Judas:14-19
Ons verkeer dikwels onder die wanpersepsie dat die Ou Testament die enigste geestelike boek was wat die mense van die Bybelse tye geken het. Daar was egter verskeie boeke beskikbaar en sommige daarvan was van groot waarde, veral in die Joodse leefwêreld. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septauginta, het byvoorbeeld etlike van die Apokriewe boeke ingesluit. En dit is die Bybel wat Paulus gebruik het, en hy haal ook soms aan uit hierdie Apokriewe geskrifte. Terloops, septauginta beteken "sewentig" en verwys daarna dat sewentig Skrifgeleerdes aan die vertaling gewerk het.
Die boek 1 Henog was een van hierdie boeke, en het so tussen 200 en 150 vC ontstaan. Dit was goed bekend in die vroeë Christelike kerk en hulle het dit gerespekteer as ‘n boek wat waarde het vir godsdiens. Dit is dan g’n wonder dat selfs Judas aanhalings neem uit hierdie boek om sy punt te bewys nie.
Uit die Bybel leer ons dat Henog ‘n baie besonderse mens was. Henog was die pa van die oudste man in die geskiedenis, Metusalag. In Genesis 5:21-24 lees jy dat hy baie naby aan God geleef het. Hy het nooit gesterf nie, maar hy is deur God weggevoer na die hemel. Daar is slegs een ander mens waarvan ons lees wat op so ‘n wyse weggevoer is na die hemel: Elia, wat voor die oë van sy opvolger, Elisa die hemel ingevaar het op ‘n wa en vurige perde. Vandag wil mense allerhande konnotasies heg aan hierdie gebeurtenis en daar is selfs mense wat wil beweer dat hy deur die "groen mannetjies" ontvoer is. Net so het Henog se hemelvaart die verbeelding aangegryp van die ou Jode en hierdie boek wat Henog se reise deur die hemel asook sy profesieë beskryf het dus tot stand gekom.
Henog is vir ons vandag ‘n goeie voorbeeld van die toekomsverwagting van die Jode van 2000 jaar gelede. Judas het ook aanhalings gemaak uit Die Hemelvaart Van Moses, wat eweneens die Jode se belangstelling geprikkel het. Dit wil egter nie sê dat Judas se bedoeling is dat hierdie soort boeke in die Bybel opgeneem moes wees nie, maar hy het dit bloot gebruik as eietydse illustrasiemateriaal. Die Apokriewe boeke is beskikbaar by CUM, indien jy sou belangstel.
Judas haal aan uit Henog en hy kondig die straf van God aan oor hierdie mense wat so goddeloos lewe en God laster en daarop uit is om slegs vir hulle eie voordeel te werk. Dis natuurlik vandag ook algemene praktyk, selfs by baie gelowiges! Dink ‘n bietjie mooi of sommige van hierdie kenmerke nie dalk jou eie lewe weerspieël nie?
Hoe maklik is dit nie om iemand se mond ‘n bietjie met die heuningkwas te kielie sodat hy goed kan voel nie en dan buit jy dit uit tot jou eie voordeel. Grootpratery is dikwels ook maar ‘n kenmerk van baie gelowiges se lewe. Dis mos lekker om ‘n bietjie jou eie ego te streel en jou vriende te laat verstaan dat jy beter is as wat jy werklik is. Dis veral die hengelaars wat hier struikel! Kyk, ‘n visvangstorie is nie ‘n goeie storie sonder ‘n bietjie by-lieg nie! En vandag word 'n vis se gewig steeds in ponde gemeet, want dit klink net baie groter.......
Judas gaan egter verder en hy haal die woorde van die apostels aan. Sy lesers het waarskynlik al persoonlik met van hierdie apostels te doene gekry en hulle selfs hoor preek. Wat ‘n wonderlike voorreg! Nietemin, die apostels het hulle gewaarsku oor die “laaste dae,” die tyd tussen Jesus se hemelvaart en Sy wederkoms. Onthou: ek en jy leef vandag ook in daardie laaste dae en as ons kyk wat rondom ons besig is om te gebeur, dan weet ons dat die einde nou bitter naby is!
Daar sal verdeeldheid wees tussen ware gelowiges en dwaalleraars, sê Judas. Die groot rede? Hierdie twee groepe mense dien verskillende base. Aan die een kant het ons die mense wat deur hulle eie begeertes oorheers word. Hulle is ook die mense wat die spot dryf met die gelowiges.
Hoe verskriklik intens beleef ons nie vandag hierdie dinge nie. As jy maar gaan kyk hoe dit aangaan in nagklubs, dan staan jou hare regop. Prostitusie is nou wel onwettig, maar in ons land floreer dit en dit was selfs al oorweeg om dit wettig te maak! Mense dryf openlik die spot met gelowiges. Dit maak bitter seer as van ons bekende akteurs ‘n bespotting maak van ons Godsdiens. Die reuse advertensieborde wat plekke soos Teasers opsit is dikwels lasterlik en probeer Christen-wees belaglik maak. Baie van die rolprente wat op TV vertoon word, misbruik die heilige Naam van God en verkleineer Hom en ons geloof.
Judas skilder hierdie negatiewe prentjie om ons aan te spoor om heilig te lewe. “Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof,” pleit Judas by sy lesers in vers 20. Die Heilige Gees gee ons die krag daarvoor. Maar hieroor gesels ons DV weer in ons volgende dagstukkie.
Ek bid jou ‘n wonderlike dag toe, ‘n dag waarin jy die nabyheid van God kennelik sal beleef, veral ook omdat ons vandag die Hemelvaart van Jesus gedenk!
Gebed:
Here, bewaar my asseblief daarvan om soos ‘n dwaalleraar te leef. Heilige Gees, rig my lewe!
Jy kan die boek: Die Openbaring van Henog hier lees of aflaai.