Haman se Wraak

30 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Haman se Wraak

Ester 3:5-15

Haman is woedend wanneer hy verneem dat Mordegai weier om voor hom te buig: “Ek gaan al die Jode uitroei!” gil hy. ‘n Paar jaar tevore het Koning Ahasveros net so woedend reageer toe Koningin Vasti geweier het om voor sy dronk vriende te kom paradeer. Jy sal nog onthou dat die koning se raadgewers hierdie insident opgeblaas het tot ‘n reuse staatskrisis. En nou kom Haman en hy doen presies dieselfde. Een enkele man weier om aan hom eer te bewys, en hy hardloop na die koning en vertel van die verskriklike omvang van die situasie. Die ganse Joodse volk wat verspreid woon oor die koninkryk, weier deur die bank om die koning se bevele te gehoorsaam. Hulle is soos ‘n spul steeks donkies, weier om te meng met al die ander mense, en hulle verskil van almal. Dit is in staatsbelang dat hulle uitgeroei word!

Haman ruk die saak totaal uit verband. Boonop noem hy nie een keer die naam van hierdie “verskriklike gevaarlike” volk voor die koning nie, en tragies, vra die koning ook nie eers uit wie hulle is nie. As hy gevra het, sou hy sekerlik vir Haman uitgelag het: “Die Israeliete? Ag nee Haman! Hulle is ‘n patetiese spul! Hoe kan hulle nou ‘n bedreiging vir énige samelewing wees?” Maar dit gebeur nie! En met ‘n betoog wat wemel van halwe waarhede en volslae leuens, skilder Haman vir die koning die prentjie van hierdie groot bedreiging.

Dit is so ironies, dat dit juis Potifar se vrou se woede-uitbarsting teenoor Josef was wat hom aanvanklik in die tronk laat beland het, maar indirek het dit veroorsaak dat Josef as eerste minister van Egipte aangestel is. Ahasveros se woede uitbarsting het veroorsaak dat Ester, die Joodse weeskind, koningin van Persië geword het.

Die vraag is: Wat sou Haman se woede uiteindelik vir Mordegai en die Israeliete inhou? Sou dit hulle einde beteken, of sou God weereens ingryp en die man se woede tot Sy volk se voordeel gebruik?

Haman wil dóódseker maak dat Koning Ahasveros mooi luister na wat hy vir hom sê, dus bied hy aan om 352 ton silwer in die land se skatkis in te betaal. Nee, nie 352 kilogram nie, maar TON! Dit is ’n asemrowende groot som geld! Dit is byna soveel as die jaarlikse inkomste van die staat! Ahasveros luister nie eers verder nie, want al wat sy gierige ogies nou sien is die geklingel van berge geld!

Jare tevore het die Farao vir Josef sy seëlring gegee om te doen wat hy goed vind. Nou gee Koning Ahasveros ook sy seëlring vir Haman om te doen wat hy goed vind. Josef red met sy seëlring (en wysheid) ‘n hele volk van hongersnood. Haman beplan om met sy seëlring (en haat) ‘n hele volk totaal uit te roei.

En so word ‘n volk vir ‘n hoop geld verkoop om geslag te word soos skape!

So ironies, word die Koning van alle konings, Jesus die Christus, Verlosser van die wêreld, God Almagtig ‘n paar honderd jaar later vir slegs ‘n paar ou silwerstukkies verkoop - om geslag te word soos ‘n lam!

Die staatsmasjienerie word aan die gang gesit. Haman se bevel, natuurlik met volle gesag van die koning, word na al die uithoeke van die Persiese Ryk uitgestuur. ‘n Ganse volk moet totaal uitgeroei word. “Is dit ooit moontlik?” wil ons vra. Maar dan doem die afgryslike werklikheid weer op van die gebeure tydens die tweede wêreldoorlog, toe Hitler presies dieselfde wou doen met daardie sélfde volk. Ses miljoen Jode is uitgeroei!

Wat Haman se bevel nog meer afgryslik maak, is die feit dat hierdie verskriklike slagting op een spesifieke dag gedoen moes word. Op daardie selfde dag moes elke Jood, man, vrou en kind regoor die wêreld doodgemaak word.

En dit alles gebeur terwyl die koning en Haman rustig saam ‘n glasie wyn sit en drink, so asof niks gebeur nie. En steeds is die koning nie eers bewus van die feit dat dit die Joodse volk is wat bedreig word om uitgeroei te word nie. Nou wonder ek net, het die magtige koning Ahasveros ooit einige idee gehad van wat in sy koninkryk aangaan?

Elders in die stad is dit egter nie so rustig soos in die paleis nie. Om die waarheid te sê, is die hele stad in oproer toe hulle hoor van die afgryslike wetgewing. En Mordegai het ook te hore gekom van die verskriklike lot wat hom en sy volk sou tref, én sy lieflingdogter Ester, die koningin van Persië!

En nou sal ons maar moet wag tot more om uit te vind of die Joodse volk sou oorleef of nie!

Sou die Here werklik in staat wees om so ‘n verskriklike ramp te stuit? Is die Here ooit in staat om die Kovid 19 pandemie te stuit? Al wat ek kan sê is dat absoluut niks te groot is vir die Here nie. Sy almag ken géén perke nie. So was dit in daardie tyd, en so is dit steeds vandag. Ons kan vandag steeds op Hom vertrou vir alles. Soos wat ons die hand van God sien in die verhaal van Ester, so sien ons steeds die hand van God in vandag se geskiedenis, as ons maar net ons oë daarvoor wil oopmaak.

Gebed:

Here, ek loof U want vir U is niks te groot nie. U is die Almagtige!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024