Nogtans sal ek Jubel!

12 August, 2026


Habakuk 3:16-19

Habakuk was bang, bitter bang! Hy het gesidder toe die Here die dag hierdie verskriklike aankondiging maak van die Galdeërs se inval. In sy geestesoog sien hy die skrikwekkende, bloeddorstige magte van die Galdeërs wat soos ‘n tsoenami-golf aangerol kom en alles voor hulle met geweld platvee. Habakuk se lippe het gebewe van pure angs, want die verskrikking was nét te erg om te beskryf! Daar het ‘n hulpelose lamheid deur sy lyf getrek, wat hom onkapabel gemaak het om enigiets te doen. Sy bene het só erg gebewe dat hy skaars kon loop. Habakuk was verslae!

Maar één ding het Habakuk aan die gang gehou: die gedagte dat hierdie dinge met ‘n doel gebeur. Nee, dit is nie die Here wat onregverdig is, en die arme Habakuk straf nie. Eintlik is dit die gevolge van die goddeloosheid van die volk wat die oordeel van die Here ontketen het, en Habakuk is vasgevang in die middel hierdie oordeel. Hy het nou twee keuses: hy kan in selfbejammering verval omdat die ongeluk hom so verskriklik getref het, en in die proses dalk die Here blameer vir al die ongerief wat hy moet deurstaan. Of hy kan aanvaar dat dit nie die Here se skuld is dat die ongeluk hom tref nie, maar bloot die gevolge van sy volk se afvalligheid, en dat die Here hierdie oordeel met ‘n doel stuur.

Wat sou Habakuk doen?

Toe Mathys Roets destyds verlam is in die motorfietsongeluk, het meeste mense sekerlik gedink dat dit die einde van sy paadjie is. Hy kan tog sékerlik nie meer optree as hy in ‘n rolstoel sit nie. Enkele maande later word daar ‘n konsert gehou om hom te help om sy mediese kostes te dek, en wie tree op in die konsert? Mathys homself! Nie lank daarna nie, bied hy ‘n reisprogram aan op TV, een wat nogal gaan oor kampering. ‘n Sprankelende Matthys hou die kykers week-na-week vasgenael voor die kassie. Ten spyte van die verskriklike ding wat hom getref het, is hy steeds ‘n borrelende mens. Nee, dit het nie sy bene reg gemaak nie, en hy ly beslis baie ongemak. Maar hy is ‘n inspirasie vir elkeen met wie hy paaie kruis.

Habakuk het ‘n wilsbesluit geneem: hy sou nie gaan lê en homself versuip in selfbejammering nie. Nee, hy sou sy beste gesig opsit en die Here loof! Al sou die ergste rampe hom tref - die vyebome nie hulle sappige vrugte dra nie, en die wingerde nie ‘n enkele korreltjie oplewer nie - steeds sou hy borrelend die Here loof. Al sou die ganse olyfoes, die lewensaar vir baie mense, misluk en al sou die koringoes nie ‘n enkele koringkorreltjie oplewer nie, sou hy steeds vol vertroue bly. En al sou hy nie meer ‘n enkele skapie in die kamp oorhê nie, en sy beeskraal dolleeg staan, nogtans sal hy bly jubel! Nog meer: hy sal juig in God, sy Redder!

Wat Habakuk hier besluit, is baie makliker gesê as gedaan. Maar glo my: dit is baie beslis nie onmoontlik nie. Toe die ongeluk my 'n paar jaar gelede tref, was my eerste reaksie een van bittere selfbejammering. Ek het immers alles verloor, selfs my huis. Saam hiermee het Wanhoop my hand styf vasgehou, en my probeer laat verstaan dat alles verlore is. Maar Wanhoop het nie rekening gehou met die Here nie. Die besluit was myne, of ek sou bly lê en of ek sou opstaan. Alleen, was opstaan ‘n onmoontlikheid, maar toe ek die besluit neem, was die Here daar om my hand te gryp en my op te trek. Toe ek my vertroue in Hom stel, het Hy my die krag gegee om meer as ‘n oorwinnaar te wees.

Moenie my verkeerd verstaan nie, dit was beslis nie maklik nie! Toe ou Petrus op die water wou loop, het Jesus hom die krag gegee, en hy kon die onmoontlike regkry. Toe hy egter sy oë van Jesus af wegdraai, en die woedende golwe sien, het hy gesink. Dit is die groot geheim: jy moet elke oomblik jou oë op Hom gevestig hou. Elke keer as ek na die berg van probleme gekyk het, en begin wonder het hoe ek ooit daar oor sou kom, het ek in depressie verval. Solank ek egter my oog op Hom gevestig gehou het en Hom vertrou het, kon ek jubel. Die bonus is dat ek elke dag wonderwerke rondom my sien gebeur het, en dit stééds sien gebeur. Boonop, dat die wonderlike liefde van my medegelowiges my steeds omvou. Dit help beslis om te kan jubel in die Here, ten spyte van al jou probleme!

Habakuk sê dit so mooi, waarom hy so jubelend kan wees ten spyte van die nagmerrie wat hy beleef: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Aan die einde van hierdie kort boekie is daar twee dinge wat soos ‘n paal bo water uitstaan, dinge wat ek en jy as gelowiges moet onthou. Al is die lewe nie net maanskyn en rose nie, en al is daar dikwels probleme wat menslik onoorbrugbaar lyk, moet ons onthou dat God in beheer is, en dat ons op Sy hulp kan vertrou. En as ons dit gedoen het, moet ons ‘n wilsbesluit neem om met Sy hulp bo die probleme uit te styg en jubelend vir die wêreld uit te basuin dat die Here groot en almagtig is, en in volle beheer is. Habakuk het die Nogtans-geloof ontdek - het jy al?

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike krag en vertroosting wat ek kon put uit Habakuk se boek.

Jy kan nou die boekie met die hele reeks oor Habakuk aflaai by: chl.co.za/habakuk (Afrikaans) en chl.co.za/habakkuk in Engels. 

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026