Ja, daar sien ons dat sommige geharde misdadigers selfs heldestatus gekry het. En as dit vandag gebeur, is ons geskok daaroor! Jy kan hier meer lees oor die onmenslike behandeling van slawe in die Kaap: Slawe in die Kaap!
Dit is egter nie net uit die geskiedenis wat die ongeregtighede van ons volk na vore kom nie: Die huidige is in baie gevalle dalk nog meër van ‘n riller. Moord, roof, verkragting, rassehaat, gesinsmoorde - ag, hierdie is maar enkeles van die gruwels wat vandag ons lewens oorheers. Ons as gelowiges kan baie maklik sê: “Maar dis nie óns nie!” Die feit is egter dat ek as mens nie ‘n indiwidu is in hierdie land nie, maar onlosmaaklik deel van ‘n baie groot groep. Die vrome Daniël het saam met die ander onverskillige Jode gely. Daarom bid hy nie vir homself nie, maar vir sy volk as geheel. “Ons het gesondig.....”
Dit het tyd geword dat ek en jy loskom van ‘n persoonlikheids- of “ek-godsdiens”. Ons moet teruggaan na die Woord, en tot die Heilige Gees bid om die skille van ons oë af te haal. Ons het nodig om losgeruk te word van die idee dat ons die Laaste Christenvolk op aarde” is, en dat ons ‘n slag na ons eie sondes sal kyk.
Gebed:
Here, ek bid vir ons land en volk: gee deur U Heilige Gees vir ons die wysheid en krag om U weer as U verbondsvolk te dien en eer. Vergewe ons asseblief die talle gruweldade wat selfs vandag nog voortduur!