2 Timoteus 3:1-5
Raak my Mosbolletjie mos toe eendag vir my warm onder die boordjie! Beskuldig sy my (valslik!) dat ek kwansuis besig was om ‘n gevaarlike situasie te skep! Daai jare het ons ‘n boshuisie in Marloth Park gehad.
Die hele petalje het eintlik een môre vroeg begin toe ek op die stoep sit met ‘n ou kôfetjie en tuur oor die vlakte. Wel, dis presies nét die gevoel wat ek van my grasperk gekry het, ‘n groot oopte met niks op nie! Ons het baie gesukkel om ‘n ou piepklein lappie gras aan die groei te kry met die vlakvarke wat alles bly uitgrawe het. Maar uiteindelik het hy begin groei en toe ek weer sien, sit ons met ‘n groot, kaal grasperk nés ‘n dorpstuin en ek hou niks van wat ek daar sien nie! En nét daar pak so ‘n wilde gier my, dat ek later amper spyt gekry het dat ek toegelaat het dat so ‘n gedagte óóit oor my kom. Maar toe was dit klaar te laat en ek moes deurdruk!
Dit was net na ‘95 se groot reëns en die veld was ‘n lushof, ruig en groen en waar ‘n veldblommetjie bokant die lang stingels kon uitbeur, daar het hy geblom. Nét daar neem ek ‘n besluit en ek begin sommer die grasperk omdolwe van ‘n kant af en plant orals wilde graspolle. Hier en daar word sommer ‘n bossie of twee ook ingesmokkel en van pure lekkerkry plant ek veldblommetjies net waar ek 'n gaatjie kry. Man, en is daar naderhand só ‘n wilde boskasie dat ek amper op my eie werf verdwaal! ‘n Oerwoud, púre oerwoud!
Maar dis net dáár waar die huismoles mos toe amper begin en dít oor ‘n paar simpele ou graspolletjies! Ek probeer nog my óú gesellige self wees hier langs die vuurtjie daardie aand, maar Mosbolletjie bly brom. En so kort-kort dan bly sy so oor haar skouer loer na een of ander tier of leeu wat dan kwansuis uit daardie ruigtes kan uitspring. En sy is ongedurig! Dis nou mos álles mý skuld en dis ékke wat so ‘n gevaarlike oerwoud geskep het hier rég langs die braaiplek. Maar sy het self ook maar lekker raad gegee: “Daai klip sal mooi lyk dáár” en “daai kol is nog te kaal. Plant nog ‘n graspol of ‘n bossie dáár.”
Man, en toe begin dit skemer raak. Sit ons nog so lekker en gesels, toe is dit net asof iets vir my kyk. Partymaal kry mens mos só ‘n gevoel, so half ‘n kriewelrigheid hier by jou nekhare langs. Tussen die einste splinternuwe graspolle gluur twee swart ogies en ‘n blinkswart neusie ons aan. Een vir een peul hulle uit - muishondjies. Skielik kry hulle lewe en dan skarrel hulle orals oor die grasperk rond en grawe vir krieke en goggas, ál hier rondom ons.
Dit was nie lank nie, toe gooi die nag sy pikswart kombers oor ons en die boskonsert begin. Die ou wolf-met-die-mankbeen sing sy klaaglied: “Hoeeeep-hoeeeep” en Leeu brom-brom saam terwyl die boompaddatjies die hoë note tjierie-tjierie-tjierie. Van puur lekkerkry lag seekoei daar naby die groot jakkalsbessieboom jolig uit sy maag uit: “Oeemf snork-snork jugge-jugge snork” vir ‘n ver-onner-die-belt grap dat die hele bos dreun! Bokant ons skaterlag die sterretjies klokhelder!
Skielik pomp Mosbolletjie my in die ribbes met die elmboog. ‘n Ou laai van haar daardie! Nes ek lekker slaap, dan pomp sy my gewoonlik so en dan wil sy beweer ek snork. Snork! Ek? Verbeel jou! Ewenwel, Mosbolletjie pomp my in die ribbes (nie oor ek snork nie) en ek wéét hier is moeilikheid! Sy hoor iets in die lang gras, dié gras wat ek die vorige dag geplant het. My nekhare staan eintlik orent van skrik en Mosbolletjie se oë soos pierings soos sy probeer kyk.
Dan tree drie koedoes versigtig na vore uit die ruigtes. Dis omtrent net hulle reuse ore wat bokant die gras uitsteek terwyl hulle ons rustig, grootoog staan en aankyk. Skielik is die nag in die bos mooi en vriendelik en so sag soos die koedoes se fluweel-oë.
En ek fluister vir Mosbolletjie: “Hier, uit hierdie ‘gevaarlike’, wille boskasie, het nog net mooi dinge gekom! Of hoe Liefie?”
En toe doen sy dit wéér: sy pomp my in die ribbes!
“In die laaste dae sal daar swaar tye kom”, waarsku Paulus vir Timoteus. Hy skryf van die mense waarmee Timoteus elke dag mee te doene gaan kry - hulle sal selfsugtig, geldgierig, grootpraterig, verwaand, liefdeloos, bandeloos en selfs wreed wees. Sy lysie gaan aan en aan en dan lyk dit selfs erger as daardie “gevaarlike” boskasie wat ek veroorsaak het!
Lyk die lysie nie baie bekend nie? Is dit nie maar die wêreld waarin ons vandag lewe nie? “Bly weg van sulke mense af!” waarsku Paulus vir Timoteus.
Beteken dit dan nou dat ons almal wat sondig is moet vermy? Maar ons werk dan saam met hulle! Nee, ek dink nie dat dit Paulus se bedoeling was nie. Maar ons moet wél baie versigtig wees dat ons nie onsself vereenselwig met die dinge wat hulle doen nie. As ek dus uitgenooi word na ‘n geleentheid waar ek vooraf weet dat onheilighede gaan gebeur, bly ek liewer weg en ek woon nie 'n vertoning by as ek wéét dat die kunstenaar walglike dinge gaan kwytraak nie.
Maar in ons volgende dagstukkie gaan ons in meer diepte kyk na hierdie Skrifgedeelte.
Gebed:
Here, gee asseblief vir my altyddeur ‘n bly gemoed, selfs al lyk dinge soms duister en gevaarlik!