Goeie Nuus!

13 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goeie Nuus!

Inleiding tot Lukas

Video

Oudio

Ek skakel gretig die TV aan om nuus te kyk. Sommer met die intrapslag is daar die mooiste verhaal van hoop. Nie ‘n enkele geval van Kovid is aangemeld nie. Die Staatspresident het ‘n splinternuwe kabinet saamgestel uit leiers van al die verskillende kerke.

Ag nee wat, dis sommer ‘n wolhaarstorie! Jy hoor selde indien óóit goeie nuus. Baie mense weier om 'n koerant te koop of TV nuus te kyk, want alles maak jou morbied. Daar is ‘n honger by mense na iets wat mooi en goed is, iets wat redding kan bied uit hierdie stinkende modderpoel waarin ons ons bevind. Ons finansies is in ‘n haglike toestand. Hierdie liederlike virus eis by die dag meer lewens en ons is almal al swaar getref met geliefdes wat gesterf het. Ons regering is in ‘n gemors. Kyk maar na die verwoesting wat die afgelope paar dae gesaai is op al die paaie in KwaZulu-Natal. Staatskaping, korrupsie, bendegeweld - noem maar op!

En dan kom Lukas en vertel ‘n verhaal van hoop, van ‘n God wat omgee en ‘n plan het vir die wêreld se ellende. Hierdie is nie maar net nóg een van die talle skemas wat nie werk nie – nee, die Plan waarvan Lukas skryf is die enigste een wat waarlik werk, want hy vertel van Iemand, ‘n Verlosser wat ons mense se blydskap en voorspoed op die hart dra. Natuurlik is hierdie Iemand waarvan hy skryf God die Skepper van die heelal, wat duisende jare tevore alreeds aan Adam sy plan van bevryding bekend gemaak het.

Lukas was ‘n mediese dokter en hy het in ‘n Hellenistiese wêreld grootgeword. Aleksander die Grote het die Griekse taal en kultuur in die wêreld ingedra, sowat 400 jaar voordat Lukas sy boek geskryf het. In Lukas se tyd het daar omtrent 4 miljoen Jode rondom die Middellandse See gewoon, waarvan ‘n halfmiljoen in Palestina gebly het. Nie minder nie as sesduisend van hulle was Fariseërs. Aleksander se mag was natuurlik al lankal iets van die verlede, en die hele gebied rondom die Middellandse See was in die greep van die Romeine. Ten spyte hiervan was daar wél ‘n Joodse koningshuis wat ‘n klein bietjie mag gehad het, en daar was ook ‘n Joodse Raad, die Sanhedrin, waar die Joodse Godsdienstige leiers die septer geswaai het. 

Op die platteland het dit dikwels baie swaar gegaan, want baie grondeienaars het stede toe getrek. Daar was swaar belastings, en bedelary en rowers was aan die orde van die dag. Opstande as gevolg van armoede en onderdrukking, het die samelewing verder gedestabiliseer. Baie mense het hulle tot toorkuns, astrologie en allerhande nuwe godsdienste gewend vir ‘n uitkoms.

Alhoewel Palestina swaar onder Griekse invloed was, was daar tóg ‘n baie hoë waardestelsel onder die Joodse bevolking. Judaïsme het hoë morele standaarde gehad en ‘n geloof in ‘n persoonlike God. Streng wette was gehandhaaf, veral soos die Fariseërs dit vertolk het. Meeste Jode het hulle heil hierin gevind. Eer en skande het ‘n baie belangrike rol gespeel in mense se waardes. Binne hierdie waardestelsel moet ons die Evangelie van Lukas verstaan.

Lukas het nie sommer maar net gaan sit en begin skryf nie. Hy was ook nie die eerste een wat so ‘n Evangelie aangedurf het nie. Hy skryf dan ook dat daar al baie voor hom was wat die verhaal aangedurf het. So het Markus se Evangelieverhaal toe alreeds die lig gesien. Lukas het juis Markus se verhaal gebruik as een van sy bronne. Hy het deeglik navorsingswerk gedoen voordat hy begin skryf het. Hy wou baie seker maak dat sy inligting absoluut korrek en suiwer was, en dat die volgorde van sy verhaal reg was. Die feit dat die volgorde van die ander evangelies nie altyd korrek is nie, maak hulle natuurlik nie minder betroubaar nie. Die klem word net op ander aspekte geplaas. En natuurlik het Lukas baie inspirasie gekry van die groot sendeling, Paulus. Hy het soms vir Paulus op sy reise vergesel en hom as sekretaris gehelp met sy briewe. Dalk was hierdie een van die groot aansporings om sélf te skryf. Later het hy dan ook ‘n “opvolgepisode” geskryf toe hy Handelinge die lig laat sien het.

Die Evangelie van Lukas was baie meer as maar net ‘n verhaal. Dit het mense hoop gegee in ‘n baie deurmekaar wêreld. Vandag is ons wêreld dalk nog meer deurmekaar, en steeds is Lukas se boek vars en nuut en ‘n absolute verkwikking in ‘n tyd waar ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Lukas vertel vir ons van God se Verlossingsplan, iets wat dalk vir baie mense al ou nuus is. Maar dikwels kry ek nog te doene met mense wat desperaat is vir hierdie wonderlike verlossingsplan. Lukas se verhaal mag dalk 2000 jaar oud wees, maar die inligting en die boodskap is steeds kraakvars relevant. In ons moderne wêreld van tegnologie en wetenskap bied hierdie boek steeds net soveel hoop as in die Hellenistiese wêreld waarin Lukas en sy eerste lesers geleef het.

Gebed:

Dankie Hemel Vader vir die wonderlike hoop wat U aan ons gee in hierdie onseker tye.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026