God Het Jou Baie Lief!

12 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie God Het Jou Baie Lief!

Maleagi 1:2-5

VIDEO * OUDIO

Die eerste paar verse van Maleagi skok jou want daar word teenstellings gemaak en ongemaklike dinge gesê. In vers 2 kom God met 'n liefdesverklaring: “Ek het julle baie lief.”

Maar in dieselde asem sê Hy dat sy volk ongelowig vra: “Maar Here, hoe hét U ons dan lief?” Hierdie is dan ook nie 'n vraag in verwondering oor die Here se groot liefde aan hulle nie, maar 'n vraag met 'n bitter, wrang smaak in die mond.

Vandag vra ons: “Here, ek sien dan nie U liefde nie! Het U ons werklik lief? Wat dan van al die geweld wat in die wêreld aangaan? Wat van die sinnelose oorlog in die Oekraïne? Wat van die onskuldige mense wat nét die afgelope naweek koelbloedig in Soweto afgemaai is? Die wrede plaasmoorde en die onskuldige kindertjies wat feitlik daagliks verkrag en vermoor word? Waar is U liefde Here?”

Dikwels betwyfel ons Sy liefde: “Wat van al die pyn en ellende? Wat van die verskriklike armoede in so baie lande? Wat van Covid wat miljoene afgemaai het? Wat van al die mishandelde vrouens en kinders? En die onreg? Here, ek sien so min van U liefde! Kan U verstaan dat ek begin twyfel het aan U liefde?”

Hierdie bitter vrae word dikwels gevra, nie deur ongelowiges nie maar deur Christen-gelowiges. God se eie volk!

Dan antwoord die Here met 'n liefdesverklaring. Hy verseker Sy volk weer van Sy groot liefde vir hulle, al twyfel hulle soms en al struikel hulle dikwels.

Die Here se liefde vind in die eerste plek beslag in die kontrak wat Hy met ons as gelowiges gesluit het. Hy het hierdie kontrak al vroeg in die geskiedenis opgestel en dan maak Hy dit vir die eerste keer aan Adam bekend. Hy hernu die kontrak oftewel verbond talle male, onder andere met Noag en Abraham. Die finale vorm van Sy kontrak kom in Jesus. God se liefde vir ons is dus nie 'n jong liefde nie maar dateer terug uit die héél vroegste oergeskiedenis. God het ons lankal lief!

Maleagi haal die geskiedenis van Jakob aan om iets te verduidelik van God se liefde. Jakob was nie 'n engeltjie nie. Sy naam verwys na die soort lewe wat hy sou lei: hakskeengryper, bedrieër! Hy steel sy broer se eersgeboortereg en sy seën. Hy is liefdeloos teenoor sy vrou. Hy bedrieg sy pa.

Ten spyte hiervan skryf God nie vir Jakob af nie en Hy verlaat hom nooit. Hy bly liefdevol teenoor Jakob en Hy bevestig die beloftes wat Hy aan sy oupa Abraham gemaak het.

Hierdie sondige lewe van hom moet die volk herinner aan hulle eie sondige lewe. Van die vroegste tye van Israel se bestaan as volk is hulle lewe gekenmerk deur sonde. Skaars het Moses hulle uit Egipte uitgelei of die gemor en gekerm begin. Moses was nog besig om die wet van God te kry, toe verval die volk al klaar in afgodery toe hulle 'n goue kalf maak.

En ten spyte hiervan skryf God nooit die volk af nie. Hy laat hulle nie maar oor aan hulle eie lot nie, maar Hy maak bemoeienis met hulle en Hy probeer op talle maniere (soms drasties) om hulle op die regte pad te kry.

Wanneer ons hierdie gedeelte in Maleagi lees, dan is daar iets wat nie dadelik sin maak nie. Ons lees dat God vir Jakob liefgehad het, maar Hy het Esau gehaat. Nou vra ons die vraag: Hoe kan ons sê dat God liefde is as Hy vir Esau haat? En wat van Joh. 3:16 waar Hy verklaar dat Hy die héle wêreld liefhet?

Ons moet onthou dat die Here hier 'n liefdesverklaring doen aan Israel, Jakob se afstammelinge. Die fokus is dus op Israel. Só groot is God se liefde vir hierdie volk, dat Sy verhouding met Esau in kontras as haat beskryf kan word. Ons sien Sy liefde baie duidelik in Jakob se lewe. God dra hom deur alles ten spyte daarvan dat Jakob so dikwels struikel.

1700 Jaar later, wanneer die nuwe kerk van Jesus tot stand kom, sien ons nog steeds God se liefde ten spyte van die swakhede van die kerk. En oor die volgende tweeduisend jaar groei die kerk met rasse skrede tot waar dit vandag op elke uithoek van die wêreld gevestig is. Inderdaad het die kerk nie altyd gedoen wat God van hom gevra het nie. Soms het die kerk die spoor totaal byster geraak. In die middeleeue het die kerk byvoorbeeld in die Naam van God tydens die kruistogte gemoor en volke uitgeroei. Dikwels het die kerk uiters liefdeloos opgetree.

Ten spyte hiervan het God Sy volk, die kerk steeds baie lief. En ek en jy is deel van Sy kerk.

Ons moet ook onthou: God haat Edom, die nasate van Esau. Wat beteken dit? Edom versinnebeeld die magte wat hulle teen God verset, met ander woorde diegene wat Jesus se liefde verwerp. Joh. 3:16 verklaar egter wél onomwonde dat God die héle wêreld liefhet, só lief dat Hy Sy Seun gegee het, sélfs vir dié wat Sy vyande is! Almal is dus ingesluit in God se onmeetbare liefde! Daar is egter ‘n voorwaarde, dat hulle tot bekering kom en God se liefde in Jesus aanvaar.

Gebed:

Here, dankie vir U groot liefde, ook teenoor my met al my tekortkominge. Here, ek het U ook baie lief!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026