God Gee Sy Wet

11 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie God Gee Sy Wet

Eksodus 20:1-6

???? VIDEO | ???? OUDIO

Die volk staan stomgeslaan deur die dramatiese Godsverskyning. Hulle is bibberend van angs. Dan word Moses weereens na die top van die berg ontbied. Hier word hy meegedeel wat God van die volk verwag. Hy het met hulle ‘n verbond gesluit, en deur hierdie voorskrif wil Hy vir hulle sê hoe Hy verwag dat hulle sal leef. Dit is God se teologiese en etiese voorskrif aan Sy volk.

Hy begin deur Homself aan die volk voor te stel - dat Hy die Here God is wat hulle uit Egipte bevry het uit slawerny. Ons moet onthou dat die Israeliete daar in Egipte ‘n kultuur van veelgodendom beleef het. Hoeveel van hulle het nog steeds slegs die God van Abraham, Isak en Jakob aanbid? Ek glo nie daar was veel sulke mense nie. Hulle het waarskynlik dieselfde gode as die Egiptenare aanbid, want almal het dit mos gedoen! En nou, die afgelope drie maande, is hulle keer op keer herinner aan God almagtig. Die Rietsee; die water uit die rots; die kwartels; die manna elke dag - al hierdie dinge het hulle ervaar. En dan was daar nog boonop die wolk- en vuurkolom wat hulle gedurigdeur vertel het van God se teenwoordigheid. Stadigaan is hulle gekondisioneer om God te leer ken.

En nou kom God en maak dit vir hulle duidelik dat hierdie God wat hulle so leer ken het, die enigste ware God is, en dat hulle géén ander God durf aanbid nie. Hulle het duidelik gesien waartoe Hy in staat is. Deur ‘n hele reeks wonderwerke moes hulle besef dat Hy die enigste is wat kan kwalifiseer as God.

Die tweede voorskrif (gebod) wat God gee, handel spesifiek oor beeldediens. Hierdie is ‘n drieledige verbod: Geen beeld mag gemaak, vereer of gedien word nie. En met beelde word daar bedoel enigiets wat in die hemel is, op die aarde is of in die onderwêreld is. Daar is absoluut niks in die ganse skepping wat reg kan laat geskied aan die teenwoordigheid van God nie. Daardie dag by die berg het die Israeliete dit so intens ervaar, want daardie ondervinding is totaal onbeskryflik en anders as enigiets wat hulle al ooit ervaar het!.

Die vraag is of ons dalk vandag weer dieselfde paadjie moet loop as ons voorouers, en alle beelde vernietig? Nee, ek dink nie dit was God se bedoeling nie. Maar vandag moet ons dalk weer ‘n slaggie kyk na die beelde wat ons vir onsself gemaak het - nie beelde van klip en hout nie, maar beelde soos materialisme wat so ‘n geweldige groot rol speel in baie mense se lewens. Die luuksste motor; die duurste huis; die spoggerigste meubels - alles beelde van materialisme. ‘n Mens werk van vroeg tot laat - nie om te lewe nie, maar om skatte bymekaar te maak. Dan word geld vir jou een van daardie beelde waarvan Moses moes verneem.

Daar is baie ander moderne beelde ook. Dink maar byvoorbeeld aan magsbeheptheid, en nou praat ek nie eers van die politici met hulle swart motors en blouligbegeleiding nie. Ek praat van doodgewone mense wat opgang in die lewe maak deur mag te gebruik en meestal totaal misbruik! Dit kan op alle vlakke van die samelewing gebeur. In die gesin kan Pa sy mag misbruik deur nie die hoof van die huis te wees nie maar eerder die baas wat hiet en gebied, en almal moet spring en dans na sy pype. In ‘n werksituasie is die moontlikhede legio, en word werknemers dikwels geterroriseer deur ‘n tiran-baas. Maar selfs in die kerksituasie kan magsbeheptheid sy kop uitsteek - ‘n leraar of leier-ouderling wat die gemeente met ‘n ysterhand regeer sodat niemand durf waag om eie inisiatief te neem nie. Dieselfde kan ook gebeur met ander kerkleiers. Wanneer sulke dinge gebeur, dan het mag vir jou ‘n “gesnede beeld” geword. Ander “afgode” kan insluit dinge soos seks, drankmisbruik, pornografie, die internet, jou selfoon, sosiale media, partytjies en nog baie meer. As jy ‘n obsessie het met sulke dinge, is dit onmoontlik om onverdeelde trou aan God te gee.

Dan sê die Here vir Moses iets wat vir ons in vandag se omstandighede half onverstaanbaar is - dat Hy die sondes van die vaders toereken aan die kinders, tot in die derde en vierde geslag. Ons moet egter onthou dat in daardie tyd die gesinne almal saam gebly het - dikwels ‘n oupagrootjie, oupa, pa en seuns - dus vier geslagte in een tent. Indien die hoof van die huis (Oupagrootjie) nie vir God gedien het nie, was die kanse groot dat die ander lede van die gesin hom sou navolg en ook nie vir God dien nie. Vandag is dit nog steeds van kardinale belang dat die hoof (pa) van die huis God dien. Die impak wat hy het op die res van die gesin is verstommend.

Maar God se liefde is baie, baie groter as Sy oordeel. Net in die volgende versie sê Hy dat Hy liefde sal bewys tot in die duisendste geslag van diégene wat Hom liefhet, en Sy gebooie (riglyne) gehoorsaam. Reken maar self uit: As ‘n geslag 20 jaar is, en die Here hierdie uitspraak 3600 jaar gelede gemaak het, trek ons nou maar by die 180ste geslag. Hoe oneindig groot is God se liefde tot in die duisendste geslag! Ons kan Hom maar net loof en dank en aanbid as die enigste Almagtige God wat die hemel en aarde geskep het, en ons oneindig liefhet!

Gebed:

Dankie Here, dat ek U kan aanbid. Help my asseblief om totaal weg te bly van enige afgode in my lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026