Gevare van Dwaalleer

28 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gevare van Dwaalleer

Judas:10-13

VIDEO | OUDIO

Ek het oor die jare sakkevol e-pos gekry waar iemand die een of ander "saak" het wat hulle wil dryf en dan soek hulle net 'n teks om hulle saak te bevestig. So, jou "saak" lei dan eintlik die Woord in plaas daarvan dat die Woord 'n saak lei. Daar is baie voorbeelde hiervan in die wêreld. So sou daar byvoorbeel 'n sekere rasgroep wees wat dink hulle is verhewe teenoor ander rasse; sekere kerke wat hulle daarop roem dat hulle die volle waarheid het met hulle rituele en gebruike, terwyl Jesus Christus die enigste waarheid is wat vrymaak en dan gebruik hulle gepaste Skrifgedeeltes wat natuurlik totaal uit verband geruk is!

Judas waarsku dat dwaalleraars dikwels voorgee dat hulle verskriklik belangrik is en dat hulle ‘n baie hoë kennis het van die bonatuurlike. Sommige wil selfs beweer dat hulle in hemelse kringe beweeg!

In ons vorige dagstukkie het ons juis gepraat oor engele en bose magte en dat dit gevaarlike praktyk is om jou met die bonatuurlike op te hou. Een so 'n gewilde praktyk is die oproep van geeste oftewel afgestorwenes. ‘n Sogenaamde “medium” word gebruik om met die “geeste” te gesels en dan hulle “boodskap” aan jou oor te dra. Die Bybel draai geen doekies om oor hierdie dinge nie. Lees gerus maar in Deut 18:9-14 hoe God hieroor voel. Dit is een van die “afskuwelike praktyke” en God het 'n afsku in mense wat dit doen. Dit is om te heul met die duiwel en sy medewerkers! Jy kan nie God én Mammon dien nie!

Ongelukkig is dit nie net mense daar buite êrens wat die spoor so byster raak nie. Dikwels is dit kerkmense, gemeentelede wat ‘n totaal verdraaide siening het. Met ‘n vroom gesig sit hy in die kerk, maar sy optrede daar buite verklap sy ware kleure. Judas gebruik die voorbeeld van drie mense uit die geskiedenis om te wys wat die uiteinde is van mense wat dwaalleraars is. Kain is sy eerste voorbeeld: ons weet dat hierdie seun van Adam selfs offers aan die Here gebring het. Hy het God geken, want sy pa was immers ‘n diep gelowige wat saam met God gewandel het. Kain het afgedwaal en uiteindelik sy eie broer vermoor uit woede teenoor God. Sy lot was dat hy verban is. Hy het van die Here af weggegaan en sy nageslag was goddeloos (Gen. 4). Bileam is omgekoop om teen God se wil in te praat. Hy het dit nie oorleef nie! (Num. 22 en 31). Korag het in opstand gekom teen God. Sy einde was verskriklik, toe die aarde hom lewendig ingesluk het (Num. 16).

Hiermee wil Judas vir die gemeente sê dat die gedrag van dwaalleraars anders is as dié van gelowiges en hulle lot is ook anders. Hulle hoort nie in die gemeente nie en hulle uiteindelike bestemming is ook elders!

Ongelukkig werk dit so dat die gedrag van hierdie mense dikwels ook gesien kan word in die lewe van gelowiges, mense wat net aan hulleself dink. Hulle gedra hulle dikwels uitspattig en dit druis in teen die liefde van ware gelowiges. Liefde beteken dat gelowiges in ‘n eenheid saamgebind word en die onselfsugtige en opofferende liefde van Christus word in hulle optrede weerspieël. In die ware gelowige se lewe is daar nie die egoïstiese soeke na eie voordeel nie, maar sy liefde word in sy dade teenoor sy medegelowige sigbaar.

Jy hoor dikwels dat iemand brom dat die kerk absoluut niks vir hom doen nie. Niemand doen by hom huisbesoek nie. Waak daarteen dat jy nie ‘n onvrugbare, selfsugtige lidmaat word wat net die heeltyd wil ontvang en bedien wil word nie. Kerk beteken nie dat jy net op die geloofstrein saamry en die rit geniet ten koste van die “personeel” wat in die gange op en af hardloop om jou rit aangenaam te maak nie. Kerk beteken ‘n onselfsugtige, opofferende diens aan God.

In die eerste kerk het mense bymekaargekom om te aanbid en om te leer en dan het hulle uitmekaargespat en die Evangelie gaan verkondig aan elkeen wat ‘n oor het om te hoor. Hiermee wil ek nie sê dat elke lidmaat vandag die Woord moet verkondig nie. Maar elkeen van ons kan sy eie talente gebruik in diens van God om op ‘n praktiese manier die Koninkryk van God te bevorder. Sodoende maak jy nie alleen die liefde wat God aan jou bewys het prakties sigbaar nie, maar die bonus is dat jy geestelik ‘n ongekende groei beleef.

Gebed:

Here, vergewe my waar ek dikwels op my geestelike gemakstoel sit. Help my om prakties my geloof uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026