God se Bepaalde Tyd

17 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Bepaalde Tyd

Daniël 12:5-7

VIDEO | LUISTER

Terwyl die bejaarde ou profeet, Daniël nog staan en wonder oor al die dinge wat die engel vir hom vertel het, verander die toneel skielik voor sy oë. Daniël staan by die Tigrisrivier, en weerskante van die groot rivier verskyn twee engele. Bokant die water het die engel in die priesterkleed gesweef. Nou was die verhoog opgestel vir die “laaste bedryf” van hierdie verstommende visioen wat helder oordag voor Daniël afspeel.

Dan vra een van die engele: “Hoe lank nog voor die einde van die verstommende gebeure aanbreek?”

Hoe lank nog....”, daardie tergende vraag wat so dikwels op ’n mens se lippe is. “Hoe lank gaan hierdie misdaadsituasie in ons land nog aanhou?” en “Hoe lank nog voordat Jesus weer kom?” - Vrae wat jou snags laat rondrol.

Wanneer die ander engel antwoord, steek hy albei sy hande op na die hemel, om hierdeur te benadruk dat dit wat hy gaan sê die absolute waarheid is. Wanneer ‘n eed afgelê is, is slegs een hand opgesteek. Deur albei hande op te steek wanneer hierdie engel nou die eed aflê, wil hy dit benadruk dat dit onteenseglik vasgelê is, en dat niks dit sal verander nie.

Die antwoord wat die engel gee, laat ‘n mens amper koud, want op die oog af sê dit nie veel nie: “Dit is vir 'n vasgestelde tyd, tye en 'n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot 'n einde kom, sal al hierdie dinge ophou.” Wat belangrik is, is die feit dat daar ‘n bepaalde tyd gaan kom - ‘n tyd deur God vasgestel, wanneer die verskriklike verdrukking van die volk sal ophou. Vir Daniël was dit ‘n wonderlike troos, want hy het gesien hoedat die vervolging en verdrukking dag-vir-dag toeneem. En met ‘n hart wat in sy keel klop, moes hy hoor hoedat dit nog baie erger sou word. Die troos is dat daar ‘n einde sal kom op God se tyd.

Dieselfde troos kom vandag ook vir my en jou, wat vreesbevange moet toekyk hoe dinge by die dag vererger - dit lyk nie of daar ooit ‘n einde gaan kom aan die dinge wat ons besig is om te beleef nie. Maar op God se bepaalde tyd, soos wat Hy dit Self onveranderlik vasgestel het, sal die einde kom van hierdie verskrikking. Vir Daniël word daar nie ‘n jaartal genoem nie, en ons moet nie eers probeer om die “Tyd, tye en ‘n halwe tyd” te ontsyfer, en daar allerhande berekeninge aan te probeer heg nie. In Daniël se tyd het dit beteken dat God reeds die tyd bepaal het, en vandag beteken dit presies dieselfde vir ons. Vir Daniël was dit die tyd wanneer Antiochus vernietig sou word, en vir ons is dit die einde van die Antichris. Inderdaad kan ons hieruit neem dat die “halwe tyd” daarop dui dat die einde plotseling en onverwags sal aanbreek, soos dit met Antiochus gebeur het.

Voordat dit egter gebeur, wag daar ‘n baie ontstellende ding: Hierdie tyd breek eers aan, volgens vers 7b “Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is”. Nee, dit is nie die volk wat vernietig sou word nie, maar sy mag! Vir Daniël het dit beteken dat die godsdienstige lewe van die volk totaal verlam sou word. Die tempeldiens en al die persoonlike Godsdienstige rituele van die Joodse volk sou in die kiem gesmoor word. Antiochus het dan ook die tempeldiens totaal lamgelê met sy gruwelike ontering van die tempel, en selfs die ding wat vir die Jode die naaste aan die hart gelê het - hulle verbondsteken, die besnydenis, is met die doodstraf beloon as hulle dit sou toepas.

Met groot belangstelling kan ons vandag sien hoedat die woorde van die engel ook op ons huidige tyd besig is om waar te word. Stadig maar seker is die “antichris” besig om sy wurggreep op die kerk van Christus vaster en vaster te trek. Een-vir-een word ons Christelike waardes by die deur uitgesmyt. Dobbelary, wat as ‘n gruwel beskou was, en onwettig was in Suid-Afrika, is opgehemel en verander in ‘n winsgewende bedryf. Prostitusie was met afsku bejeën - nou is dit algemene praktyk, en selfs hulle naam is versag om aanvaarbaar te wees: “Sekswerkers!” Pornografie word nou alledaags, en Christelike onderrig in skole is onwettig. Godsdiens word vervang deur ander dinge, en dit het op sommige plekke al so ver gegaan dat Christene ’n rariteit geword het. In Australië en Frankryk is byvoorbeeld slegs 5% van die bevolking nog Christene! Elders in die wêreld is die Christelike Godsdiens al totaal onwettig, en as ‘n Moslem ‘n Christen word, kan hy selfs met sy lewe boet. In talle lande is die verdrukking van Christene afgryslik, maar slegs enkele berigte word deurgesmokkel na die buitewêreld.

Die wêreld spoed voort teen ‘n verbysterende snelheid na die dag wanneer die mag van die kerk totaal verbreek sal wees. Die troos is egter dat op God se bepaalde tyd, hierdie dinge plotseling en onverwags sal ophou. Dit is met groot verwagting dat ek uitsien na daardie wonderlike dag!

Gebed:

Here Jesus, ek kan nie meer wag vir die dag wanneer U bepaalde tyd aanbreek, wanneer die verdrukking van die kerk sal ophou nie! Kom Here Jesus, kom asseblief gou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026