God se Offerlam

7 December, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Offerlam

Genesis 22:8-19

Die gryse ou Abraham klim met swaar treë die berg op, die berg wat die Here aan hom uitgewys het waar hy sy seuntjie moet gaan offer. Elke tree is vir hom ‘n pyniging. Nee, nie oor sy hoë ouderdom nie, maar oor die vooruitsig om sy enigste lieflingseun daar op die altaar te sien, oopgespalk en geslag. Trane loop oor sy wange. “Here, God Almagtig, moet ek dit werklik doen?” Die vraag maal deur sy gedagtes. Maar die Stem van God is stil. Voor hom huppel klein Isak oor die klippe met die swaar drag hout op sy rug, opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê, min wetende wat op hom wag.

Uiteindelik is hulle bo. Met groot belangstelling hou Isak sy pa dop waar hy begin voorbereidings tref om ‘n altaar te bou. Ywerig dra hy swaar klippe aan vir Pa Abraham, maar hy laat Pa maar die pakwerk doen, iets wat hy al baie in sy lewe gedoen het. Hy voel aan dat Pa vandag nie sy ou gelukkige self is nie. Hy skryf dit maar toe aan die ernstige werk van altaar-bou. Dis mos gróót sake hierdie! Een ding wat hy egter nie kan kleinkry nie, is die lam wat geoffer moet word. Pa vat mos altyd ‘n offerlam saam van die huis af, maar vandag het hy niks by hom nie. En nou is die slawe ook boonop daar onder in die verte. Daar is nie eers ‘n kans dat hulle nog ‘n lam sal bring nie. “Pa?” Daar is ‘n groot vraagteken in Isak se stem. “Pa, ons het die hout, en ons het die vuur en die altaar en alles, maar waar gaan ons ‘n offerlam kry?” Ja, hy het al vroëer daardie vraag gevra, maar Pa het nie vir hom ‘n bevredigende antwoord gegee nie. En waarom kyk Pa hom dan nou so snaaks aan? En waarom huil Pa dan so baie vanoggend?

Die altaar is die mooiste wat Abraham nog óóit gebou het. Hy maak veral seker dat die oppervlak bo gelyk is, en dat daar nie ongemaklike skerp punte uitsteek nie. ‘n Mens moet gemaklik daarop kan lê. Die hout word versigtig op die altaar gepak, net groot genoeg vir ‘n jong seun om op te lê. Isak voel aan dat iets nie baie lekker is nie. Pa se gesig word al langer en stroewer, en hy sien sommer dat daar iets baie swaar op sy hart druk.

Kom hier my seun.” Die ou man snik nou behóórlik, en hy begin om die protesterende seuntjie vas te bind. Met groot deernis lê hy sy enigste seun op die altaar neer. Dan begin klein Isak besef dat dit hý is wat geoffer gaan word! Hy het al gehoor dat die heidene dit doen. Hulle offer dikwels hulle kinders aan die gode. Pa sê dat dit verskriklik verkeerd is, maar hier doen hy nou presies dieselfde ding! Met afgryse sien hy hoedat Pa die groot mes optel. Die trane stroom van sy pa se gesig af en klein Isak gaan histeries aan die huil. “Pa gaan my slag!” Sy klein verstandjie kan dit net eenvoudig nie verwerk nie.

Op daardie oomblik weerklink ‘n vreemde stem uit die hemel: “Abraham, Abraham!”

Pa kyk verwilderd op: “Hier is ek!”

Eers baie later, toe klein Isak al ‘n groot man geword het, het hy verstaan Wie se stem hierdie was. “Die Engel van die Here,” het Pa aan hom verduidelik. Nee, hierdie was eintlik géén engel nie, maar die Seun van God, oftewel God Sélf! Só belangrik was hierdie gebeurtenis dat God Persoonlik uit die hemel gekom het om Abraham te keer en by hom te wees. Daardie oggend het Hy geweet dat Hy Sélf tweeduisend jaar later ook soos klein Isak op ‘n altaar sou lê. Nee, eintlik sou Hy aan ‘n kruis-altaar hang. En daar sou niemand wees om te keer dat die offer sou voortgaan nie.

Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy my dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun aan My te offer nie.” Die Stem van God weerklink uit die hemel. Eers tóé sien Abraham dit: die skaapram wat agter hom teen die bos staan, sy horings verstrengel in die takke. Abraham lag en huil, alles deurmekaar as hy die baie verligte klein Isak losmaak en van die brandstapel afhaal. “Dink jy óóit dat God sou toelaat dat ek jou rêrag offer my seun?” Abraham druk sy seuntjie styf teen sy bors vas. Die skaap word in Isak se plek geoffer. “Die Here het voorsien!” Abraham se hele wese jubel as hy met oorgawe die skaapram offer. “Die Here het voorsien!”

Die skaapram is geslag en geoffer in die plek van Abraham se enigste seun, sodat hy kon lewe. God se enigste Seun is geslag en geoffer in die plek van jou en my, sodat ons kan lewe!

Dit is egter nie die enigste les wat ons uit hierdie aangrypende verhaal leer nie. Ons leer ook dat ons soms, net soos Abraham, beproef en getoets kan word. Abraham se toets was onmenslik groot, maar hy het bewys dat sy geloof alreeds sterk genoeg was om dit te kon slaag. God sal jou nie bo jou vermoë toets nie. Vir die een persoon sal die toets maar klein wees, maar vir iemand wat sterk is in sy geloof, kan die toets dikwels baie groot wees. Wees bly wanneer dit jou tref, want dan weet jy dat God jou waardig ag om getoets te word. En boonop bou elke toets jou geloof verder!

Vir Abraham het die Here daarna ‘n baie groot seën uitgespreek omdat hy aan God gehoorsaam was.

Gebed:

O Here, hierdie aangrypende verhaal ruk my aan die hart. Hoeveel is ek bereid om op te offer ter wille van U? Vanoggend laat ek my kop in skaamte sak. Vergewe my asseblief, Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om na God te Luister
26 August, 2026
‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026