God se Beloftes Staan Vas!

23 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Beloftes Staan Vas!

Romeine 4:16-25

VIDEO | OUDIO

Tydens 'n gesprek met ‘n klompie van Sy volgelinge. sê Jesus dat as hulle aan Hom getrou sou bly en waarlik Sy dissipels sou wees, sou Hy hulle vrymaak. Hulle verstaan gladnie! Vry waarvan? Hulle is immers Jode, nasate van Abraham, en hulle was nog nooit énigiemand se slawe nie! Hoe kan Jesus hulle dan nou wil vrymaak van iets wat hulle nie bind nie? Jesus verduidelik: as jy sonde doen, dan word jy ‘n slaaf van daardie sonde. Dit sluit jou uit die huisgesin van God uit, want dan is jy nie meer vry nie. Alleen Jesus kan hulle verlos van daardie slawekettings. Hierdie verhaal is opgeteken in Joh. 8:31-40.

Vir die Jode was dit verskriklik belangrik om te kon sê dat hulle afstammelinge van Abraham was omdat dit die enigste manier was wat jy kon kwalifiseer vir God se beloftes. Ironies genoeg beroem die Moslems hulleself óók op die feit dat hulle Abraham se nageslag is. ‘n Mens sou verwag dat Paulus sou sê dat daardie beloftes aan Abraham nou nie meer geldig is nie. Die teendeel is egter waar, maar Paulus knoop hier ‘n kinkel in die kabel as hy sê dat nie alleen die Jode afstammelinge van Abraham is nie, maar almal wat soos hy glo. Alle gelowiges is dus sy kinders.

Abraham was ook maar mens en hy het ook lelik gestruikel in sy lewe. Ėén ding staan egter soos ‘n paal bo water, naamlik sy geloof. Ons kan van Abraham gaan leer watter geweldige krag daar in geloof lê! As Paulus in Rom. 1:16 die evangelie as ‘n krag van God beskryf, wil hy uit Abraham se lewe wys wat hierdie krag prakties beteken.

Baie gelowiges gaan van die standpunt uit dat die blote feit dat jy uit genade deur God gered is, jou die reg gee om nou maar net terug te sit en ‘n lamsakkige ontvanger te wees vir wie alles in die lewe op ‘n skinkbord aangedra word. As jy hierdie standpunt handhaaf, dan weet jy nie wat jy alles mis nie! Geloof in Jesus Christus gee jou toegang tot ‘n onbeskryflike krag. As jy eers daaruit begin tap, maak dit offervaardigheid en uithouvermoë in jou wakker om daardie dinge wat God vir jou wil gee in besit te neem en dit te gebruik. God gee dit vir jou!

Soms staar ons ons blind teen groot struikelblokke wat maak dat ons die handdoek wil ingooi. Abraham het hom nie laat afskrik deur sulke totaal onmenslike struikelblokke nie. God het hom ‘n groot nageslag beloof. Toe hy al ‘n honderd jaar oud was en sy vrou ook al stokoud, het hy steeds bly glo dat daar vir hom ‘n nageslag sou wees, ten spyte van Sara se onvrugbaarheid en hulle albei se hoë ouderdom.

Uit my eie lewe kan ek getuig daarvan. God het my geroep om die evangelie te verkondig. Dit was my egter nie beskore om die nodige teologiese studies te voltooi om 'n predikant te word nie en vir jare het ek gewonder oor daardie roeping. Ek kon dit net eenvoudig nie verstaan nie! Maar op Sy regte tyd het God die deure vir my wawyd oopgemaak en vir my 'n internetbediening gegee. Toe Hy my die geleentheid gee om die Woord aan duisende mense uit te dra oor die wêreldwye web, kon ek net eenvoudig nie anders as om dit met albei hande aan te gryp nie. Van die ontsaglike krag, insig en inspirasie wat God tot my beskikking stel, kan ek elke dag getuig. Vandag, 24 jaar later stroom die evangelie steeds vanuit Ballito oor die hele wêreld, nou nie meer net in Afrikaans nie maar ook in Engels. As jy maar net bereid is om op Hom te vertrou en jouself in Sy dierbare, sterk hande oor te gee, sal Hy wonderwerke deur jou verrig!

Nie almal is egter geroep as evangeliebedienaars nie. Gaan dink mooi wat jou roeping is. Moontlik is dit ‘n baie alledaagse ding soos huweliksmaat, ouer, kind, landsburger - ook hiér gee God Sy beloftes.

Hoe weet ek wat my roeping is? Bybelstudie, gebed en selfs leiding deur medegelowiges kan vir jou sê wat God vir jou in gedagte het. As jy dan seker is wat God se roeping vir jou is, moet jy absoluut alles in die stryd werp om soos Abraham daardie beloftes van God in besit te neem. En onthou: jy hoef nie op jou eie krag te steun nie! Vertrou op God om jou die krag daarvoor te gee!

En moenie jou laat stuit deur skynbaar onoorkombare struikelblokke nie. Onthou: God kan selfs dooies lewendig maak en dinge wat nie bestaan nie tot stand bring. Deur die eeue is daar talle verhale van gelowiges wat onbeskryflike dinge vermag het, bloot omdat hulle God op Sy Woord geneem het en bly glo het dat Hy Sy beloftes gestand sou doen. Kyk watter deure God vandag vir jou gaan oopmaak en wanneer dit gebeur, moenie net daar staan nie. Doen wat jou hand vind om te doen! Jy sal verbaas wees oor wat God in die geloof vir jou moontlik maak!

Gebed:

Dankie vir die heerlike beloftes wat U my gegee het, Here. Gee my asseblief die krag en wysheid om aan te hou doen wat U van my vra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026