‘n Rottang kan ‘n skrikwekkende stukkie gereedskap wees. Die vrees wat hy inboesem hang natuurlik grootliks af van in wie se hand dit is, en die bui van daardie persoon. Ek onthou ou Vere, die verstrooide wetenskaponderwyser se rottang. Dit was mildelik gebruik as ons skelm ystersulfiet stinkbomme maak in sy klas terwyl hy ‘n eksperiment probeer demonstreer. Ek het nooit by hom gebuk nie, want wetenskap was vir my ‘n fees, maar hy het sy gereelde kliënte gehad. Pappa Britz het my egter gereeld gelooi, en glo my: sy rottang was giftig! Maar hy kon dit net eenvoudig nie regkry om geskiedenis in my in te looi nie. Vir Woltoon, die hoof, het ons almal ‘n heilige vrees gehad, want daar het jy eers op die spreekwoordelike rooi mat gestaan, en dan is daar lank en hard vir jou gepreek voor jou loesing. Die loesing was nie so erg nie, maar daardie preek! Oom Fred Geyser het ’n “platriem” gehad, maar dit was net ’n afskrikmiddel, want hy het bitter selde sy riem gebruik. Met woorde het hy ons deur standerd vyf gevorm, en ons het die grootste respek vir hom gehad.
En so is ek deur matriek getug. Pa het natuurlik by die huis ook sy deeltjie bygedra. Met groot liefde! Ek het bitter selde ‘n pak slae by hom gekry, maar ek onthou elke pynlike een van hulle soos gister. En ek het elkeen deeglik verdien!
En toe kom my weermagdae. Nege maande se diensplig was beslis nie maklik nie! As rou rekrute is ons die basiese van dissipline geleer op die harde manier. As jy ‘n fout maak moes jy in die bloedige son hardloop tot om die verste boom, en as jy nie vinnig genoeg hardloop nie, dan moet jy dit oor doen. Jy maak nie sommer dieselfde fout tweekeer nie! Later, toe ons met gevaarlike wapens te doene kry, is hierdie dissipline al so in ons ingedril, dat jy die wapens veilig kon hanteer. Dit het verséker vele ernstige ongelukke verhoed.
Wat beteken tug? Dit is ‘n vormingsproses wat met liefde uitgevoer word. ‘n Geharde moordenaar word deur die staat gestraf deur hom lewenslank toe te sluit. Dit is nie tug nie, want geen tug gaan hom op die regte pad kry nie! Dit is rou straf! Die doel van tug is om die persoon fisies en geestelik te vorm. ‘n Kind wat ‘n lelike gewoonte aangeleer het, word getug sodat hy daardie gewoonte kan afleer. ‘n Atleet word gedurigdeur getug deur sy afrigter: ure van sweet, pyniging en uitmergelende oefening in die gimnasium en op die atletiekbaan. ‘n Atleet sonder groot ambisie, oefen net so bietjies-bietjies, maar die een wat die vermoë en die wil het om die hoogste sport te bereik word gedruk tot die uiterste.
Inderdaad straf God wél! Sy straf vir die sonde is die hel, ‘n afgryslike, skrikwekkende straf. Jesus het die volle prys vir God se straf betaal deur Sy offer aan die kruis. Elkeen wat dus in Jesus glo is totaal vrygespreek van God se straf, maar dié wat nie glo nie, wat nie Sy geskenk van die ewige lewe wil aanvaar nie, moet tevrede wees om God se straf te verduur. As jy dus in Jesus glo, is daar nie meer so ‘n ding soos straf vir jou nie. Maar dan tree God se tug in werking, nie as straf omdat jy gesondig het nie, maar as ‘n liefdesaksie om jou sterker te maak in die geloof. Soos ‘n atleet word jy deur tug gebrei in jou geloof totdat jy onwankelbaar is. Dit is juis húlle wat die grootste potensiaal het, wat die hardste getug word, want sodoende kan hulle soveel meer vir die Koninkryk beteken.
Die Hebreërskrywer haal aan uit Spreuke 3:11,12, as hy sê dat wanneer jy die dag God se tugtiging beleef, jy nie mismoedig moet word nie. Sien daarin eerder God se groot liefde vir jou, want Hy maak bemoeienis met jou omdat jy vir Hom baie beteken. Dikwels is siekte, pyn of bankrotskap nodig om ‘n mens wat verval het in ‘n lewe van selfvoldaanheid, waar God vir hom nie meer belangrik is nie, terug te ruk na dít wat werklik saakmaak. Sulke dinge is gewoonlik baie pynlik, maar dit dwing jou op jou knieë, terug na God. Voorspoed kan baie gevaarlik wees, want dit kan jou só geldgierig en magsbehep maak, dat jy van God begin vergeet. Dikwels is ‘n finansiële ramp die enigste ding wat jou weer by God uitbring. Wanneer dít dan gebeur, dan wil jy huil en jy vra waarom God jou dan so straf. Dit is nie lekker nie! Wees verseker dat dit nie straf is oor sonde wat jy gedoen het nie, dit is reeds lankal vergewe en vergeet! Dit is God se liefdesaksie om te keer dat jy nie miskien totaal jou geloof verloor en die ewige straf ingaan nie. Maar dit kan ook wees dat God jou hiermee wil leer om in totale afhanklikheid van Hom te leef.
Jy word dus aangespoor om die reguit pad te loop, en nie af te dwaal van God se weë nie, en sodoende jou “slap hande en lam knieë” sterk te hou, want as jy die dag afdwaal, dan raak dít wat lam is boonop nog uit lit uit! En wees bly as jy getug word, want dit beteken dat jy deur God waardig geag word! En die wonderlikste van alles: Dit beteken dat God jou liefhet!
Gebed:
Dankie Here, dat ek waardig in U oë is om getug te kan word. Gee my asseblief dankbaarheid en ‘n blye hart wanneer ek swaarkry.