Gróót Feestelikheid

14 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gróót Feestelikheid

Nehemia 11 en 12

VIDEO | OUDIO

Daar was ‘n probleempie - die leiers van die volk het hulle in Jerusalem hervestig, maar ‘n stad bevolk met slegs die leiers, was nie ‘n stad nie! Daar was ‘n groot leemte, en die stad het inwoners nodig gehad. Meeste van die mense het in die dorpies rondom Jerusalem gewoon, selfs die tempelpersoneel, moontlik oor die stad in so ‘n haglike toestand was. Die stad was intussen egter herbou en gereed om sy inwoners met ope arms te ontvang.

Nehemia het dit as sy taak gesien om weer die stad te herbevolk sodat dit tot sy volle reg kon kom. Ons sien reeds in hoofstuk 7 dat hy ondersoek gedoen het oor die teruggekeerdes uit ballingskap. Nou was sy groot taak om uit hulle genoeg mense te werf om die stad bevredigend te bevolk.

Dit wil amper voorkom asof meeste mense onwillig was om terug te keer. Diegene wat wél terug wou gaan, was geprys! Daar was dus slegs een uitweg, en dit was om mense aan te wys om in die stad te gaan woon. Dit sou nie regverdig wees van Nehemia om links en regs mense aan te wys nie, dus word daar besluit om met die lot mense aan te wys. Een uit elke tien gesinne moes hulle goedjies oppak en Jerusalem toe trek.

In die vorige hoofstuk het ons gesien hoedat die volk onderneem het om hulle tiendes van die oes vir die Here te gee. Hier gebeur egter nou iets baie groter, wanneer hulle besef dat dit nie net die tiende van die oes was wat aan God gegee moes word nie, maar ‘n tiende van die volk sélf.

God vra nie alleen jou geld en gawes nie, maar Hy vra jouself!

Die lyste wat Nehemia opgestel het van mense wat na Jerusalem moes gaan, het eerstens bestaan uit Judeërs, toe Benjaminiete, priesters en Leviete. Die Leviete het natuurlik spesifieke take gehad wat meestal geestelik van aard was. Hulle moes toesig hou oor die werk buite die tempel en hulle moes ook die musiek en sang behartig.

In hoofstuk 12 lees ons nou van die inwyding van die muur. Ons het alreeds in hoofstuk 6 en 7 gelees dat die muur voltooi was. Daar kon egter nie ‘n sinvolle inwyding wees voordat die stad nie eers behoorlik herbevolk en georganiseer was nie. Nou was dit alles afgehandel, en die inwyding kon plaasvind. Dit sou sommer ‘n baie groot geleentheid wees, want hier was ‘n gróót taak wat afgehandel was. Van heinde en verre is Leviete bymekaargemaak uit al die gehuggies om hierdie ‘n luisterryke geleentheid te maak. Dit was immers ‘n baie vreugdevolle dag! Hulle was daar met al hulle simbale, liere, harpe en trompette, en daar was ook groot groepe sangers. Toe almal bymekaar was, het daar eers ‘n rituele reiniging plaasgevind van al die priesters en Leviete as ‘n teken van hulle toewyding aan die Here.

Na die Leviete en priesters, het die res van die inwoners gevolg, en hulle moes óók gereinig word vir die groot dag. Hulle moes vas, hulle weerhou van sekere dinge, hulle klere was, bad en offers bring. Selfs die muur en die stadspoorte is gereinig en aan die Here gewy. Dit was asof ‘n heiligdom ingewy was, en hier sien ons ook nou dat Jerusalem die “heilige stad” genoem word.

Die mense is in twee groot groepe verdeel, en in twee optogte het hulle al op die muur langs van twee kante af beweeg om mekaar by die tempel te ontmoet. Esra en Nehemia het elkeen ‘n optog gelei, gevolg deur die musikante en kore, en ná hulle die res van die volk. Ek dink dit moes ‘n asemrowende skouspel gewees het! Psalm 147 het moontlik sy ontstaan hier gekry. Luister net – vers 2: “Die Here herbou Jerusalem, die verstrooides van Israel maak Hy bymekaar.” en vers 12: “Roem die Here, Jerusalem, loof jou God, Sion, want Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak!”

Toe kom hulle by die tempel bymekaar terwyl die priesters die trompette blaas en die kore sing. Die vreugde was baie groot en die skares - mans, vrouens én kinders het luidrugtig gejuig! Oor die klowe en rante van Jerusalem het die gejuig van die skare weerklink, en jy kon sommer van ver af die uitbundigheid hoor! In vers 43 skryf Nehemia: “want God het vir hulle 'n rede tot groot vreugde gegee!”

So is die stad aan God gewy en dit word die stad van God, die heilige stad! (11:1)

Ons sien ook hier dat alles in beweging begin kom het rondom die diens aan die Here. Priesters en Leviete is georganiseer om spesifieke take te verrig, sodat die tempel die middelpunt begin word het waarom die hele stad gedraai het.

Soos dit gepas sou wees op só ‘n vreugdevolle dag, was daar weereens uit die boek van Moses voorgelees terwyl die hele volk aandagtig geluister het.

Jerusalem het die simbool geword van God se teenwoordigheid by die geloofsgemeenskap, en kerk (tempel) en stad het inmekaar geweef geraak. Vandag word ons opgeroep om ook ons kerkwees en menswees een te laat word. Jou Sondag- en Maandaglewe moet dieselfde wees.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike boodskap wat voortvloei uit hierdie gebeurtenis. Help my om my Sondaglewe ook voort te sit in my Maandaglewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026