Hardkoppige Ongeloof

4 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hardkoppige Ongeloof

Johannes 10:22-42

VIDEO * OUDIO

In Jerusalem was dit winter. Saam met die winter het een van die Jode se groot feeste gekom, die Fees van die Tempelwyding. Dit het terugdateer tot die jaar 164 vC. Sirië was daardie jare die wêreldheerser en Israel was in sy greep. Aan die hoof het ‘n man gestaan met die naam Antiochus Epifanes, ‘n goddelose despoot. Hy het die naam Epifanes laat byvoeg, dit beteken “geopenbaarde god”. Boonop het hy die liederlikste Godslasterlike dinge van God gesê. Om die Jode ‘n les te leer, het hy die tempel onteer deur ’n beeld van Zeus in die tempel te laat oprig. Hy het selfs ‘n vark op die altaar geoffer.

Na ‘n bloedige stryd slaag Judas Makkabeus egter daarin om die vyand te verdryf en in die winter van die jaar 164 vC word die tempel uiteindelik herstel en weer in gebruik geneem. Daarna word daar elke jaar in die middel van Desember hierdie fees gehou wat agt dae duur.

Tydens hierdie groot feestelikhede was Jesus in die tempel. Die Jode het om Hom saamgedrom en toe soek hulle ‘n reguit antwoord, of Hy die Christus was of nie? Hoeveel keer het Jesus nie alreeds vir hulle die antwoord gegee nie? Maar steeds het hulle nie gehoor wat Hy sê nie. “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie!” Jesus moes seker teen hierdie tyd moedeloos gewees het met hulle. Kon hulle net eenvoudig dan nie verstaan nie?

Vandag hoef ek en jy nie moedeloos te raak as ons die evangelieboodskap aan iemand oordra en hy hardkoppig weier om dit te aanvaar nie. Selfs Jesus het hierdie probleem gehad!

Jesus verduidelik vir die Jode deur weereens die beeld te gebruik van skape. Sy skape staan in ‘n spesiale verhouding met hom - hulle ken Sy stem en volg hom. Soos ‘n goeie Herder, sorg Hy vir hulle. Hy gee hulle selfs die ewige lewe! Hy beskerm hulle met Sy lewe, en niemand sal hulle van Hom kan steel nie. Waarom kan Hy dit doen? Die Vader het hulle vir Hom gegee en natuurlik is die Vader almagtig. Maar meer nog: Jesus en die Vader is Een. Jesus identifiseer Homself dus baie intiem met die Vader.

Wat beteken dit vir ons as Jesus sê dat Hy en die Vader een is? Nee, dit beteken nie dat Jesus die Vader is nie. Die Vader is immers groter as Hy en Jesus bly die gestuurde Seun. Hulle is egter een omdat hulle een wil het. Hulle belange is dieselfde en dit vloei saam. Die eenheid tussen Vader en Seun is ‘n eenheid van wil asook van dade. Dit impliseer natuurlik ook dat Jesus waarlik God is en deel van die Goddelike Drie-Eenheid. En dit weerlê die beweringe van die Jehovah’s Getuies, dat Jesus nie God is nie, maar slegs ‘n Goddelike wese.

Natuurlik het die Jode baie goed begryp wat Jesus gesê het. Dit was in hulle oë niks minder nie as Godslastering, want hiermee wil Jesus Homself as God verhef. Hulle het dan sommer ook klippe opgetel om Hom dood te gooi. Eintlik is dit só ironies, want absoluut alles wat Jesus gedoen en gesê het, het daarop gewys dat Hy waarlik God is. Uit Hom het slegs liefde en goeie dinge gekom, maar daarvoor was hierdie manne totaal blind. “Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle My stenig?” het Jesus hulle gevra. Hulle het hulle egter nie gesteur aan wat Jesus gesê het nie. Hy moes dood omdat Hy Godslasterlike bewerings gemaak het!

Toe kom Jesus met ‘n meesterlike aanhaling uit Psalm 82:6, waar die regters veroordeel word. Hier sê die Here vir hulle dat hulle almal gode is, omdat hulle goddelike uitsprake moes maak en dus vir God moes aanhaal. Hulle het Hom as’t ware op aarde verteenwoordig. As hulle “gode” was, dan soveel te meer is Jesus God. Hy sê dit nou wel nie in soveel woorde nie, maar die implikasie is daar! As die Jode Psalm 82 sou lees, dan kon hulle Jesus nie skuldig vind nie, want alles wat Hy gesê het was korrek volgens die Skrif en daarmee durf hulle nie stry nie. Nou was hulle in ‘n hoek gedryf.

Ai! As die Jode maar net Jesus se woorde en dade wou bymekaarbring. Dan sou hulle tot die besef gekom het dat Jesus en die Vader deel is van die Drie-Eenheid. Maar alles het net mooi niks gehelp nie, want hierdie Jode was beslis nie van Jesus se skape nie en hulle het dus gladnie Sy wonderbare stem herken nie. Hulle het net één ding gesoek: Jesus se dood! Voordat hulle Hom egter kon gryp, het Hy hulle ontglip. Hy het hierna uit Judea na Perea vertrek, ‘n landstreek oorkant die Jordaan. Hoe tragies dat die Jode - Sy eie mense - vir Jesus laat gaan het! Hulle het Hom gehoor en die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het, maar hulle wou Hom nie aanvaar nie en nie in Hom glo nie. Met die mense van Perea was dit egter anders: Hulle het alles onthou wat Johannes die Doper oor Jesus gesê het en dit was vir hulle genoeg om Jesus ten volle te aanvaar en glo! Hy het nie eers nodig gehad om dit met wondertekens te bewys nie. Aan hulle het Hy die ewige lewe gegee.

Gebed:

Here Jesus, ek bid vanoggend vir elkeen wat U woord gehoor het maar steeds onverskillig daarteenoor bly. Open asseblief hulle oë, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026