God se Heilige Naam

14 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Heilige Naam

Eksodus 20:7-11

???? VIDEO | ???? OUDIO

Die derde gebod wat God aan Moses gee behels die gebruik of misbruik van God se Naam. Hier gaan dit véél dieper as net die misbruik van God se Naam in gekruide- of vloektaal. As ons dink aan God se Naam, dan word Sy hele wese en teenwoordigheid gereflekteer in Sy Naam. Gebruik jy God se Naam sonder om Sy heilige teenwoordigheid in ag te neem, dan mag jy dalk Sy Naam ydellik gebruik. Voordat jy God se Naam gebruik, moet jy eers Sy heilige teenwoordigheid ervaar en dan moet jy Sy Naam met die nodige gesag en eerbied gebruik. Dit is eers wanneer ons werklik besef Wie God is, dat ons Sy heilige Naam stamelend oor ons lippe mag neem.

Ek is nou al by verskeie geleenthede gevra wat die regte Naam van God is. Iemand het selfs al vir my gesê dat daar slegs één Naam is waarop Hy aangespreek mag word. Toe Moses die eerste keer vir God ontmoet het, daar by die brandende doringbos, het die Here Homself aan Moses voorgestel as “JHWH”. Daar was geen vokale nie, maar ons dink dat dit uitgespreek sou word as “JAHWEH”. Die ou Skrifgeleerdes was so bang dat hierdie Naam van God onnodig uitgespreek kon word, dat hulle in die geskrifte bokant die Naam die woord “Adonai” geskryf het, wat beteken: My Heer of My Here. Sommige Bybelvertalers het die vokale van Adonai by die Naam “JHWH” gevoeg en die woord “Jahovah” gekry. Terloops die Jahovah’s Getuies glo dat dit die enigste aanspreekvorm van God is. Blaai ons egter deur die Ou Testament, dan sien ons dat God op baie ander maniere aangespreek is: Adonai, El, Elohim, Elohe Hasjamajim, El-Eljon, El-Olam, El Sjaddai, Jahweh-Jir’eh en Jahweh Seba’ot.

Die groot ding is, dat as ons respek en eerbied het vir God, dan sal ons ook respek en eerbied hê vir Sy heilige Naam.

Die vierde gebod handel oor die Sabbat - ‘n saak waaroor daar al ellelange debatte gevoer is. Wat was die oorspronklike bedoeling met die Sabbat? Eerstens moet ons kyk na wat die Here in hierdie gebod sê: Dit is nie ‘n negatiewe gebod, dat jy nie moet of jy mag nie maar ‘n positiewe gebod oor wat jy MOET doen. Hierdie puntjie het die Fariseërs van ouds totaal misgekyk en die Sabbat negatief gemaak met ‘n hele streep moenies. Eerstens MOET jy die dag heilig hou. Tweedens MOET jy hard werk deur die week. Derdens MOET jy die Sabbat as ‘n rusdag hou.

Wat was die hoogtepunt van die skepping - die mens? Nee! Die sewende dag was die hoogtepunt toe God gerus het. Die skepping het in der waarheid in God gerus. Alles is geskep om in Hom rus te vind. Presies daarom mag ons nie hierdie gebod afwater deur ‘n ellelange lys van moets en moenies daaraan te wil heg nie. Die Sabbatsgebod vra vir die positiewe realisering van God se bedoeling met die uitgebrande mens en die vernielde skepping.

In die tyd van Jesus se geboorte het die Fariseërs hoogty gevier en op Godsdienstige vlak baie Jode se lewens beheer. Hulle het hierdie “riglyn vir die lewe” wat God vir Moses gegee het, gekaap en dit verander tot ‘n reuse meulsteen. Dit was veral die wet rondom die Sabbat wat hulle aangegryp het en dit totaal mismaak het. Hulle was só bang dat enigiemand dalk per ongeluk die Sabbatswet sou oortree, dat hulle nie minder nie as 39 ander wette geborduur het rondom hierdie een enkele wet. Dit sluit lagwekkende wette soos byvoorbeeld dat ‘n vrou op die Sabbat nie in die spieël mag kyk nie, want dan mag sy dalk ‘n grys haar sien wat uitgepluk moet word, en dit sou dan neerkom op oes, wat natuurlik werk is!

Dit was gladnie God se bedoeling met die instel van die Sabbat nie. Dit was tweeledig: eerstens was die Sabbat daar om God te eer. En tweedens is die Sabbat daar om ‘n mens te laat rus van jou arbeid - sonder rus sal jy uitbrand.

Die vraag is nou of ons steeds vandag die Sabbat moet hou soos wat dit in Moses se tyd ingestel was en of ons die Sondag moet hou? Hieroor is ek al verskeie kere gekruisig en ek wil dit asseblief nie in ‘n debat laat ontaard nie. Natuurlik is daar diegene wat glo dat die Sabbatswet presies net so moet nagekom word soos beskryf in Eksodus 20. As jy so glo, veroordeel ek jou nie in die minste nie. Ek sal ook nie sê dat jy verkeerd of on-Bybels is nie. Wat ek egter duidelik wil stel is dat ek persoonlik glo dat die Sondag gekom het in die plek van die Sabbat met Jesus se opstanding, wat terloops op die eerste dag (Sondag) gebeur het. Ek glo dat ons as gelowiges die dag behoort te gedenk as die dag van opstanding.

Paulus het egter gesê dat sommige mense die een dag bo die ander ag en ons moet hulle daarvoor respekteer. Hou jy die Sabbat, respekteer ek jou daarvoor, maar respekteer my ook daarvoor dat ek die Sondag hou en nie die Sabbat nie. Die vraag is egter: wat maak ek en jy met daardie Sabbat/Sondag? Eer ons nog werklik vir God met daardie dag?

Gebed:

Here, dankie dat U vir ons as mens ‘n rusdag gegee het. Help my asseblief om my rusdag tot eer en verheerliking van U heilige Naam te gebruik!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026