Goeie Gewoontes

22 September, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goeie Gewoontes

1 Tessalonisense Inleiding

VIDEO | OUDIO

Jare gelede het ons 'n boshuisie in die Laeveld in Marloth Park gehad. Een aand sit ek en Mosbolletjie op ons stoep. Die nag is pik-pik-donker, en so sit ons en gesels en luister na die boskonsert met net ‘n ou kersie vir troos. Leeu laat die baskitaar se snare “oemf-oemf-oemf” dreun-sing. Olifant kielie die trompet vrolik terwyl sy maters in die Krokodilrivier rondplas en al die groot akkedisse die skrik op die lyf jaag. Naguiltjie speel op kristalhelder klein klokkies en Seekoeibul slaan die basdrom. Sy ou vrou lag vulgêr diep uit haar maag van pure lekkerkry.

Ons tweetjies voel half kriewelrig in die donkerte en kort-kort swaai ek die flitslig deur die bome, net om dóódseker te maak..…!

Skielik is daar ‘n helderblink oog hoog bo in ‘n doringboom op die verste punt van die erf. My hart mis 'n slag van opgewondenheid. “Kameelperd” besluit ons. Skielik “spring” die oog tot amper onder op die grond. “Wat sal ‘n kameelperd nou op die grond loop soek?” wonder ek verbaas. Maar dan tel hy blitsvinnig weer sy kop op en sy oog vlieg terug boontoe! Ek probeer die kameelperd sien, maar die boom se takke is te dig. Met groot belangstelling volg ons die oog soos hy kruis en dwars deur die takke van die doringboom vlieg. Eers as Mosbolletjie die ou groot kollig uithaal, sien ons dat daardie “kameelperd” eintlik ‘n piepklein nagapie is! Ons héél eerste ontmoeting met ‘n nagapie!

Soos wat die dae, oftewel nagte vorder, begin hy ons gewoond raak en waag dit al nader en nader. Later bring hy selfs sy maatjie saam om ons saans te kom vermaak by ons braaivleisvuurtjie.

Uiteindelik, na etlike jare het hulle so gewoond geraak aan ons dat hulle dit ‘n gewoonte gemaak het om saans tot op die stoep te kom om die goggas by die stoeplig te vang. En as daar dan nou toevallig ‘n piesang rondgelê het, dan het hulle op en af gespring van opgewondenheid. Elke besoeker aan ons boshuisie het opgewonde gebabbel oor die skatlike ou nagapies wat hulle saans soveel plesier kom gee het!

As jy eers ‘n gewoonte aangeleer het, raak jy nie maklik daarvan ontslae nie! Ek skud my kop as ek die manne en vroue gadeslaan wat soggens vroeg onverpoosd straat-op en straat-af draf. Raak hulle nooit moeg nie? Vir my is dit die grootste straf om te gaan draf, maar vir hulle is dit tweede natuur. Vra egter maar vir enige drawwer, en hy sal jou sê dat dit nie sommer so vanself gekom het nie. Dit het maande en jare van toegewyde selfdissipline gekos om hierdie gewoonte aan te leer. Presies só werk dit met jou geloofslewe, veral wanneer dit kom by die praktiese uitleef daarvan. Dit gebeur nie oornag dat jy ‘n toegewyde gelowige word wat getrou is in elke opsig nie. Dit kos gewoonlik baie jare van harde werk en selfdissipline.

Die Tessalonisense-briewe is geskryf deur die groot sendeling, Paulus aan ‘n baie jong gemeente. (Moontlik Paulus se heel eerste brief.) Tessalonika het maar ‘n kort rukkie voordat hierdie brief geskryf is vir die eerste keer die Evangelie gehoor, en die gemeente staan toe nog letterlik in hulle babaskoene. Vir hulle was dit natuurlik ‘n geweldige groot aanpassing want nou moes hulle ‘n totale nuwe denk- en leefstyl aanleer. Ons moet onthou dat hierdie mense heidene was wat allerhande afgode aanbid het en nou skielik Christene geword het. Dis nie maklik om al die ou slegte gewoontes af te leer nie! Daar was nog nie werklik ‘n stelsel in hulle Godsdiens nie, en ek is seker dat hulle dikwels moedeloos geraak het. Dalk het hulle soms gedink dat hulle dit nooit as te nimmer sou regkry nie! Paulus bemoedig hulle dus in hierdie brief deur ‘n groot deel daarvan daaraan te wy om hulle te laat verstaan hoe goed dit eintlik met hulle as splinternuwe Christene gaan!

Paulus weet egter maar ál te goed dat hulle geloof nie maar net op daardie vlak gelos kan word nie en dat dit aanvulling nodig het. Hulle moet begin leer van die dinge wat saakmaak in die geloof. Boonop is daar natuurlik ook kwelvrae wat hy moet antwoord, soos wat die lot is van mense wat sterf voor Jesus se wederkoms. Hulle sukkel om hulle geloof te bely en prakties toe te pas in die daaglikse lewe. Hulle moet herinner word aan die dinge wat Paulus hulle geleer het in die kort tydjie wat hy daar was, en hulle moet weet dat hierdie nuwe leefstyl baie inspanning verg. Jy sal natuurlik onthou dat Paulus net ‘n kort tydjie in Tessalonika kon deurbring, en dat hy sy bediening daar inderhaas moes kortknip en vlug vir sy lewe. Dus kon hy nie hierdie dinge vir hulle behoorlik inskerp nie.

Hierdie brief is vandag steeds uiters relevant. Talle gelowiges sit met presies dieselfde probleme as die gelowiges van Tessalonika. Oor die jare het ek talle mense raakgeloop wat net eenvoudig nie die basiese dinge van die geloof kan regkry nie, dikwels eenvoudige dinge soos gebed en geloofsekerheid. Die “ou” gelowiges kan maar net glimlag daaroor want meeste van ons het dieselfde paadjie gestap! Deur aan te hou en met die krag van die Heilige Gees, oorwin jy hierdie dinge. Dit kos oefening en deursettingsvermoë. En natuurlik baie harde werk! ‘n Gesonde, gevestigde geloofslewe kom beslis nie maklik nie. Hou dus moed!

Gebed:

Here, ek wil vanoggend elke jong gelowige wat hierdie boodskap lees aan U opdra. Neem hulle aan die hand sodat hulle groot bome in die geloof kan word!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026