Filippense 3:1-9
Die Bos kan maar ‘n gevaarlike plek wees, veral as dit nag is. ‘n Kêrel vertel my eenmaal dat hy per geleentheid in die Kruger Wildtuin gaan kuier het in die heel noordelike deel by Shingwedzi. Daardie jare was alles nog grondpaaie in die noorde van die wildtuin. Daardie oggend ry hulle na Pafuri toe. Op pad terug na hulle kamp sak die reën uit in emmersvol. Die pad is bedrieglik en hulle sukkel om te sien waar hulle ry. Dan tref hulle ‘n groot modderpoel. Die kar gly onbeheersd en hy tref ‘n boomstomp wat ‘n gat in die verkoeler slaan. Sy seuntjie se kop stamp hard teen die voorruit, en die glas spat in duisend skerwe. En daar staan hulle! Genadiglik het dit toe darem opgehou reën.
Riël du Toit was ‘n vindingryke lugmag offisier, maar vir hierdie situasie het hy nie raad gehad nie. Hulle moes maar net eenvoudig wag totdat iemand verbykom. Maar die nat, eensame pad maak dat niemand anders hom daardie dag ry nie, en so sit hulle maar die tyd om en lees en sing en speletjies speel. Vir vier lang ure sit hulle vasgekluister in die motor, met die hoop dat daar tóg redding van êrens sou kom. En dan daag dit toe ook op om vieruur die middag in die vorm van ‘n veldwagter in sy Landrover. Riël is ‘n baie dankbare man, maar die veldwagter kan hom net sleep tot by die volgende T-aansluiting. Hy sou egter iemand stuur om hulle te kom haal met ‘n insleepvoertuig.
En so sit die Du Toit gesin weereens êrens tussen niks en nêrens in die bos. Dan sak die son, en skielik is dit pikdonker! Saam met die nag kom allerhande riller-geluide, soos ‘n trop olifante wat bitter naby lawaai en takke breek. Dit was al tienuur die aand toe ‘n baie dankbare Riël die insleepvoertuig se ligte sien. Uiteindelik is hulle marteling verby! Maar hy het nie geweet van die drama wat nog vir hom sou voorlê nie!
Die lang ure van sit in die motor het in hom ‘n drukkende nood laat opbou, en terwyl daar toe nou ander mense by is, gaan staan hy toe sommer so in die middel van die pad in die donker die nat pad nog natter en maak. ‘n Salige gevoel van verligting spoel oor hom. Maar iets is nie pluis nie - hy ruik iets baie snaaks, iets wat half stink. As hy in sy motor klim, skakel die insleepvoertuig sy ligte aan. Daar in die middel van die pad staan twee leeuwyfies en ruik aan die plek waar hy so pas sy gebied afgemerk het! Riël voel hoe die bloed uit sy kop dreineer. Hy is asvaal geskrik.
Haastig vertrek hulle op pad na Shingwedzi. ‘n Paar kilometer verder hou hulle eers weer stil, net om seker te maak dat alles nog reg is. Die twee manne klim uit en stap na mekaar toe. Op daardie oomblik weerklink ‘n oorverdowende leeubrul hier reg by hulle. Die twee spring oorhaastig terug in hulle voertuie en klap die deure toe. Reg voor die insleepbakkie staan ’n yslike maanhaar leeu! Hy stap stadig tot by die voertuig en beruik dit deeglik. Dan stap hy na Riël se motor en begin dit ook te beruik. Hy loer by die vensters in, en die arme insittendes sterf ’n duisend dode. Die flenter voorruit hang net daar op genade.
Eers na middernag kom hulle uitgeput en steeds bewerig op Shingwedzi aan. (Riël du Toit het hierdie verhaal saam met ander stories in ’n boek saamgevat: “Stories om te Vertel”).
Ja, die bos is propvol gevaarlike goed, maar ons leef in ‘n ewe-gevaarlike wêreld. Nie alleen fisiese gevare nie, maar ook geestelike aanslae wat op die gelowige neerkom. Paulus waarsku oor dwaalleraars, mense wat kwaad stig. Paulus se groot kopseer was Joodse gelowiges wat daarop aangedring het dat die besnydenis en al die ander ou Joodse rituele wette steeds onderhou moes word. Dit was ‘n dwaling wat beteken het dat Jesus se vryspraak nie nodig was nie. Jy kon dus vryspraak verkry deur die wet te onderhou! Alhoewel hierdie dwaling vandag steeds deur sommige nagevolg word, is daar vandag ander soort dwalings wat ewe gevaarlik is.
Jy word geleer dat jy in die wildtuin nie uit jou motor klim nie, want iets kan jou opvreet, vra maar vir Riël du Toit! Net so moet jy wegbly van hierdie dwaalleraars af, want jy kan maklik in hulle web vasgevang word, en dan is dit te laat! Moenie eers met hulle probeer redeneer nie, want jy sal beslis tweede-beste daarvan afkom. Ek het al, selfs na dééglike voorbereiding, sulke dwaalleraars aangepak. Dit was absoluut nutteloos! Vir elkeen van my argumente het hulle tien terug gehad! Ignoreer hulle eerder heeltemal, en fokus op wat belangrik is.
Wat is dan belangrik in die lewe? Die vryspraak wat God gee deur Jesus Christus. Glo dit en leef dit ten volle uit met groot blydskap en vreugde. “Ek beskou alles as waardeloos”, skryf Paulus borrelend van vreugde, “want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (Filip 3:8).
Gebed:
Here, hou my asseblief nugter en waaksaam teen die aanslae van dwaalleraars, en vul my met U onbeskryflike vreugde.