God is Stééds in Beheer!

11 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie God is Stééds in Beheer!

Johannes 7:1-9

VIDEO * OUDIO

Die Huttefees was op hande. Hierdie fees het plaasgevind van die 15de tot 22ste van die 7de maand, Tisjri van die Joodse Godsdienstige kalender. Dit was ‘n vrolike fees waartydens niemand gewerk het nie. Almal het vir hulle hutjies gemaak van beblaarde takke. Dit moes die Israeliete herinner aan die uittog uit Egipte, waar hulle in sulke hutte moes woon. Een van die kenmerke van die fees is dat daar elke dag ‘n vuuroffer aan die Here gebring is.

Die fees het ook bekend gestaan as “Die fees van die insameling” omdat dit plaasgevind het pas nadat die oes en die vrugte op hulle arbeid ingesamel is. Dit het gepaard gegaan met groot vrolikheid. So byvoorbeeld is daar op die eerste aand ‘n ligvertoning gehou met groot kandelare. Daar is gesing, en die manne het fakkeldanse uitgevoer op die maat van musiek. Hierdie feesgedruis het regdeur die nag aangehou tot die oggend. Op die laaste dag was daar ‘n drankoffer gebring wat gepaard gegaan het met ‘n watergieting, om die dag te gedenk toe water uit die rots gestroom het in die woestyn.

Pas voor hierdie fees sou begin, het daar ‘n paar baie interessante dinge na vore gekom omtrent Jesus se bediening. Hy was op daardie tydstip in Galilea. Hy het van die Jerusalem-omgewing af weggebly, want daar het dit te gevaarlik begin word, want die Joodse leiers het Sy bloed gesoek en Jesus wou nie willens en wetens in die leeu se bek instap nie. Toe Sy broers dus by Hom kom aandring dat Hy weer ‘n slag in Judea moes gaan preek, het Jesus geweier.

Sy broers het ‘n verskuilde agenda gehad. Hulle was gladnie so opgewonde dat die Evangelie versprei word nie - dit het eerder oor hulle eie aansien gegaan. Solank as wat hulle Broer in die kollig was en groot skares gelok het, was dit ook goed vir hulle eie ego, want dan het hulle ook die aandag geniet. Hulle kon spog: “Dis my Broer daardie - die Een wat die wonderwerke doen!” Natúúrlik was hulle terdeë bewus van die feit dat Hy baie spesiaal was. Maar het hulle ooit geglo dat Hy die Messias was? Nee! Vir hulle was Jesus maar net hulle ouer Broer - hulle “Wonderwerke-Broer”.

Dit is tog so tragies dat Jesus selfs vandag nog vir baie Christene dieselfde “Wonderwerke-Broer” is. Hulle vereenselwig hulle met Hom omdat dit goed is om aan daardie Naam gekoppel te wees - dit gee jou daardie ekstra stukkie status in die lewe. Hy gaan selfs soms kerk toe om dit te bevestig en hy gee ruimskoots (in geld of tyd) vir die een of ander liefdadigheidsorganisasie. Vra jy hom egter of hy ‘n verhouding met Jesus het, dan word jy skeef aangekyk. Só ver wil hy darem nou nie gaan nie!

Jesus het vier broers gehad: Jakobus, Joses, Simon en Judas. Aanvanklik het hulle Hom as Messias verwerp. Ná die gebeure aan die kruis en Jesus se opstanding het hulle egter tot ander insigte gekom en uiteindelik het Jakobus die leier geword van die gemeente in Jerusalem. Hy skryf dan ook die Brief Jakobus. Ook Judas moes in die geloofskringe uitgestyg het, want hy het die Brief Judas geskryf. Ongelukkig weet ons vandag niks verder wat van die ander twee broers geword het nie.

Wanneer Jesus die versoek van Sy broers afwys om na Judea te gaan, verduidelik Hy vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie.” Alles was haarfyn uitgewerk in die wonderlike raadsplan van God en elke klein detail was uiters belangrik. Elke gesprek, elke ontmoeting moes plaasvind, want alles het deel uitgemaak van die groot plan wat God uitgewerk het. Ons moet dit baie deeglik besef dat Hy in volle beheer was van absoluut alles. Dit was nie maar toevallig dat daar nie blyplek was in Betlehem met Jesus se geboorte nie - God het dit so beplan en voorsien sodat die Seun van God in “skande” gebore moes word as deel van die prys wat Hy moes betaal vir die sondeskuld van die wêreld. Dit is nie maar toevallig dat die Joodse leiers Jesus so gehaat het nie. Dink net: wat sou gebeur het as hulle Hom herken het as die Messias, en Hom gekroon het as Koning? Dan sou Jesus nooit die marteldood aan die kruis kon sterf nie. Dan sou die groot versoening nooit kon plaasvind nie!

Jesus moes op presies die regte tyd op die regte plek wees. Selfs die skande om deur Sy eie dissipel verraai te word, was van uiterste belang! Dat alles moes plaasvind tydens die Paasfees, was ewe belangrik. Die ganse heelal het gefokus op hierdie gebeure. Selfs die beweging van sterre, planete en komete was van kardinale belang.

Dit bring ons by die vraag: as God daardie tyd in volle beheer was - is dit vandag steeds waar? Daardie tyd het dit gelyk asof alles skeef loop. Vandag voel dit dikwels ook vir ons asof alles buite beheer geraak het – Covid-19, die Russe wat die Oekraïne aanval! Nee, Hy is steeds in volle beheer! Ons verstaan nie altyd die dinge nie want dit is ver verhewe bo ons menslike verstand. As ons dit wil beredeneer, dan raak ons verward. Daarom kan ek en jy vandag maar net rustig wees oor die gebeure rondom ons, en wéét dat God se tyd en Sy tydsberekening akkuraat is, en dat Hy in beheer is van alles. Ek en jy kan dit nie verander nie. Ons moet net doen wat Hy van ons vra, want elkeen van ons is ‘n ratjie in die horlosie van God se tyd.

Gebed:

Here, dankie dat ons kan weet dat U steeds in volle beheer is, en dat ons daarom rustig kan wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026