Goeie Nuus - Evangelie!

23 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goeie Nuus - Evangelie!

Romeine 1:2-5

VIDEO * OUDIO

“Euangelion! Euangelion!” weerklink dit in die straat af. “Evangelie! Goeie nuus! Daar is ‘n seun gebore vir die Keiser! Ons het ‘n troonopvolger!” Die Keiser staan hoeka bekend as die “seun van god.” Juis dáárom is hierdie soveel te meer ‘n heuglike gebeurtenis. Al lank voor die geboorte is daar ellelange geslagsregisters opgestel om te wys presies waarvandaan hierdie kind afstam, en presies wáár hy in die koninklike bloedlyn inpas. Die sterrewiggelaars het hulle voorspellings noukeurig bestudeer sodat hulle nie dalk êrens ’n fout maak nie. ’n Besonderse stand van die planete het bevestig dat juis hiérdie kind die troonopvolger sou wees. “Euangelion! Euangelion.......”

Paulus skryf op dieselfde trant ‘n “geboortetelegram.” Die aankondiging wat hy egter maak, is nie van ‘n valse god soos dié van die Romeine nie. Nee, dit is oor die Seun van die Ware, Ewige, Almagtige God, Jesus Christus. Hy noem Jesus dan ook pertinent die Seun van God, en hy bevestig Sy koninklike herkoms. Hy is gebore uit die geslag van Dawid, die grootste van Israel se konings! Hy bevestig dat die geboorte van hierdie Koningskind baie lank vooruit reeds voorspel is deur die profete in die Heilige Skrif. Hy sê ook dat ‘n uiters buitengewone teken dien as ‘n bewys dat Hy waarlik die Seun van God is, naamlik Sy dood en opstanding. Boonop is Hy met groot mag beklee, mag wat aan Hom gegee is deur niemand anders nie as die Heilige Gees.

Hierdie is deel van die aanhef van Paulus se brief aan die Romeine, en dit is dus Paulus se héél eerste woorde aan die mense van Rome. Hulle is dus op ‘n besonderse wyse verrassend én rewolusionêr. Hy kondig hierdie nuwe “Keiser” aan wat volgens al die destydse vereistes geloofwaardig en met alle mag beklee was. En Hy was gereed om te regeer! Dit is egter nie die naam van Nero wat hy noem nie, maar van Jesus Christus, die Here. En so kom die kersboodskap in Rome aan! En die wonderlike nuus is dat God se ryk en genade nou strek tot in die hoofstad van die ganse wêreld!

Genade was ‘n baie skaars woord in die wêreld van die Romeine. Rolprente oor daardie era toon 'n ongenaakbare en wrede wêreld. As jy aan die verkeerde kant van die gereg beland het, kon jy absoluut géén genade verwag nie. Die gereg was veral totaal genadeloos teenoor veral die Christene. Hulle was beskou as die vyand van die staat. Uit die geskiedenis leer jy van die afgryslike wreedheid van die Romeine. Selfs hulle ontspanningsgeleenthede het gepaardgegaan met grusame wreedheid. Vandag staan die Kolosseum steeds daar as monument vir die talle mense wat deur wilde diere verskeur, of deur gladiators vermorsel is vir die plesier van die Romeine. Doodsgille weerklink steeds deur die hol gange van die gebou, van mense wat deur ‘n enkele handgebaar van die keiser die ewigheid ingestuur is. Genade? Beslis nie in Rome nie!

En nou kom Paulus en hy verkondig juis hierdie verskriklike skaars kommoditeit, genade! Nie alleen verkondig hy genade nie, maar genade in óórvloed aan die gelowiges in Rome! Genade is beslis die hoofbegrip van die brief wat Paulus skryf. Dit kom nie minder nie as 22 keer daarin voor. Paulus hamer daarop dat hierdie genade, God se verrassende, tegemoetkomende, vergewende goedheid, absoluut gratis is!

Dit is treffend dat Paulus eers die genade op homself van toepassing maak, wanneer hy sê dat dit slegs genade is dat hy ‘n apostel, oftewel gestuurde kan wees onder die heidennasies. Wanneer ek God se Woord aan ander mense bring durf ek vir géén oomblik vergeet dat ek sélf alles aan genade te danke het nie, anders kan ek so maklik verval in hoogmoed en selfverheffing!

In die eerste plek is dit suiwer genade dat ek hierdie werk kán doen. En tweedens, wanneer ek daardie genade ontvang het, moet ek besef dat dit Gód is wat my roep of stuur. Dink maar ‘n bietjie terug in jou eie lewe, oor hoeveel genade nodig was om jou tot by so ‘n punt te bring. Dink net hoeveel mense meegehelp het om jou gereed te kry om die Woord te verkondig. Daar was die jeugleiers, kategete, onderwysers, jou ouers, vriende - alles genade! Maar hierdie genade kom eintlik al 'n baie lang pad, want hierdie mense in ons lewens is die resultaat van tweeduisend jaar se ononderbroke verkondiging van die Woord van God deur apostels, lekepredikers, kerkvaders, predikante en doodgewone gelowiges wat nooit God se wonderlike, onbegryplike genade laat vaar het nie. Nou het hierdie genade tot by my en jou gekom. Ons durf dit nooit óóit laat doodloop nie! Ek en jy het die taak om, in gehoorsaamheid aan God, ywerig skouer aan die wiel te sit sodat alle mense kan hoor van God se genade, en deel kan hê daaraan.

Gebed:

Here, maak my gehoorsaam en gewillig om U wonderlike genade nie vir myself te hou nie, maar aan ander deur te gee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026