Filemon 15-25
As ’n mens kapitaal het, dan is dit goed om ‘n belegging te maak. Sê nou maar jy bekom ‘n groot bedrag geld (dalk ’n erfporsie) dan gaan jy dit mos nie sommer net in die blikkie onder die kooi wegsteek nie. Jy gaan iets daarmee doen. As jy slim is, gaan jy jou opsies oorweeg en kyk waar jy die beste belegging kan maak sodat daar goeie rente op jou geld verdien word, en jou belegging terselfdertyd veilig is.
Maar geld is nie die enigste ding wat jy kan belê nie: as jy die een of ander goeie gawe in die lewe ontvang het, gaan jy dit op soortgelyke manier deeglik ondersoek, oorweeg en op die beste manier belê. Sê nou maar jou gawe is rekenaarprogrammering. Dan is daar verskeie opsies om dit te “belê.” Jy kan byvoorbeeld vir ‘n groot maatskappy gaan werk en ‘n goeie salaris met jou talent verdien. Of jy kan jou eie onderneming begin, en met taktvolle beplanning ‘n suksesvolle besigheid opbou.
Daar is egter ook ‘n derde soort belegging - ‘n geestelike belegging. Jy kan die verlossing wat jy van Jesus ontvang het gaan herbelê in ander mense. Die rente wat jy só “verdien” is van ewigheidswaarde, en is véél meer werd as énige aardse belegging. Paulus het van hierdie soort belegging baie geweet, en hy het sy “geestesgeld” belê nét waar hy kon. Sommige van sy beleggings was uiters suksesvol en het sommer baie “rente” verdien!
In hierdie skrifgedeelte lees ons van twee van Paulus se duisende beleggings wat hy gemaak het. Die eerste was maar ‘n relatief nuwe klein belegging, maar alreeds het dit begin rente verdien: Onesimus! Hy het vir Onesimus gekry as ‘n nikswerd wegloopslaaf met waarskynlik nog ‘n prys op sy kop ook. Nie alleen was hy ‘n slaaf nie, maar ook ‘n totale heiden! Paulus het egter verby al hierdie negatiewe vuil klere gekyk en in Onesimus die potensiaal van ‘n goeie belegging gesien.
Dit was dalk in sommige oë ’n baie riskante belegging! Maar wat het hy gehad om te verloor? Absoluut niks!
En so spring Paulus daar in die tronk aan die werk en begin vir Onesimus bearbei. Kort voor lank word hierdie stuk onbruikbare, onvergenoegde mens ‘n splinternuwe, bruikbare gelowige wat sy eerste rente lewer deur vir Paulus in die tronk by te staan uit pure dankbaarheid vir wat Paulus vir hom gedoen het!
Paulus het egter véél verder as sy eie behoeftes gekyk, want terug by sy baas, Filemon, kon Onesimus nog véél meer rente verdien vir die koninkryk. Daar sou hy nie meer maar net ‘n gewone, nuttelose, alledaagse slaaf wees wat dreig om te dros nie, maar ‘n bruikbare, gelowige slaaf, wat nou deel van sy baas se geestelike familie word. Die Engelse spreekwoord sê: “Put your money where your mouth is.” Paulus was bereid om dit te doen, en het selfs aangebied om vir Filemon te vergoed vir enige skade wat Onesimus hom kon berokken het.
Ons lees egter van ‘n tweede belegging wat Paulus al etlike jare tevore gemaak het. Hierdie belegging het al sommer sakkevol rente verdien: Filemon. Toe Paulus vir Filemon ontmoet het, was hy ‘n tipiese arrogante Griekse grondeienaar wat waarskynlik sy tyd verwyl het deur in die afgodstempels rond te hang. ‘n Losbandige lewe van brassery en flankeer met die tempelprostitute was aan die orde van die dag, veral vir mense soos Filemon wat sulke dinge kon bekostig. Toe kom Paulus oor sy lewe, en alles verander. Paulus het sommer geweet dat hierdie ‘n baie lonende belegging kon word, en hy was beslis nie teleurgestel nie. Sien, toe Filemon sy lewe deur die Heilige Gees laat lei het, het hy sy eiendom en tyd tot beskikking van ander mense gestel sodat daar ‘n nis geskep kon word waar gelowiges veilig bymekaar kon kom om te aanbid. Sodoende het Paulus se belegging rente op rente verdien.
Paulus herinner nou vir Filemon aan hierdie belegging wat hy gemaak het, en dat hy dit nie moet vergeet as Onesimus weer by hom uitkom nie. Miskien moet hy Onesimus se drostery júís sien as ‘n tydperk waarin Onesimus herskep moes word van onbruikbare slaaf na geliefde broer. “Maak asseblief my hart bly”, pleit Paulus by Filemon.
Het jy alreeds Jesus se liefde gekry in jou lewe, Sy volkome vergifnis en kwytskelding ontvang? Ek vertrou dat jy dit reeds ontvang het! Daarom vra ek vanoggend van jou - nee, ek pleit by jou - om die grootste belegging te maak wat jy ooit in jou lewe kan maak. Dis ‘n belegging sonder enige risiko’s en met absoluut onbeperkte rente. Gebruik die talente wat jy het om die Evangelie te versprei na die goddelose wêreld daar buite.
Gaan sit en beplan deeglik - bid dat die Heilige Gees jou sal wys op watter wyse jy die Woord kan versprei. Onthou: ‘n goeie belegging kos navorsing en beplanning, en nét so ook om te belê in die Koninkryk van God. Begin met ‘n klein belegging, en “waag” dan al groter totdat jy onbevrees en met volle selfvertroue soos Paulus links en regs beleggings kan maak.
Gebed:
Here, wys my asseblief waar die moontlikhede lê vir geestelike beleggings, en gee my