Habakuk 2:4-8
Net waar Habakuk ookal kyk uit sy uitkyktoring, sien hy moeilikheid. Hier onder hom leef die volk in sonde en op die horison sien hy die goddelose Galdeërs wat genadeloos nader kom. Watter troosboodskap kan hy neerskryf te midde van al die probleme? Die klein handjievol regverdige mense is uitgelewer aan ‘n oormag van onheil. Is daar vir hulle ooit ‘n uitkoms? Watter trooswoord kan jy vir ‘n kind van God gee in sulke omstandighede, sodat dit nie maar net ‘n hol dop is met ‘n bietjie suiker om nie?
Vers 4 en 5 is eintlik die hart van die boek. Die onregverdige sal wél sy verdiende loon kry, maar intussen stoom hy voort! Nogtans sien ons, amper weggesteek, dat die regverdige sal lewe mits hy getrou bly.
Die Here ontmoet Sélf vir Habakuk persoonlik by die keerpunt in sy worstelstryd. Hy wil dit by Habakuk tuisbring dat hy nie reg in eie hande moet neem nie. Hy moenie hooghartig optree, asof God nie meer bestaan nie.
Volhard tot die einde toe!
Hardloop op God se pad!
Bly wag op die Here ten spyte van al die terugslae wat die lewe jou gee!
Bly deur alles getrou, en jy sal lewe!
Dis baie eenvoudig. Maar maklik? Nee, baie beslis nie! Dis nie jou eie maklike uitweg wat jou die lewe bring nie, maar God se pad, die swaarkrypad!
Die Here se perspektief is baie anders as ons s’n. Hy sien tot by die eindbestemming. Ons staar ons egter gewoonlik blind teen die probleme reg by ons. Teenspoed en swaarkry is deel van die lewenswedloop wat ons hardloop. Dalk kan ons dit op ‘n manier met die Comrades-marathon vergelyk: ‘n Integrale deel van die wedloop is die pyn wat jy beleef, die krampe, dors, moegheid, seer voete. As jy halfpad sou besluit dat jy eerder in ‘n motor gaan klim en ry tot by die eindstreep, sal jy beslis gediskwalifiseer word. Jou eie maklike uitweg bring jou niks in die sak nie!
Habakuk het daar van sy uitkyktoring af die vloedgolf van onheil sien aanrol. Hy het daar gestaan, omring deur die woeste golwe. Maar dan troos en bemoedig die Here vir Habakuk deur hom te verseker dat daar ook ‘n einde sal kom aan al die goddeloosheid. Hulle vernietigingstog sal beslis nie vir altyd so voortgaan nie. Op daardie stadium was alles steeds só oorweldigend vir Habakuk: die magshonger; die onversadigbare drang na rykdom; die gulsige, onversadigbare aptyt van die hoogmoedige goddeloses. Angswekkend!
Maar die Here laat Habakuk die prentjie sien met ander oë. As jy jou geloofsbril opsit en met geloofsoë na die wêreld rondom jou kyk, sien jy ‘n totaal ander prentjie. Die vloedgolf van die goddelose lyk onstuitbaar. Ons vergeet egter so maklik dat God almagtig is, en dat Hy daardie vloedgolf met een enkele woord uit Sy mond kan stuit.
Die wiel is besig om te draai - God se wiel. Skielik sien ons dat dieselfde mense wat deur hierdie oormag van goddeloses weggevoer is, spotliedjies sing oor hulle ontvoerders. Wat het dan gebeur? Hulle sing selfs ‘n begrafnislied oor die vyand! Wat het gebeur? Wat gaan aan? Dit is God se wiel wat draai!
'n Groot kenmerk van die goddelose, is dat alles net binne homself sentreer. Hy verryk homself ten koste van ander mense. Hy slurp rykdom en mag op, rykdom en mag wat nie aan hom behoort nie. Hy stroop ander van alles wat hulle het om sy eie onversadigbare begeerte te bevredig. Bloedvergieting en geweld, is ‘n integrale deel van sy taktiek om net meer en meer te kry.
“Wee hom!” sing al die regverdiges, “Ellende wag op hom!”
Ja, die tyd kom nader dat die rolle totaal omgekeer gaan word! Hierdie selfde arrogante, gulsige goddeloses gaan kaalgestroop staan! Dan sal dit húlle wees wat geplunder word! Dit sal húlle wees wat die knie moet buig voor die skuldeisers!
Stem jy nie saam dat die Bybel absoluut asemrowend en tydloos is nie? Habakuk kon net sowel in die jaar 2026 geskryf gewees het! Die 2600 jaar sedert Habakuk daar op sy toring gestaan het, het soos ‘n oogwink verbygevlieg! Vandag sien ons die moderne samelewing presies soos wat Habakuk dit beskryf het.
Meeste gelowiges raak vandag moedeloos as ons die vloedgolf van onreg rondom ons sien. Presies dieselfde honger na mag en rykdom is vandag steeds die norm van die samelewing. Die klein handjievol gelowiges wat die regte pad probeer loop - dié pad wat God aandui, is baie ver in die minderheid. Dit voel asof ons totaal verdruk en onderdruk word deur die goddelose massas. Geweld, bloedvergieting en korrupsie is aan die orde van die dag! Dit voel net asof daar geen uitkoms is nie. Ons huil saam met Habakuk in vers 8: “Hoe lank nog?”
Maar dan moet ons verséker weet dat God se wiel steeds draai, net soos in die tyd van Habakuk. Ons moet net vasbyt want die uitkoms is daar! Ons moenie moed opgee nie - God is steeds nét so magtig soos in Habakuk se tyd, en Hy is stééds in volle beheer. Die goddelose se dag sál kom, en dan sal dit óns wees wat in glorie kan toekyk hoe reg geskied.
Nog net ‘n kort tydjie! Die dag van die Here is naby!
Gebed:
Here, dit is nie maklik om in U wedloop te hardloop nie. Maar ek wéét vandag dat U steeds in volle beheer is! Gee my asseblief die moed, vasbyt en deursettingsvermoë om met blydskap deur te druk tot die einde!