Verskeie Psalms
In verskeie van die Psalms word God se troue liefde besing. Hier is slegs enkeles van hulle:
Psalm 33:3-5 - Sing vir Hom 'n nuwe lied; speel mooi op snaarinstrumente met uitroepe van vreugde. Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar. Hy is lief vir reg en geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde.
Psalm 89:2,3 - Oor die troue liefde van die Here wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak. Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig;
Psalm 100:4,5 - Gaan sy poorte binne met lofprysing, sy voorhowe met 'n loflied; loof Hom, prys sy Naam. Want die Here is goed, vir ewig duur sy troue liefde, van geslag tot geslag sy trou.
Psalm 103:4 - Loof die Here, o my siel...... Hy wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming,
Psalm 117 - Loof die Here, alle nasies, roem Hom, alle volke, want magtig oor ons is sy troue liefde, ja, die trou van die Here is vir ewig. Halleluja!
Psalm 118:1 - Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.
Psalm 136:4 - Prys Hom wat groot wonders doen, Hom alleen – want vir ewig duur sy troue liefde.
Psalm 138:2 - Ek wil in aanbidding buig na u heilige tempel; ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou;
Hierdie is slegs enkeles van die Psalms wat die liefde, genade, trou en ontferming van ons Liefdevolle God besing. Baie van hierdie Psalms was met groot vreugde gesing want die digter sowel as diegene wat dit gesing het, het onmeetlike vreugde beleef in die Here!
Ek wil tóg een uitsonder. Gister het ons gesels oor Psalm 23, maar ek wil vra dat ons 'n bietjie meer in diepte kyk na vers 1 van hierdie pragtige lied van Dawid: “Die HERE is my Herder, ek kom niks kort nie.”
Kom ons ontleed hierdie versie en kyk na die diepere betekenis hiervan, want dit sê véél meer as wat op die oog af lyk!
Die woord wat ons vertaal met: HERE is in die oorspronklike Hebreeus: יְהוָה oftewel YHWH. Dit is die persoonlike Naam van God wat aan Moses by die brandende bos gegee is en dit beteken letterlik “Ek is wat Ek is”. Dit dui op God se self-bestaande, getroue, teenwoordige aard; dat God absoluut uniek is en dat daar geen ander wese is wat met Hom vergelyk kan word nie; dat Hy “IS” – teenwoordige tyd. Hy is vandag, Hy was nog altyd en Hy sal vir ewig steeds wees. Dit net oor wie Dawid van sing.
Dan nóg 'n baie belangrike gedagte – hierdie God is SY Herder. Dit maak dit uiters persoonlik. Hierdie God ken hom persoonlik en Hy sien persoonlik na Dawid om. Dit is dus 'n baie spesiale verhouding.
Die woord רֹעִי (ro‘i) kom van die werkwoord רָעָה (ra‘ah), wat beteken om vee te laat wei, te versorg, te beskerm, te lei, te voed. Dit dra ’n baie intieme en sorgsame betekenis. Die selfstandige naamwoord met die besitlike agtervoegsel -i beteken “my herder” – nie net ’n herder nie, maar my eie herder.
In Hebreeus kom “my” hier voor die werkwoord “is” wat nie eksplisiet voorkom nie, want die teenwoordige tyd word in Hebreeus geïmpliseer. Die sin sê dus letterlik: “JHWH – my herder [is].”
Daar’s ’n sterk beklemtoning: JHWH self is die Een wat my versorg. Nie net ’n god nie, maar die Verbondsgod van Israel.
Dan, die tweede deel van die sin: לֹא אֶחְסָר (lo echsar)
Letterlik: “ek sal nie tekort kom nie” of “ek sal nie iets ontbreek nie.”
לֹא (lo) = nie / geen / nee
אֶחְסָר (echsar) kom van die werkwoord חָסֵר (chasér) – “om te ontbreek, te kort te hê, te mis, te ontbeer.” Die vorm אֶחְסָר is toekomstige tyd in die eerste persoon enkelvoud: “ek sal ontbreek.”
Dus: “Ek sal nie ontbreek (aan iets) nie” = “Ek sal niks kortkom nie.”
Die betekenis strek egter verder as materiële behoeftes. Dit beteken: “Daar sal vir my niks wesenliks of noodsaakliks ontbreek nie – alles wat my lewe en siel nodig het, voorsien Hy.”
In Hebreeus beklemtoon die toekomstige tyd nie net ’n toekomstige gebeurtenis nie, maar ’n voortdurende sekerheid: ek sal nooit, in geen omstandigheid nie, tekort hê nie.
In kort kan ons dus opsom: Die Almagtige Verbondsgod is my Herder en Hy stel persoonlik in my belang. Hy het my intens lief en Hy versorg my in alles wat ek nodig het, geestelik sowel as liggaamlik.
Met ander woorde: God IS Liefde!
Gebed:
Here, vandag kan ek alleen in groot dankbaarheid en absolute verwondering na U, my Herder kom. Ek wil U loof en dank vir al U goedheid en onbeskryflike liefde!